Shakespeare se fenomenale Hamlet is nog net drie keer in Afrikaans gesien. In 1947 speel die teaterlegende André Huguenet die naamrol wat daaropvolgend vertolk is deur Cobus Rossouw (1973) en Marius Weyers (1989). In die première van die dokudrama Kind Hamlet word Hamlet aangewend as die spil waarom dié innoverende produksie draai. Marthinus Basson noem in sy regisseursnota dat sy droom om ’n produksie van Hamlet van die grond af te kry, gesneuwel het op die slagveld van finansiële realiteite.
Die problematiek rondom ’n produksie van Hamlet kring voor die oë van vol sale by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees uit tot die variëteit van die problematiek van die Suid-Afrikaanse teaterbedryf. Kind Hamlet is teater oor teater, waarin die jong akteur Ludwig Binge aan die voete van die veteraan-teaterpaar Cobus Rossouw en Sandra Kotzé gaan sit as deel van sy instudering van Hamlet. Rossouw en Kotzé se spel is só spontaan en moeiteloos, en altyd meesterlik, dat jy maklik kan vergeet jy kyk na ’n toneelstuk en voel asof jy skelm by ’n repetisie ingeglip het.
Kind Hamlet is deels huldeblyk aan die veterane, ode aan en pleidooi vir die teater, onderhoud, repetisie, gesprek, kommentaar, mentorsessie en opvoering van gedeeltes uit Hamlet. In laasgenoemde word Claudius vertolk deur Rossouw en die koningin deur Kotzé; Binge speel die rol van Hamlet, en die jong akteur Roelof Storm neem kleiner rolle aan.
Op die oog af kom die Marthinus Basson-stel eenvoudig voor, met minimale dekor: ’n lang wit tafel, ’n paar stoele, twee silwer glase, twee hopies boeke en ’n TV-skerm en grootskerm wat agter die akteurs opgestel is. Soos die produksie ontvou, word die gehoor interaktief betrek by die stel wat op diverse wyse geïmplementeer word. Die tafel word die plek waar daar gerepeteer word, waar die deurlees van die Hamlet-teks en die voer van onderhoude afspeel, maar ook die tafel waarby Hamlet, Claudius en die koningin soms aansit. Die skerms is deel van ’n multimedia-proses, waarop daar onder meer vertoon word wat Roelof Storm tydens die produksie verfilm: soms fokus hy op Cobus Rossouw se gesigsuitdrukkings of die beweging van sy hande; soms word die notas op die akteurs se tekste vertoon; soms ’n hand wat omblaai. Die skerms word ook aangewend om beelde te vertoon, soos swart bome teen ’n rooi agtergrond, die beeld en geluid van applous soos die akteurs op die verhoog kom, twee silwer glase, die kroon uit Hamlet, en ook later die ontoereikende begroting van ’n Hamlet-produksie.
Verskillende perspektiewe op die teaterbedryf van die verlede, hede en toekoms word deur die gevarieerde aanbieding en briljante ontwerp van Kind Hamlet belig. Basson is hiervoor benoem vir die Beeld Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk. Sy gesoute regisseurshand en toneelgeselskap slaag daarin om die produksie as ’n afgeronde geheel saam te bring.
Rossouw en Kotzé deel staaltjies van vorige produksies en die bestaan van toneelgeselskappe – ’n fees vir die oor van die teaterliefhebber. Binge en Storm vertel van die opvoeringsgeskiedeis van Hamlet. Hulle besin ook as jong akteurs oor hulle plek binne die toneelbedryf en lewer ’n pleidooi vir kundige akteurs en gehore wat die teaterkuns respekteer. Daar is tonele wat jou mond laat oophang: wat ’n voorreg om te hoor hoe Cobus Rossouw ’n monoloog uit Hamlet voordra of hoe Sandra Kotzé die jong Binge in die monoloogkuns afrig.
Soos Hamlet die spieël voor die koningin hou om haar tot introspeksie te dwing, bring Kind Hamlet die gehoor daartoe om te bepeins oor die groot vraag wat gestel word: “Wat is die toekoms van die Suid-Afrikaanse toneelbedryf?” Dan kom die antwoord van Ludwig Binge: “Elke generasie vra dieselfde vrae” – ’n voortgaande proses, net soos Hamlet se oneindige interpretasiemoontlikhede.

