Bartho Smit (1924–1987)

  • 0

Gebore en getoë 

Bartho Smit is op 15 Julie 1924 op Klerkskraal langs die Mooirivier in die distrik Ventersdorp in die ou Wes-Transvaal gebore. Hy het grootgeword op Standerton langs die Vaalrivier. Sy pa was ’n polisiesersant en hy het nie ’n boekbewuste huis grootgeword nie. Tog het die jong Bartho Nietzsche en Dostojewski gelees. Sy vader het wel toneel gespeel in die plaaslike amateurgroep en hy het geglo dis waar sy belangstelling vir die toneel ontstaan het.

As standerd 8-seun het Bartho sy eie toneelvereniging gestig. Hy was op skool ook ’n uitstekende atleet en was op sy dag die Suid-Afrikaanse juniorkampioen in paalspring en werpskryf, en dié (het hy aan Aletta Greyling (Oggendblad, 15 April 1975 vertel) het hom toe glo ’n bietjie van ’n kop laat kry.

“Ek was op Standerton op skool en – om my egoïsme nog meer aan te wakker – begin ek toe mos ook gediggies skryf en dit was meer as wat enige skoolseun sonder geswollenheid mee kon saamleef. Op ’n dag het ons toe groot skolesport op Lydenburg en ek is saam as die vorige jaar se paalspringkampioen. En nog digter, moet jy weet. Daar gekom, besluit ek dat, groot kampioen wat ek is, ek nie sommer van die begin af saam met die moppie gaan spring nie. Ek sou eers op nege voet begin. Ek is mos die kampioen.

"Toe die dwarslat op nege voet is, het ek my nonchalant reggemaak en gespring, maar ek stamp die lat af. Maar ek het mos nog twee spronge oor en ook dié het ek verbrou. Hoe syn de helden gevallen. Ry die hele ent na Lydenburg saam en kom dan met die kous oor die kop terug met die mislukte spronge. My Afrikaanse onderwyser sê toe vies vir my: Kyk jy kan nie aan sport deelneem en gedigte ook skryf nie. Los die gedigte.”

As jong seun wou Bartho bokser word en in sy jare op hoërskool leer hy die sweet, die harpuis, pyn en oorwinning van die amateurkryt goed ken.

Toe hy nog op skool was, het hy begin beeldhouwerk doen. Hy het aan Aletta Greyling vertel dat hy "Michelangelo in my vingerpunte begin voel tintel het. Ek het besluit om Langenhoven se beeld uit klip te kap. Vir my was dit ’n grootse werk en terwyl ek besig was aan die laaste afronding, het ek ’n stukkie van Langenhoven se snor afgebreek. As dit my eie been of arm was, kon dit my nie groter getref het nie. Verdwaas het ek die snor met klei, met sement, met enigiets probeer vasplak. Niks het gewerk nie. Die beeld was geskend en iets in my het ook gebreek. In ’n vlaag van woede het ek ’n byl gevat en die hele beeld flenters gekap.

“My suster het my probeer aanmoedig om weer van nuuts af te begin, maar ek wou nie. Miskien het ek toe reeds onbewus vermoed wat ek later as skrywer noodgedwonge moes leer aanvaar: Dat daar altyd op die laaste oomblik ’n snor of iets afbreek.”

Bartho het op Standerton gematrikuleer.

Verdere studie en werk

Na skool is Bartho na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1949 sy BA-graad behaal het en in 1951 sy MA. Hier het hy voortgegaan om die toneelvereniging van die universiteit aan die gang te hou. In 1945 het hy drie kort eenbedrywe vir die universiteitsvereniging geskryf en een van hulle was Moeder Hanna. Hierdie kort werke is egter nooit opgevoer nie.

Na hy sy MA voltooi het, het hy in 1946 by Die Vaderland aangesluit, waar hy eers algemene verslaggewer was en later kunsredakteur en teaterkritikus geword het. Dit was hier waar hy sy vrou, Kita Redelinghuys, ontmoet het. Sy was ’n jong onderwyseres wat ook aan talle amateur-toneelproduksies deelgeneem het.

Bartho het hom aan die Universiteit van Stellenbosch vir sy doktorsgraad ingeskryf en hy en Kita het in 1952 na Europa vertrek om verdere navorsing vir sy proefskrif te doen. Hy het egter sy doktorale studie laat vaar en hom toegespits op ’n studie van die teater en van toneelregte. Hy het in Parys verder gestudeer en ook daar het Kita in verskeie verhoogproduksies verskyn. Bartho het ook in München en Londen verder in die filosofie studeer. In München het hy vir ’n jaar as leerling-regisseur by die Stadsteater gewerk. Omdat die “Nuwe drama”, wat onder meer die teater van die Absurde insluit, in die jare vyftig reeds in Europa beslag gekry het, kon hy hier eerstehandse kennis opdoen van moderne teatertegnieke soos verstrengeling van tye en doeblering van rolle. Hiermee eksperimenteer hy later in sy eie werk en lewer sodoende ’n groot bydrae tot die vernuwing in die Afrikaanse dramakuns.

Terwyl hy in Europa was, was hy buitelandse korrespondent vir Dagbreek en Sondagnuus. Die egpaar het in 1957 na Suid-Afrika teruggekeer en met sy terugkeer is hy aangestel as subredakteur, kunsredakteur en teaterkritikus vanDagbreek en Sondagnuus.

Bartho het vertel dat hy kort na sy aankoms in Europa ’n belangrike les geleer het deur die digter Henri Michaux te lees. “Elke gedig wat ek geskryf het, was ’n nuwe begin.” Dit het toe Bartho se ideaal geword, om as hy ’n stuk skryf, “van nuuts af te begin” – om te skryf asof niemand anders nog ooit iets geskryf het nie.

In 1962 is Bartho aangestel as uitgewer by die Afrikaanse Persboekhandel en in 1964 het hy bestuurder van Algemene Publikasies geword. Nadat Afrikaanse Persboekhandel deur Perskor oorgeneem is, het hy letterkundige uitgewer van Perskor geword. As uitgewer by Perskor was sy oordeel veral in twee gevalle van groot belang. Nadat DJ Opperman, wat vir Tafelberg en Human & Rousseau gekeur het, Breyten Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet en Ingrid Jonker se Rook en oker afgekeur het, het Bartho vir hierdie debuutbundels geveg en hulle gepubliseer gekry.

Hy was stigter van Sestig, asook redakteur en redaksielid, en ook stigterslid van Kol. In 1983 het hy ná 37 jaar diens by Perskor uitgetree.

Bartho het reeds vroeg in tydskrifte gepubliseer en in 1950 het hy as digter gedebuteer toe sy bundel Mure deur Unie-Boekhandel in Pretoria gepubliseer is. Hierdie bundel is in vier afdelings ingedeel en volgens Die Vaderland is sy talent "sterk liries en het hy ’n goedgevormde gevoel vir musikaliteit en vorm. Een van die gedigte, 'Beatrys', wat op die Middeleeuse verhaal gebaseer is, het hy in epiese trant geskryf en is heel verdienstelik. Dit is egter veral in die korter gedigte met ’n afgeronde vorm waarin sy talent goed tot sy reg kom. Hiervan is daar ’n hele aantal in die bundel. Voortreflik is ‘Kastalia’ en ‘Nagbesoek’. ’n Uitstekende sonnet soos ‘Moses’ bewys dat die digter vormbeheer sowel as geslotenheid van hom verower het. Hy kan hom fyn inleef in toestande en skrywe dikwels ’n suiwer stemmingsvers. (...) Die grondgevoel in die bundel is die digter se eensaamheid en die mure of grense waarteen hy aanstoot en waaruit hy nie bevry kan raak nie. Bartho Smit se eerste bundel is vol belofte.”

As dramaturg het hy in 1951 gedebuteer met Meisies van vervloë jare, ’n eenbedryf. Dit is in 1959 as voorprogram tot Moeder Hanna deur die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) aangebied met studente in die rolverdeling. Volgens ’n kritikus was dit jammer dat studente gebruik is vir hierdie “klein juweel”, want beter afrigting en beter speelsters sou van die stukkie ’n aangename voorspel gemaak het tot teater wat ’n mens aan die skouer geruk het.

Meisies van vervloë jare is in 1956 opgevolg met Moeder HannaMoeder Hanna is gedurende 1954–1955 geskryf toe Bartho in Europa studeer het. Nel Erasmus het in die huldigingsbundel Bartho as volg vertel: “Bartho het nuut kom leef hier (Parys), ander maniere van geluk en seerkry leer ken. Die moederfiguur wat later as Moeder Hanna bekend sou staan, moes ook hier aanpas, sy moes meer begrypend word. Haar wêreld moes anders omlyn word.

Moeder Hanna het hy uit Suid-Afrika met hom saamgebring, maar dit was reeds ’n ander Bartho wat gepraat het en wat haar later hier sou herskryf. Hy het die eerste keer vir my uit haar voorgelees in Joubertpark, lank voor ons vertrek uit Johannesburg. Moeder Hanna het destyds, as ek reg onthou, die twee Engelse soldate in die solder toegesluit en die huis aan die brand gesteek.

“Nou, in Parys, was dit al ’n totaal ander drama – ’n versdrama waarin daar ’n liefdesverhouding was tussen Maria en een van die Engelse soldate. Maar hy was nog nie tevrede nie en het die stuk weer van voor af begin skryf.”

Bartho het vertel: “Moeder Hanna was ’n groot sukses. En dit sou die maklikste ding in die wêreld vir my gewees het om vir die res van my lewe Moeder Hannas te skryf. Maar watter sin sou dit gehad het om nog stukke oor die Boere-oorlog te skryf? Jy mag jouself nooit herhaal nie. Dis dié wat ek toe ’n nuwe rigting ingeslaan het en aan Die verminktes begin skryf het. Ek weet tot vandag toe nie of ek die regte ding gedoen het deur uitsluitlik dramaturg te word nie. Ek is nie seker of ek nie dalk ’n verskeidenheid genres moes beoefen het nie.”

Die kritikus van Die Vaderland (18 April 1963) het geskryf: "Moeder Hanna kan aan die een kant gesien word as ’n poging om die wording en wese van die Boerenasie in ’n simbool daar te stel – soos Totius dit in sy beeld van die doringboompie gestel het – en deur middel van karaktertekening en woordgebruik die Boer in die letterkunde vas te lê. Aan die ander kant is die stuk ’n filosofiese eksperiment in die moderne doodsproblematiek – ’n probleem wat in die hedendaagse wysbegeerte uiters aktueel geword het.

“In dié verband stel Moeder Hanna die vraag na alle mislukte opstande en veldslae, naamlik of die oorblywendes moreel die reg het om ’n saak gewonne te gee waarvoor die ander reeds met hulle lewens betaal het. (...) Dit is hierdie angs vir ’n dood sonder betekenis wat Hanna, die Boerevrou wat haar seuns in die Tweede Vryheidsoorlog verloor het, aandryf om soos ’n dobbelspeler die laaste sent in te gooi in ’n poging om daarmee te wen wat sy reeds verloor het. (...) Om hierdie probleem het Bartho Smit ’n vrouekarakter geskep wat deur kenners beskou word as een van die aangrypendstes wat die Afrikaanse letterkunde tot dusver voortgebring het.”

Die stuk is deur M du Toit in Engels vertaal en is in 1963 deur die Engelse diens van die SAUK in die program Playhouse aangebied met Anna Neethling-Pohl in die rol van Moeder Hanna en die regie deur Cecil Jubber.

Voordat Moeder Hanna in boekvorm uitgegee is, het dit in sy geheel in Standpunte verskyn, wat ’n onderskeiding op daardie stadium was wat min dramaturge te beurt geval het. Daarna het dit in ’n radio-opvoering bewys gelewer van die “onbesproke plek [daarvan] in die Afrikaanse drama-literatuur”. Dit is in 1956 onder spelleiding van Aletta Gericke vir JAATS opgevoer met Milla Louw in die titelrol. Die ander spelers was Marie Tredoux (as Marie, die dogter), Billy Pretorius (as Bart, Hanna se eggenoot), Dawid van der Walt (Ouboeta) en Floris Mosterd (Oupa Harmse). Dit is in 1959 deur die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) se Kamertoneel opgevoer onder spelleiding van Bartho self.

Feitlik al die kritici was dit eens dat Moeder Hanna ’n grootse toneelstuk is. En dat dit veral in hierdie tweede opvoering te danke was aan die kragtige regiewerk van Bartho self. Ulrich Stark het in Dagbreek (17 Mei 1959) geskryf dat die skrywer se eie regie die kroon gespan het. “Teen ’n keurige, ‘egte’ decor, tot in die fynste besonderhede versorg, het mnr Smit sy boodskap van bitterheid, obsessie, vuur en hoop met woord en handeling laat lewe. Karakterisering, groepering, gebare, wisselinge van tempo – alles het die stempel van egtheid en krag gedra. Hier is geen opvoering met die gewone asperientjies en geykte maniertjies nie; hier is werklik lewende drama.” Die Transvaler het die feit dat Bartho self regisseur van Moeder Hanna was, as ’n voorwaartse stap beskryf wat ook in die Afrikaanse toneel die ou-ou tradisie ontwikkel dat ’n skrywer die verhoog deur en deur leer ken.

Vir MPO Burgers in Die Huisgenoot (7 Augustus 1959) was Moeder Hanna, "ten spyte van enkele tekortkominge, naas Grosskopf se Oorlog is oorlog een van die mees gekonsentreerde en betekenisvolle dramatiese werke oor die Tweede Vryheidsoorlog geskryf is. Grosskopf se eenbedryf is ’n suiwer tragedie van menslike waardes, terwyl Smit s’n uitreik, deur ’n martelende worsteling met die doodsproblematiek, na nuwe hoop."

In Die Taalgenoot (Oktober 1959) het Vulpen as volg geskryf: "Ons het hier eintlik met ’n dramatiese teks te doen waar ons nie die botsing aanskou nie, maar net sy ontvouing saamgetrek in een karakter, Moeder Hanna. Hy het gevoel dat die bou heg is, die taal keurig en soms poëties gekonsentreerd en beeldend. Hy was ook diep beïndruk met die besonder netjiese uitgawe."

WEG Louw (Die Burger, 31 Julie 1959) het sy resensie van die boek so afgesluit: “Hierdie stuk, met sy suiwer dialoog – suiwer in dié sin dat mense werklik só praat, maar meer: dat hul woorde ook die byna onbewuste draers van karakteruitbeelding, stemming en dramatiese idee word – sal nog baie spelers vind. Één staaltjie wat dit tipeer, is die skitterende voorbeeld van dramatiese ‘understatement’ in die slotreëls: ‘Gee hulle vrede, Pa. Ons het ons saad in die grond – die oes sal ons s’n wees ... Maria, bring vir my ’n kom water, my kind. En sê vir die Engelse hulle moet loop. Ons had genoeg van hulle.’”

Moeder Hanna was in 1975 saam met Bart Nel van J Van Melle en Dolf van Niekerk se Die son struikel voorgeskrewe werke vir Transvaalse skole. Truk het die werke in ’n skoleprogram opgevoer en het al 63 skole besoek toe die Transvaalse Onderwysdepartement besluit het om die opvoerings te staak. Geen redes vir die besluit is deur die Departement verskaf nie.

As Sestiger het Bartho dikwels polities omstrede temas in sy dramas aangepak, wat veroorsaak het dat die opvoerings van baie van sy stukke ’n paar keer afgelas is.

Die verminktes word in 1960 gepubliseer en is in 1977, sewentien jaar na dit gepubliseer is, vir die eerste keer deur Truk opgevoer. Hierdie stuk is in 1960 in Engeland onder die titel The maimed opgevoer en is met die gesogte Encyclopaedia Britannica-toekenning bekroon. Oor die opvoering van The maimed in die Royal Court Theatre in Londen op 27 November 1960 het The Star geskryf dat dit baie entoesiasties deur ’n vol saal ontvang is. “This was a single performance without decor. But it is a distinction for the play to have been selected at all for what are now fairly celebrated Sunday night performances in this theatre by the English Stage Society.”

Die verminktes is in 1959 aan die NTO voorgelê. Hulle het besluit om dit op te voer, maar het ’n paar maande later koue voete gekry. Daarna is dit nie weer in Suid-Afrika op die planke gebring nie, totdat dit in 1977 op Truk se program van aanbiedings geplaas is. Bartho het dit egter ingrypend herskryf – dit is ’n nuwe teks en nie net ’n herskryf nie.

"Die oorspronklike proloog, drie episodes en naspel is uitgestryk tot vyf episodes, wat dit ook na die uiterlike indeling uitwys in die rigting van die tragiese," volgens André P Brink (Rapport, 23 Januarie 1977).

“Die essensiële gegewe bly behoue: die vooraanstaande senator Bart Harmse het indertyd se buite-egtelike seun by ’n bruin vrou oorgeneem en self grootgemaak, saam met sy stiefdogter; nou keer die seun as briljante geleerde terug om ’n aanstelling aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit te aanvaar, en dit blyk dat hy en die dogter mekaar liefhet; teen Harmse se bitter verset in trou hulle stilletjies – maar in die brandende lig van die onthulling omtrent Frans se ‘basterskap’ word die verhouding vernietig.

“Die grootste verskil lê by die afloop: vroeër het Harmse sy seun gekastreer en daarmee ’n parallel vir die ou Abélard-en-Heloïse-verhaal geskep (destyds wás die dogter se naam ook lastig-simbolies Heloïse gewees). Tans is die ontmanning vergeestelik: dit is nie vir Harmse nodig om sy seun te ‘sny’ nie – dit is genoeg om hom uit te lewer aan die werklikhede van ’n onverdraagsame gemeenskap en aan die kondisionering waarbinne sy stiefdogter (nou heet sy Elize) grootgeword het. Daardeur is sy impotensie vererger tot ’n bestaansonmoontlikheid. Dit dryf Elize tot selfmoord. En in ’n sterk, skokkende slot sien ons Frans wat met doelbewuste wrangheid terugkeer na die Kaapse taal van sy jeug: ‘Ma’ die mêem hoef nie sêd te wies oor die castration nie – kôs why, da’ wag nou ’n white future vi’ haar ...’

“Dwarsdeur die stuk word mens getref deur die skerp dramatiese eerlikheid waarmee Smit sy hersienwerk gedoen het: om oorbodige filosofering en melodrama af te stroop en die stuk vaartbelyn en daardeur killer en onontkombaarder te maak.”

Volgens Brink is die stuk is sy herskrywing sterker as die oorspronklik een, maar steeds is dit perfek nie - "daar het in die laaste oomblikke van die stuk ’n prekerigheid ingesluip en daar is nog ’n neiging, enersyds, tot ’n stuk wat te veel 'gevalle-studie' word en andersyds tot betreklik vlak veralgemening: die karakters staan nie in hul volle menslike waarheid onthul nie en die situasie mis die grootse kompleksiteit wat daarin ontdek sou kón word. Maar Die verminktes is ongetwyfeld ’n ontstemmende en belangrike stuk vir vandag (1977), en die opvoering van hierdie nuwe teks behoort ’n ‘gebeurtenis’ te wees: hopelik sonder die belaglike manewales wat stadsrade en ander instansies in die jongste tyd uitgehaal het om Truk in die wiele te probeer ry.”

Don Juan onder die boere is in 1960 gepubliseer. Dit is in 1890 in ’n plaashuis gesitueer. Die boeremense in die toneelstuk dreig om die Don te kastreer en as gevolg daarvan was die stuk nie sonder sy “dramas” nie. Dit is aan die NTO voorgelê en in 1958 is besluit om die Bloemfonteinse Stadskouburg met die stuk in te wy. Bartho sou self die regie behartig. Maar ter elfder ure het die een of ander skouburg-komitee besluit die ontmanningstoneel in die laaste toneel is ’n raps te onbeskaaf vir so ’n geskiedkundige gebeurtenis en is die opvoering gekanselleer. Die stuk sou byna dertig jaar lê voordat Truk dit in 1985 onder regie van Francois Swart opgevoer het met Arnold Vosloo in die titelrol.

In 1961 moes die nuwe Johannesburgse Stadskouburg ingewy word en Bartho lê sy pasvoltooide Putsonderwater voor – nie omdat hy wou nie, maar omdat hulle hom gevra het om sit te doen. Dit word afgekeur omdat “iemand” ontdek het dat die kleurling, Asgat, die vader van Maria se kind is. Sewe jaar het verbygegaan sonder dat enige beroepsgeselskap daaraan wou raak. Dit is egter in 1968 met groot sukses in België vir ’n jaar lank deur Volksteater Vertikaal opgevoer en is bestempel as die beste drama wat in die teater se tienjarige bestaan daar opgevoer is. In 1969 het Sukovs Putsonderwater  voor ’n uitgesoekte gehoor opgevoer, maar in 1970 op die nippertjie besluit om eerder Moeder Hanna aan te bied. Kruik het in 1970 besluit om dit op te voer en het Bartho gevra om die regie te doen. Maar met Bartho reeds in die Kaap en die spelers gekontrakteer, het die administrateur van Kaapland ingegryp en die opvoering verbied. In 1968 het die Departement van Afrikaans-Nederlands van Rhodes Universiteit in Grahamstad dit opgevoer. Die regisseur was Abraham de Vries. Dit is ook in die Operahuis in Port Elizabeth deur Johan Mocke opgevoer, en in 1981 deur Truk.

"Putsonderwater is ’n klein dorpie êrens, afgesny van die ganse wêreld deur die uitgestrekte woestyn. Die karakters is Maria, haar vader Jan Alleman, ’n kleurlingseun met die skeldnaam Asgat, die koster, sersant, dokter en dominee – almal ou manne. Nou kom dit so dat Maria ’n kindjie verwag. Sy is saam met al die ou manne gesien en haar vader verdink dokter, sersant en predikant. Elkeen meen in sy hart dit is sy kind, dus is al drie ewe sondig en skuldig. Maria neem in haar nood haar toevlug tot die dominee, want hy het beloof om haar na die Goudstad te neem. Sy word egter bang vir hom en probeer vlug. ’n Worsteling ontstaan en hy val per ongeluk in die put. Om seker te maak dat hy dood is, laat Maria ’n groot klip op sy kop val. Sy bely dat sy hom doodgemaak het, maar niemand wil haar glo nie en uiteindelik word die kindjie nie meer haar nood nie, maar haar verwagting en sien sy hom as moontlike redder en verlosser van Putsonderwater, haar wêreldjie in die woestyn," som Anna van Zyl (Volksblad, 18 April 1963) die verhaal op.

Volgens Van Zyl het Bartho in hierdie drama weggebreek van dinge soos "tradisionele onderwerpe, die uitbeelding van enkelmenslike belewenisse, na die universele en omvattende. Hy reik na ’n tema met kern, met diepte, wat ’n mens tot nadenke stem; wat jou selfgenoegsaamheid verskeur; wat jou binne toe laat kyk, want die simboliese karakters in dié drama is ook soos dit by nadere betragting blyk. Dit is ons almal. (...) Dit het ’n kragtige, ingrypende en aktuele tema. Omdat die drama nie in die sigbare werklikheid bestaan nie, omdat dit ’n verbeeldingstuk is, moet die vorm noodwendig afwyk van die gewone.

“Die werklikheid is onwerklik, die vorm is hierby aangepas. Die drama word hier as selfstandige kuns benader. Die tyd beweeg met groot spronge, volkome onrealisties. Die taal word eenvoudig en prikkelend aangewend om beelde voor jou op te roep. Dit bly nie net ’n opeenstapeling van woorde vir die oor nie, maar dit gee gestalte aan die onwerklike sodat met die oog gesien en met die hart verstaan word.”

Chris Barnard het in Insig van Julie 1989 geskryf dat Bartho in die middel van die sestigerjare ’n mismoedige skrywer was. "Daar was idees, maar die lus om te skryf was weg. Die een idee ná die ander is laat vaar omdat hy by voorbaat al geweet het dit gaan teenspoed kry. Die man met die lyk om sy nek is in 1966 geskryf – uit radeloosheid en net om iets op die planke te kry. Nog voor dit in druk verskyn het, is dit deur Truk aangebied met Cobus Rossouw en Louw Verwey in die hoofrolle en Ricky Arden as regisseur. Kort na ’n toneeltoer het daar talle versoeke van amateurgroepe gekom om die stuk op te voer. In 1969 is dit deur Sukovs in die Bloemfonteinse Stadskouburg aangebied.

"Die man met die lyk om sy nek is ’n komedie-riller vol spanning en humor. Paul Barnard, ’n joernalis wat sukkel om sy salaris aan te vul met skryfwerk en wat droom van die dag wanneer hy finansieel so onafhanklik sal wees dat hy al sy tyd aan skeppende skryfwerk kan wy, se vrou, Annette, erf R300 van ’n skatryk oom. Paul is bitter teleurgesteld, want dit kon maklik R300 000 gewees het. Annette is egter tevrede, want sy kon ’n nuwe pelsjas koop, en bowendien wil sy graag sien dat Paul deur eie arbeid en die nastreef van ’n ideaal sy eie sukses behaal. Sy en twee vriende vier die geleentheid deur na die teater te gaan waar ’n stuk Die man met die lyk om sy nek opgevoer word. Die teleurgestelde en iesegrimmige Paul bly tuis om te skryf. Later gaan sit hy by die kaggel en dan begin ’n prikkelende intrige. Wat as ’n blote grap begin, kry verwikkeling op verwikkeling, telkens ’n keersy, grappig en ook grimmig-ironies. Die oplossing en verklaring is verrassend, oortuigend en bevredigend," volgens PD van der Walt in Die Taalgenoot (November 1967)

Die Departement Drama van die Universiteit van Pretoria het in 1990 met hulle 25ste herdenking Die man met die lyk om sy nek opgevoer met Carel Trichardt as Bulhond. Dit het saamgeval met ’n Unisa-beraad oor Bartho. Bartho het vertel dat hy self baie lief vir Bulhond was. “Hy is ’n gewetenlose boelie, maar het ’n sagte hart en is soms die dierbaarheid self. Hy is gou om sleg te voel oor die kwaad wat hy gedoen het, en probeer dan troos. Die man met die lyk om sy nek is ’n suiwer ontspanningstuk, ’n moordkomedie, maar ook ’n eksperiment in dieptepsigologie. ’n Koerantberiggie oor ’n man in die buiteland wat sy vrou eers laat verseker het en daarna laat vermoor het, het hom op die idee van die intrige van die stuk gebring."

Die man met die lyk om sy nek is in 1986 vir televisie verwerk en is op TV1 uitgesaai met Danie Odendaal as regisseur. Louw Verwey het op televisie die rol van Bulhond vertolk, net soos met die eerste opvoering van die stuk.

Christine (1971) is in opdrag van Kruik geskryf as openingstuk vir die Nico Malan-teater. Bartho sou weer self die regie behartig met sy vrou, Kita Redelinghuys, in die naamrol. Maar weer het die administrateur van Kaapland ingegryp en die opvoering afgelas. In 1973 het Truk vir die soveelste keer tot Bartho se redding gekom en die stuk opgevoer. Die administrateur van die destydse Transvaal het die opvoering laat voortgaan, maar eers nadat hy die teks “gesuiwer” het van sekere woorde en handelinge: kragwoorde (God en hoer) moes byvoorbeeld vervang word; die gekruisigde Christusbeeld wat die klooster moes voorstel, moes weg; ‘n jong Christine kon nie in skamele onderklere verskyn nie; en Paul Harmse moes nagklere oor sy onderbroek dra.

"Paul Harmse is ’n skilder," het Abraham de Vries in Die Huisgenoot (3 Desember 1971) geskryf. "Hy is egter voortdurend besig om sy hede op te offer aan ’n skuldlas wat hy op hom gelaai het toe hy in die Tweede Wêreldoorlog sy vrou, Christine, ’n Jodin, teenoor ’n SS-er, Günter, verraai het. Sy was in ‘arbeidskampe’, maar het dit oorleef en van ná die Oorlog af na hom gesoek. Sy vind hom telkens en haar liefde (wat hy nou ervaar as iets versmorends) maak sy skuldgevoel tot ’n bestaansangs, juis as gevolg daarvan dat sy hom heeltemal vergewe, dat haar liefde se lankmoedigheid en verdraagsaamheid geen einde ken nie, méér word as die caritas waarvan Paulus (in die Bybel) praat – ja, eintlik die allure aanneem van Christus (vide ook haar naam). (...)

“Wie teen Paul Harmse se redenasies besware het, moet net onthou dat Christine in die eerste plek ’n drama is, geen teologiese geskrif nie. (...) Ek het Christine ’n mono-drama genoem. Daarmee bedoel ek dat Paul Harmse eintlik glad nie die tradisionele hoofkarakter is in ’n situasie wat op die verhoog afspeel nie, maar dat wat op die verhoog afspeel, vergestalting is van ’n drama wat in Paul Harmse sélf afspeel. Die doeblering van rolle (die Meisie en Magda; en die Man in sy verskillende verskyningsvorms), die spel met verskillende tye en plekke, met werklikheid en ‘droom’, dit alles is funksionele verhoog-vergestaltings van hierdie drama in Harmse se binnewêreld.

“Dit bring my by die belangrikste kenmerk van hierdie drama: dit is geen leesdrama nie. As drama moet dit staan of val by die bes moontlike opvoering daarvan.” De Vries vermoed dat Christine as drama (in prosa) tot nog toe nie sy gelyke het in Afrikaans nie.

Oor die opvoering deur Truk in 1973 het Louis Eksteen (Hoofstad, 28 Maart 1973) geskryf dat Smit ons beste vakman is as dit by die tegniese aspekte kom. “Die dialoog is seldsaam suiwer, maar veral word die hantering van die verskillende tydsvlakke meesterlik hanteer. Die drama bied ook geleentheid vir goeie spel weens die besondere karakterisering. Dit is dan ook ten volle benut deur die spelers: Tine Balder as Christine lewer een van die grootste vertolkings wat ek nog op die planke in ons land gesien het; soms bereik sy momente van ontroering wat ’n mens nie alleen diep tref nie, maar jou ook suiwer.

“Ook Sandra Prinsloo speel soos ek nog min gesien het; en sy laat die kontrapuntale spel met Tine Balder soms tot die fynste teenstellings en harmonieë ontwikkel. Louis van Niekerk in die rol van Paul Harmse vertolk een van die gedugste rolle in die ganse Afrikaanse dramaliteratuur: hy is van die begin tot die einde op die verhoog en moet al die skakelings met die verskillende tydsgebeure en -vlakke bewaar.

“Maar op die ou end toon dié opvoering dat Francois Swart besig is om een van ons grootste regisseurs te word: hoe hy dit regkry om die tydsgebeure gedurig in al hul wisselinge tot geïntegreerde eenheid te verwerk, is op sigself die ernstige studie van ’n dramastudent werd; maar daarby is die regie suiwer en afgestroop.”

In 1971 is Christine vir die eerste keer in die Kaap, en wel in die Nico Malan-Arena, opgevoer. Esther van Ryswyk het gesny aan Bartho se oorspronklike teks, maar nie vanweë die omstredenheid nie. Sy het aan André le Roux verduidelik (Die Burger, 23 Mei 1987): “Plek-plek verlóóp die teks net in dialoog wat nie bydra tot die dramatiese eenheid nie. En ’n rassetoespeling soos dié hou nie meer vandag stand nie; dit klink naïef.” Bartho het sy oorspronklike slot herskryf, maar dit het niks gehelp nie en Esther het albei slottonele in haar interpretasie van die drama gebruik.

Christine is deur Tine Balder in Vlaams vertaal en in 1973 het Edgar Sievers, leier van ’n Duitse toneelgeselskap in Pretoria, dit in Duits vertaal. Pieter Venter, wat Die verminktes in Engels vertaal het as The Maimed, het Christine in Engels vertaal.

In 1974 verskyn ’n potpourri van Bartho se prosa, gedigte, essays en drama in die bundel Losgoed. André P Brink (Rapport, 16 Februarie 1975) het gemeen dat uit die perspektief van 1975 die verse die mins bevredigende afdeling van die bundel is, "maar as dit in die konteks van hulle tyd gelees word, dit ’n interessante skakel tussen Uys Krige en Sestigers soos Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach vorm. Die drama-afdeling is boeiender, maar vir Brink is die belangrikste deel van die bundel Bartho se essayisties-polemiese stukke. Vir Brink is die bundel as dokumentasie by Sestig onmisbaar, en as beeld van ’n dikwels miskende figuur van Sestig onthullend."

Bacchus in die Boland (1974) is in opdrag van Oude Libertas geskryf vir die Kaapstadse Fees van 1975. Twee dae voor die opvoering het die administrateur van Kaapland dit oudergewoonte afgelas, omdat dit glo nie geskik sou wees vir “oop” gehore nie. Oor die verbod het Bartho gesê hy weier om Noel Coward-stukke te skryf en hy sal weer probeer al was hy teleurgesteld en ook ’n bietjie woedend.

Die drama handel oor ’n besoek van Bacchus, god van die wingerd, aan ’n wynplaas genaamd Boland. Die baas van die plaas beloon sy werkers saans met ’n dop. Dit, besluit Bacchus, is misbruik van die wingerdstok. Die baas drink hom katswink in ’n drankorgie met Bacchus, en Bacchus laat die mense op die plaas toneelspeel. Die baas van die plaas kry die naam Hotnot. Bedags moet hy saam met die arbeiders die wingerde bewerk. Dit laat hom teen die einde besluit om sy opbrengste met sy arbeiders te deel. Hy’s mal, besluit almal. Sy vrou verlaat hom en sy arbeiders gaan werk elders.

Die gepubliseerde weergawe van Bacchus het foto’s bevat wat Paul Alberts tydens die kleedrepetisie geneem het voordat die opvoering afgelas is.

Abraham de Vries (Die Burger, 24 Junie 1976) het in sy resensie geskryf dat Bacchus, "soos alle komedies, moraliserend en konserwatief is. Daar word wel gespot met ’n hele sosiale bestel binne die moontlikhede van medemenslikheid, maar Willem se bullebakkery blyk aan die slot ’n soort kluisenaarsbestaan te wees. En die herstel van die ou orde lewer kommentaar op die omvergooi daarvan in die Bacchus-fantasie. Kortom: wat in die komedie op sy kop neergesit word, kom aan die einde solied op sy pote tereg."

In Julie 1977 het die kleurlinge van Eersterus in Pretoria die wêreldpremière van Bacchus in die Boland aangebied.

In 2007 is Bacchus in die Boland deur Heinrich Reisenhofer geregisseer vir die Suidoosterfees in die Kaap. Gabriël Botma (Die Burger, 13 Janaurie 2007) meen dat hierdie opvoering beslis ’n toepaslike eerbetoon is nie net aan ’n dramaturg nie, maar ook aan ’n produksie wat in 1975 deur die Nico Malan-teater geminag is en nou (in 2007) deur die Kunstekaap-teater (hedendaagse naam) opgevoer is.

"Die verhaal van Bacchus se besoek aan die wynplaas Boland word knap en vernuftig aangewend om nie net die politiek van die dag nie, maar die sogenaamde menslike kondisie in breë trekke te ondersoek. Meer spesifiek kom magsverhoudinge onder die loep.

“In die tyd waarin die stuk oorspronklik geskryf is, was die absurditeit van die apartheidsbeleid en -wetgewing ’n ooglopende kapstok vir Smit se analise van magsvergryp en die gevolge daarvan vir die samelewing en die individu. Uiteraard kan ook hierdie produksie steeds in terme daarvan beoordeel word en as historiese dokument ’n lang gesprek met die verlede aanknoop. Maar gelukkig is daar ook genoeg anders aan Bacchus in die Boland, as teks, en soos aangepas hier, om daarvan veel meer as bloot ’n ‘periode-stuk’ te maak.”

Botma het Chris van Niekerk, wat die rol van Willem Adriaanse, die baas, vertolk het, uitgesonder as die spil en anker van die produksie, en ook Chris Majiedt, wat skitterend was as Abie Prediker, die voorman.

Voor die toekenning van die Hertzog-prys vir drama vir 1975 is wyd bespiegel dat die eer Bartho toekom – indien nie vir Bacchus in die Boland nie, dan wel vir sy hele oeuvre. Ander aanspraakmakers was PG du Plessis, NP Van Wyk Louw, André P Brink en Henriette Grové. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het egter besluit, op aanbeveling van die letterkundige kommissie en die Fakulteitsraad vir Kuns en Geesteswetenskappe, om daardie jaar geen Hertzogprys toe te ken nie. Die vet was in die vuur en skrywers het soos een man teen die Akademie uitgevaar.

Bartho self was baie bitter; die Bacchus-voorval was vir hom die laaste strooi.: “Ek gaan ’n kinderteater vir volwassenes skryf en kyk of ek dan die Nico Malan kan haal. Ek gaan Hans Andersen se sprokie gebruik. Mense sal voel iewers krap iets, maar ek daag hulle waaragtig uit om agter te kom waar krap wat. Ek vind dit verskriklik jammer dat ’n volk wat besig is met détente, met Hans Andersen-sprokies moet begin. Al wat ek vra – my goed moet opgevoer word, en dit word nie gedoen nie. Waarteen moet ek veg?” het hy gevra.

“Ek gaan vir die mense ’n sprokie skryf,” het hy aan Hannes van Zyl (Beeld, 10 April 1975) gesê, “’n mooi onskuldige sprokie waarteen niemand kan beswaar maak nie. Dis tyd dat die volk ’n slag met sy eie oë moet sien hoe kaalgat is die keiser regtig.” Die keiser (1977) is nie net met groot applous opgevoer nie, maar is in 1978 met die Perskor-prys bekroon, en saam met Bartho se ander dramas met die Hertzog-prys vir 1978.

In sy motivering vir die toekenning van die Perskor-prys aan Bartho het die sameroeper van die beoordelaars, prof FIJ van Rensburg, gesê Die keiser het ’n sterk boodskap. “’n Boodskap, nie net vir nou of vir een dag nie, maar een wat geldig sal wees solank daar by ons mense die bereidheid bestaan om ons te laat mislei en vir solank daar misleiers beskikbaar is. Bartho Smit se bekroning is ’n baie gewilde een. In die tyd sedert ek met die beoordeling van die Perskorprys gemoeid is, het Die keiser die hoogste totaal nog uit die moontlike beskikbare punte behaal.”

In sy redevoering by die oorhandiging van die prys (Transvaler, 7 Maart 1979) het Bartho prikkelende dinge te sê gehad oor sake soos die skrywer en die gemeenskap. Hy het sy toespraak as volg begin: “Daar word deesdae dikwels geskryf oor die vervreemding en antagonisme tussen ons volk en owerheid aan die een kant en ons skrywer, ons literatuur en ons teater aan die ander kant. En oor en weer word verwyte na mekaar geslinger oor wie nou eintlik daarvoor verantwoordelik is – die skrywers of die gemeenskap. (...) Die stryd tussen gemeenskap en literatuur lê in hulle aard en hulle wesenlike verhouding tot mekaar. Die gemeenskap is behoudend; hy wil sy gevestigde tradisies en waardes onaangetas en onveranderd behou. Die literatuur moet, daarenteen, op daardie waardes en tradisies voortdurend hulle soeklig werp en hulle herwaardeer; hy moet sorg vir verandering en vernuwing.” Hy het voortgegaan deur te noem dat die gemeenskap na geborgenheid streef terwyl die literatuur moet ontbloot. En terwyl die gemeenskap na materiële sekuriteit streef, konfronteer die literatuur hom met die onsekerhede van die geestelike realiteite.

“Maar ten spyte van dié voortdurende stryd tussen gemeenskap en literatuur, kan die twee nie losgemaak word van mekaar nie – is hulle in der waarheid onontbeerlik vir mekaar. (...) Dit is dus lewensbelangrik dat gemeenskap en literatuur ’n gesonde ewewig tussen hulle moet vind en bewaar. (...) Die skrywer moet begryp dat dit vir géén mens aangenaam is om met homself gekonfronteer en om ontmasker te word nie. Hy moet begryp dat sy taak is om wat reg of verkeerd is te verbééld, nié om dit op te hemel of af te takel soos ’n pamfletskrywer nie. Hy moet begryp dat eerlikheid een van die eerste vereistes van sy kuns is en dat eensydigheid, byvoorbeeld, óneerlik is.’

Die keiser het as gegewe die sprokie van Hans Andersen van die twee skelms wat onderneem het om vir die klerebehepte keiser ’n wonderkostuum te weef wat niemand wat onbekwaam of oneerlik is, sal kan raaksien nie. En die dag toe hy kaal in sy optog loop, sien sy hele volk wat hulle behóórt te sien: die wonderkostuum. Totdat ’n kind uitroep: “Maar die keiser is dan kaal.”

"Bartho se stuk speel af in die paleis van Ekwator, waar die keiser en die keiserin ’n luukse lewe lei terwyl hulle onderdane krepeer van ellende en armoede. Die keiser verkeer onder die indruk dat hy oor die beskaafdste land ter wêreld regeer en dat sy volk die gelukkigste op aarde is. In werklikheid is daar ’n broeiende insurreksie teen die owerhede as gevolg van die onderdrukking deur die ministers van kultuur en verdediging. Al die vorste en staatshoofde van die wêreld word na die keiser se halfeeufeesviering genooi. Die keiser van Utopia stuur twee wonderwewers om vir die keiser van Ekwator ’n kostuum vir die optog te maak. In werklikheid is hulle rebelleleiers wat probeer om die orde omver te werp en die staat oor te neem.

“In hierdie drama word die valsheid, skynheiligheid en huigelary van die mens ontbloot, want volgens die leuenagtige wewers sal die mens wat onbekwaam is vir sy pos, nie die kostuum van die keiser kan sien nie. Almal probeer die keiser om die bos lei, behalwe sy hofnar. Soos die hofnarre van Shakespeare is die een in hierdie drama ook lojaal teenoor die keiser; hy is intelligent, eerlik, spitsvondig en humoristies. Hy is die enigste een wat die moed het om vir die keiser te sê dat hy nie klere aan het nie en daarom is hy die persoon wat die keiser se vertroue wen” – aldus Ben de Koker (Dolos, 1980).

Bartho het in Dolos van 1980 as volg gepraat  oor Die keiser: "Die grootste probleem met die skrywe van die stuk was om ’n balans te vind tussen die sprokie, die fantastiese aan die een kant, en die werklikheid aan die ander kant – met ander woorde om ’n wêreld te vind waarin die klerebedrog ens aanvaarbaar en geloofwaardig sou wees. Daar moes ’n geloofwaardige wonderkostuum gevind word, en, nog belangriker, die Wewers sou normale mense moes wees en logies aanvaarbare verklarings moes kon gee vir elke wonderwerking van daardie kostuum. In hierdie stadium het die stuk self ook al begin saampraat. ‘Kyk, Ou,’ het hy gesê, ‘jy’t ’n Keiser hier wat ’n leeftyd lank gedroom het dat hy sy volk uit hulle slawerny en armoede gaan opgehef tot die gelukkigste volk op aarde. Wat droom die Keiser éintlik? Hy droom hy’s ’n heilige. Gee vir die ou ’n kostuum met ’n stralekrans en klaar.’

“‘Wie glo vandag nog aan stralekranse en sulke goed?’ wou ek mismoedig weet.

“‘Jý glo dat daar goed soos atoombomme en laserstrale bestaan, al begryp jy g’n toet of blaas daarvan nie,’ antwoord die stuk. ‘Maak jou Wewers wetenskaplikes, en laat hulle die kostuum en die stralekrans só geleerd en wetenskaplik verklaar dat niemand daar iets van verstaan nie – dan sal almal hulle mos glo.’

“Die uiteindelike oplossing was toe ’n wonderwewer uit ’n onbekende land, wat terselfdertyd ’n beroemde magiër en wetenskaplike is; en ’n kostuum wat, met behulp van sekere kosmiese strale wat in die materiaal ingeweef word, die Keiser van kop tot tone in ’n stralekrans sal laat loop en sodoende van hom die Heilige Keiser maak. Want aangesien dit sy eie drome sou bevestig, sou so ’n kostuum vir hom heeltemal logies en aanvaarbaar wees en sou hy wél, al is dit dan net as gevolg van ydelheid, opdrag gee dat dit gemaak moes word.

“En die Wewers kén hierdie keer hulle storie. Wanneer die Keiser byvoorbeeld wil weet hoe kry hulle die gewig uit die goud uit waarvan die kostuum geweef gaan word – want hulle verseker hom dat die kostuum gewigloos sal wees – dan is die Baaswewer se verduideliking: ‘Deur ’n proses van kinetomeres, U Majesteit.’

KEISER: Verklaar?

WEWER: Die gravimetriese kata-kinetomeres word in die hipotale mus uitgekanselleer deur die ana-kinetomeres van die kosmiese strale wat in die materiaal ingeweef is, U Majesteit.

KEISER: Ek sien.

“Ook die feit dat die onbekwames en oneerlikes nie die kostuum sal kan sien nie, word wetenskaplik verklaar: Die corpus pineales van die brein word op so ’n wyse deur die kosmiese strale in die kostuum gestimuleer dat dit soos ’n leuenverklikker werk. Die melatonien wat afgeskei word, verhoed enige persoon wat self weet hy’s onbekwaam of ’n bedrieër om die klere te sien.

“Dié verandering van die kostuum en die Wewers het die stuk in heeltemal ander rigtings laat loop as sy eerste versie. Veral die idee van die Heilige Keiser het aan hom nuwe dimensies en totaal ander betekenisse gegee waaraan ek nooit aan die begin gedink het nie.”

Bartho het gesê dat hy nie die tema van hierdie spesifieke sprokie gekies het nie, maar dat die tema hom gekies het. “Word skrywers nie maar meestal deur hulle temas gekies in plaas van andersom nie? Die hooftema van die Keiser is die leuen – die universele leuen.

“Ek het gesê die tema het mý gekies, want as ’n mens terugblaai deur my stukke, kom jy hierdie tema, die leuen, oor en oor teë: in mindere of meerdere mate in ál die stukke. In Moeder Hanna stuur ou Hanna haar man met ’n Leuen na sy dood toe en Maria sweer valslik met haar hand op die Bybel. In Don Juan onder die Boere probeer Pierre met die een leuen ná die ander uit sy penarie kom. In Die verminktes moet die Kleurling, Frans, voorgee dat hy ’n Blanke is. In Putsonderwater wéét die oumanne dat die dominee dood in die put lê, maar hulle gee voor dat dit nie so is nie. En ook Maria se illusies van die poort na die hemel en die Goudstad wat die Goue Stad van Johannes in die Bybel is, is alles leuens, al is dit onbewus. In Die man met die lyk om sy nek veg Paul Barnard tot die dood toe om te probeer bewys dat hy die waarheid praat en die ander lieg – maar die leuen seëvier. In Christine lieg Paul Harmse vir homself oor sy verraad teenoor Christine. In Bacchus moet ’n hele gemeenskap – die dominee inkluis – voorgee dat Willem Adriaanse iemand anders is as Willem Adriaanse. In Die Keiser is dit nie net ’n hele volk wat lieg oor die klere wat hulle nie sien nie; die ou Keiser word voortdurend ook deur sy ministers belieg; en ook hý erken dat hy ’n halfeeu vir homself gelieg het oor die lot van sy volk.

“Ek het nie op Andersen se sprokie besluit omdat ek destyds reeds bewus van die rol wat die leuen in al my ander stukke speel nie. Daarvan het ek reeds bewus geraak terwýl ek aan Die Keiser gewerk het. Aan die ander kant was ek tog bewus van die universele leuen wat ’n mens daagliks rondom jou gesien en in die koerante van gelees het.”

Die Keiser was Bartho se laaste triomf. Die gepubliseerde teks is nie oorweldigend goed ontvang nie, maar dit was ’n triomf toe dit in die destydse Transvaal opgevoer is. In Mei 1989 het Kruik in ’n mate die speelveld teenoor Bartho reggestel toe Die Keiser in die Nico Malan-teater opgevoer is. Marthinus Basson was die regisseur, bygestaan deur die ontwerper John Caviggia.

Kerneels Breytenbach (Die Burger, 19 Mei 1989) skryf dat hierdie twee die keiser (Neels Coetzee) laat lyk het soos ’n kruis tussen Wena Naudé (met ’n bokbaard!) en Jimi Hendrix – en hy sit soos Jean-Bedel Bokassa I van die Sentraal-Afrikaanse Republiek op ’n goue troon, en praat Afrikaans.

“Die Minister van Kultuur (Louw Verwey) het op sy beurt ’n Napoleon-gestalte, maar by nadere betragting is daar elemente van die Kappiekommando, burgemeester-amps-drag­, Idi Amin-medaljes, ’n Mexikaanse sombrero, Oudtshoorn-volstruispluime, alles bymekaar. Dit sou ’n mens kon sê, is die uiterlike wapens van satire. Die innerlike wapen is Bartho Smit se vaardigheid en tegniek as dramaturg – die arsenaal waaruit hy sedert Moeder Hanna al die Afrikaanse teater vernuwe het. Die spel met ironie in dié werk is verbluffend – trouens, alle aspekte van spel in die werk word noukeurig ondersoek.

“Om dié rede is Die keiser ’n belangrike opvoering. Dis jammer dat Kruik die sluitstuk van Smit se oeuvre nóú eers op die plank bring. Tog sou ’n mens kon argumenteer dat elke stuk sy tyd en plek het, en Die keiser s’n is nou.”

Truk het die première daarvan aangebied met Francois Swart as regisseur. Met hierdie aanbieding het die regisseur die fokus op die dekadente laat val en die spel was dan ook Baldadig, uitgelate, maar tog altyd stylvol.

Truk se volgende produksie van Die keiser was in 1992 met Dieter Reible as regisseur. "Met die weer sien was ek opnuut getref deur die helderheid, direktheid en die volslae teatraliteit van die dramaturg se konsepsie. Reible se produksie was meer sober, wat inkleding en die algehele toonaard betref. Die sentrale spil of as, of dalk die gewete, by Reible het gedraai om die rol van die hofnar, wat deur Louis van Niekerk vertolk is. Hierdie produksie het op ’n besonderse wyse die nagedagtenis van een van die grootste dramaturge in Afrikaans vereer. Dit het al hoe duideliker geword dat Bartho Smit se profetiese stem uiteindelik tog bo tyd, ruimte en selfs omstandigheid uitstyg. En dáárin lê die merk van ’n groot dramaturg. (Paul Boekkooi, Insig, Junie 1992)

Die keiser is in 1983 deur Aart de Villiers en Don Lamprecht in Engels vertaal onder die titel The naked emperor.

Die keiser is in 2004 onder regie van Herman van der Westhuizen en Denise Bester deur Kaalgat Produksies in die Hoërskool Bellville se ouditorium aangebied.

By die KKNK van 2008 is Die keiser weer opgevoer en het dit bewys dat dit as aanpassing van die Hans Christian Andersen-sprokie van die keiser sonder klere ook tydloos geword as allegorie van mag en ’n korrupte regering. Die Afrika-konteks waarbinne Bartho Smit dit geplaas het, met doekvoet-ministers, mosies van wantroue en verskerpte veiligheidsmaat­reëls, herken ’n mens oombliklik.

Die teks het werklik nog niks van sy skerpsinnigheid en humor verloor nie. Die produksie met die spelers van die Cape Heart-geselskap staan onder regie van Gaerin Hauptfleisch. Vir die voorkeurkeuse vir gr 12’s se voorgeskrewe literatuur is op ’n veerligte aanslag besluit.

Vroeg in die eerste stampvol opvoering het van die akteurs mekaar op ’n paar plekke effentjies in die rede geval. Die hof se Sonkoningagtige verfyndheid is die ene kokettering. Die keiserlike paar is vertolk deur Deon Lotz en Esther von Waltsleben. Chris Fourie, André Samuels en Irvine van der Merwe tree as kabinetministers op. Jan-Hendrik Opperman en Stephanie Hough lewer ook vermaaklike spel as die wewers, en ­Riaan Visman as die hofnar. Geon Nel vertolk verskeie rolle en kwyt hom ook goed van sy taak. Dit was lekker teater vir leerlinge.

Nadat die Hertzog-prys in 1978 aan Bartho toegeken is vir sy hele oeuvre, het ’n mens gewonder wie die blyste was – hy of die baie mense wat sy werk bewonder het en saam met hom in ontsteltenis moes sien hoe soveel stukke op die laaste nippertjie as ’t ware van die verhoog gevee is. En uiteindelik het hy na negentien jaar amptelike erkenning vir sy werk gekry nadat hy reeds ses keer tevore vir hierdie gesogte prys genomineer was.

Perskor het in 1978, nadat Bartho die Hertzog-prys ontvang het, ’n unieke geskenk aan hom gegee – ’n versameling van al sy dramas wat spesiaal vir die geleentheid in leer gebind is.

Bartho was ook ’n dramavertaler van formaat. Ter viering van sy sestigste verjaardag in 1984 het HAUM-Literêr elf van sy dramavertalings in vyf bande gepubliseer. Op een na (Teenspoed) is al hierdie dramas as vertalings tussen 1958 en 1979 in Suid-Afrika opgevoer en dus aan die teater getoets. Volgens Salomi Louw (Tydskrif vir Letterkunde, Augustus 1985) verruim hierdie elf vertalings ons skat van speelbare Afrikaanse stukke. "Van die beste vreemdtalige woordkunswerke word in ons eie taal toeganklik gemaak en vertolk sonder dat die dramas op enige wyse aan impak verloor; inteendeel, in Smit se Afrikaans is ’n uitdrukking soms meer gelade as in die oorspronklike taal, want hierdie dramas is op eiesoortige manier vertaal deur ’n kenner van die dramaturgie en die teater. In 1985 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Akademie-prys vir Vertaalde Werk aan Bartho toegeken."

Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het by geleentheid van Bartho se sestigste verjaardag die bundel Spel en spieël saamgestel en hy het dit in 1985 in ontvangs geneem van sy Perskoruitgewer, Chris Pelser. In die boek word daar aan die hand van eietydse teoretiese benaderings na die belangrikste dramasoorte en die teater gekyk.

Perskor het in 1984 ’n bundel opstelle getiteld Bartho aan hom oorhandig om sy sestigste verjaardag te gedenk. Die bundel is saamgestel deur sy beste vriende, soos Chris Barnard, Rosa Keet, Jan Rabie, André P Brink, WF van Rooyen, Nel Erasmus en Abraham de Vries. Hulle het geskryf oor Bartho se swerfjare in Europa, sy skrywerskap, sy rol in die Sestigerbeweging, sy stryd teen die burokrate van die Afrikaanse teater en sy enigmatiese persoonlikheid.

Bartho was tot sy dood nie uitgeskryf nie. Met goeie vriende het hy kort voor sy dood nog planne bespreek vir dramas wat hy wou skryf. Hy het beplan om nog twee dramas te skryf wat saam met Putsonderwater ’n trilogie sou vorm. Hy was ook besig om te skaaf aan Hagar, ’n drama waarmee hy jare geworstel het.

Op 31 Desember 1986 is Bartho in sy huis in Melville in Johannesburg oorlede aan longkanker, waarmee hy ’n geruime tyd vantevore gediagnoseer is. Dit het later sy brein aangetas en hy was 24 uur voor sy dood in ’n koma. Sy vrou, Kita, het hom versorg. Sy roudiens op 6 Januarie 1987 is deur ds J Bekker gelei; die teksvers was uit 1 Korinthiërs 13, vers 12: “Want nou sien ons deur ’n spieël in ’n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” Kita self is in 1994 aan hartversaking oorlede.

Huldeblyke

  • Kerneels Breytenbach: "Smit was ’n meester van sy medium, en het die kuns verstaan om die werk te verryk met die wydheid van sy eie gees. Daarom dat hy so ’n groot vernuwer in die Afrikaanse drama was, daarom dat hy meer as enigiemand anders die Afrikaanse drama kon laat saampraat met die Franse en Duitse teater. (...) Terwyl ’n mens dan die dramaturg huldig wat hierdie werke geskep het, wil jy ook die hoop uitspreek dat Bartho Smit se werke die soort erkenning sal kry wat dit verdien – nie pryse en lofuitings nie, maar opvoerings. Só sal hy ten beste vereer word, en sal niemand meer kan praat van die dramaturg wat nooit bestaan het nie." (Die Burger, 5 Januarie 1987)
  • Afrikaanse Skrywersgilde: "Bartho Smit het oor die afgelope 25 jaar ’n kardinale rol in die Afrikaanse letterkunde gespeel – nie net as dramaturg nie, ook as mentor vir jong skrywers, stigter, en eerste redakteur van die blad Sestiger, dapper uitgewer in ’n tyd toe min ander kans gesien het om die avant-garde te publiseer, en medestigter van die Afrikaanse Skrywersgilde. Hy sal onthou word as een van die sterkste denkers en formuleerders onder die groep skrywers wat in die vroeë sestigerjare weggebreek het van gevestigde opvattings oor die letterkunde." (Die Burger, 5 Januarie 1987)
  • PG du Plessis: "Baie dinge in die Afrikaanse letterkunde sou nie dieselfde gewees het sonder Bartho nie: die Afrikaanse drama het hy vernuwe, verryk en beïnvloed. Die Sestiger-beweging sou sonder hom baie anders gewees het. Sy rol as dramaturg, literêre leier en uitgewer het die hele kultuurgang dekades lank beïnvloed. Miskien was Bartho se waarde en sy fout dieselfde ding, want hy het inderdaad soms tot foutwordens toe omgegee: vir die letterkunde, die gehalte van sy eie en ander se werk, die vryheid van die skrywer en die woord, die oopheid van ons denke – en vir sy vriende. Sy eerlikheid en sy omgee sal ’n leemte laat in die tye waarin ons al twee so nodig het." (Vaderland, 5 Januarie 1987)
  • Hermien Dommisse: "Hoe ongelooflik sterk was Bartho se geloof in sy siening van die roeping en die wese van die toneel, want hy het voortgegaan om te skryf ondanks herhaalde wegwysings en beskamende verydeling van die aanbieding van sy werk. (...) Bartho was ’n stil mens. Ek het hom in al die jare van ons vriendskap nooit kwaad gesien nie. Seergemaak en in vertwyfeling, ja, maar altyd geduldig ontledend en planmatig op soek na uitweë. Sy gedagtes het breed en diep geloop. Waar ander in opstand gekom het, het hy met ononderbroke integriteit en sobere eerlikheid opgetree." (Beeld, 8 Januarie 1987)
  • Nel Erasmus: "Bartho was ’n voortreflike mens, ’n volkome mens wat met sy besondere verstand en sensitiewe gees, op soek was na ’n eie wêreld, ’n wêreld wat hy kon verstaan, vertrou, besit en vertolk. Dit was ’n soeke en ’n skrywe om deur te dring tot die wese van dinge, en veral, van die mens." (Beeld, 8 Januarie 1987)
  • Abraham de Vries: "Met Bartho se dood verloor die Afrikaanse letterkunde een van sy beste dramaturge en dramavertalers, die vader van die Sestigerbeweging en een van die mees gewaardeerde stigters van die Afrikaanse Skrywersgilde. Baie reeds gevestigde skrywers, onder andere Breyten Breytenbach, het by hom gedebuteer toe hy nog ’n uitgewer was, ’n uitgewer met waagmoed van belangrike werke soos Jan Rabie seMens alleen, Chris Barnard se Pa maak vir my ’n vlieër, Pa en Ingrid Jonker se Rook en oker. Bartho het sy wêreld ’n ryker plek gemaak as wat hy dit aangetref het." (Vaderland, 5 Januarie 1987)
  • Temple Hauptfleisch: "Bartho Smit se dood is ’n ontsettende verlies vir die Suid-Afrikaanse teater as gevolg van die kreatiewe rol wat hy gespeel het. Ons het ’n vaderfiguur verloor. Soos oom Breytie ’n vaderfiguur aan die administratiewe kant van die Afrikaanse teater was, was Bartho die skeppende impetus. Sy kreatiewe invloed het baie wyer en dieper gestrek as net sy werke."
  • Louis van Niekerk: "Hy was ’n warm, eerlike, onpretensieuse persoon wat altyd tyd gehad het vir die jong mens. Dit was sy eerlikheid as ’n kunstenaar en as ’n mens wat vir my ’n inspirasie was."
  • Chris Barnard in 1984: "Ek ken Bartho vyf en twintig jaar. Die landkaart wat ek vroeër van hom gehad het, is lankal vertoiingd, gehanteer. Ek het so mettertyd sy geheime ondergrond begin takseer, in sy dolomietbanke verstrik geraak, boorpunte gebreek in sy graniet, geigertellers en wiggelstokke op hom afgeskryf, en ’n slag of wat so hittete in sy sinkgate versuip. Hy is maar net daardie soort mens. Hy kan nie daarvoor help nie. En omdat hy so is, verkwikkend en veelkantig, ’n ryk geskakeerde mens, gedurig in stryd met homself, om sy eie standpunte en dié van ander te bevraagteken – omdat hy só ’n mens is, kon hy die skrywer word wat hy is, die voorloper wat hy is, kon hy die vriend word wat hy vir ons almal is. Sy deur is altyd oop vir jou. Vir jou en elke ander skrywer en amper-skrywer. Selfs vir die talentloses het ek hom sien tyd maak wanneer hy nie regtig tyd gehad het nie. (...)

    "Aan die begin van die sestigerjare was hy nie alleen herder vir ’n handjievol literêre lammers nie – hy was ook een van die eerstes om teoretiese inhoud te gee aan ’n landverskuiwing in die letterkunde wat die gesig van die Afrikaanse prosa sou verander. Sy formuleringe soos saamgevat in sy artikelreeks oor die Werklikheidsbeeld in die eerste nommers van Sestiger, het gekom byna nog voor die sigbare tekens van vernuwing daar was – en in ’n stadium toe letterkundiges skeel sit en kyk het na Die son struikel en Hilaria. Ek wil verder gaan en sê dat Bartho die verskynsel van Sestig gediagnoseer het toe die meeste Sestigers nog oormekaar geval het van adolessente skrik omdat hulle stemme gebreek het. (...)

    "Bartho was die eerste Afrikaanse dramaturg wat ons rassepolitiek verhoog toe geneem het. Maar heel vroeg in die vyftigerjare reeds, voor Jan Rabie se Ons, die afgod, lank voor Brink en almal wat daarna gevolg het, het Bartho reeds kortverhale gepubliseer soos 'Ek vat my land' waarin die emosies en die konflik rondom ons rassesituasie aangrypend verbeeld word. (...)

    "Bartho laat my dikwels dink aan Copernicus en die Katolieke Kerk. Want die Kerk het besluit, op ’n keer, hulle het genoeg gehad van Copernicus se onbybelse teorie dat die aarde om die son draai. Die alwyse God lieg immers nie, en dit staan duidelik in sy Woord die son kom op en die son gaan onder. Copernicus is dus in die onfeilbare en ewige lig van die Woord summier gedekanoniseer. ’n Paar honderde jaar later, in 1984, is sy saak in heroorweging geneem. En daar is besluit, plegtig, dat Copernicus en die Woord dalk tog versoenbaar is. En hy is dus opnuut gekanoniseer. Asof dit iets met God te make het. Om van Copernicus se siel nie eens te praat nie. Copernicus had daarmee niks uit te waai nie. Die waarheid alles. Hier by ons is langsamerhand besig om dieselfde te gebeur.

    "Bartho, ons sê vir jou dankie vir jou vriendskap. Ons sê dankie vir jou bydrae tot die Afrikaanse bewussyn. Ons sê dankie vir jou geduldige kinnebak." (Vaderland, 6 Augustus 1984)

PublikasiesPublikasies:

Publikasie

Mure: verse

Publikasiedatum

1950

ISBN

(hb)

Uitgewers

Pretoria: Unie-Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Moeder Hanna

Publikasiedatum

  • 1955
  • 1959 
  • 1969 
  • 1973

ISBN

0628002920 (hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzog-prys 1978 (vir sy hele oeuvre)

Vertalings

Engels vertaal deur M du Toit

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die verminktes

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1976 
  • 1977

ISBN

0628010842 (hb)

Uitgewers

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzog-prys 1978 (vir sy hele oeuvre)

Vertalings

Engels vertaal deur Pieter Venter

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Don Juan onder die boere

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1975
  • 1987

ISBN

  • 0798104546 (hb)
  • 0798120703 (sb)

Uitgewers

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzog-prys 1978 (vir sy hele oeuvre)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Putsonderwater: ’n toneelstuk in vier dele

Publikasiedatum

  • 1972
  • 1970 
  • 1979 
  • 1980 
  • 1985

ISBN

0624013545 (sb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzog-prys 1978 (vir sy hele oeuvre)

Vertalings

Engels 1968 vertaal deur A Dawes

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die man met die lyk om sy nek: ’n moord-komedie

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb)

Uitgewers

Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzog-prys 1978 (vir sy hele oeuvre)

Vertalings

Engels 1968 vertaal deur A Dawes

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Christine

Publikasiedatum

  • 1971 
  • 1975 
  • 1981

ISBN

0624007588 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzog-prys 1978 (vir sy hele oeuvre)

Vertalings

Engels 1984 vertaal deur M Rice

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die man met die alibi

Publikasiedatum

  • 1971 
  • 1977 
  • 1978 
  • 1988 
  • 1991

ISBN

0628012845 (hb)

Uitgewers

  • Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel 
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzog-prys 1978 (vir sy hele oeuvre)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Losgoed

Publikasiedatum

1974

ISBN

0628006683 (hb)

Uitgewers

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bacchus in die Boland

Publikasiedatum

  • 1974
  • 1975 
  • 1987 
  • 1988

ISBN

  • 0628007043 (hb) 
  • 00628030592 (sb)

Uitgewers

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Hertzog-prys 1978 (vir sy hele oeuvre)

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die keiser: variasies op ’n sprokie van Hans Andersen

Publikasiedatum

  •  1977
  •  1979
  •  1980
  •  1981
  •  1988
  •  1991
  •  1994
  • 1997

ISBN

  •  0628019882 (sb)
  •  062801497X (sb)

Uitgewers

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

  • Perskor-prys 1978
  • Hertzog-prys 1978 (vir sy hele oeuvre)

Vertalings

Engels 1982 vertaal deur Aart de Villiers en Don Lamprecht

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Bartho Smit as vertaler

  •  Anouilh, Jean: Becket, of, Die eer van God. Pretoria: HAUM-Literêr, 1984 (saam met Die burgemeester enMontserrat)
  •  Dostoyevsky, Fyodor: Klaagsang om ’n sagmoedige. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel, 1966
  •  Dürrenmatt, Friedrich:
    • Die besoek van ’n ou dame: ’n tragiese komedie. Johannesburg; Pretoria: Simondium; HAUM-Literêr, 1962, 1984 [ISBN 079861403X (hb)]
    • Teenspoed: ’n nog moontlike verhaal. Kaapstad: Human & Rousseau, 1961
  • Hofmann, Gert: Die burgemeester. Johannesburg: Dalro, 1969
  • Humphriss, Deryck: Benoni seun van my smart: die maatskaplike, politieke en ekonomiese geskiedenis van ’n Suid-Afrikaanse myndorp. Benoni: Die Stadsraad, 1968
  •  Ionesco, Eugène: Die les; Die renosters; Die koning sterf. Pretoria: HAUM-Literêr, 1984 [ISBN 0798614021 (hb)]
  •  Molière: Jakkalsstreke van Scapino. Johannesburg; Pretoria: Dagbreek-Boekhandel; HAUM-Literêr, 1962, 1984 [ISBN 0798614404 (hb)]
  •  Roblés, Emmanuel: Montserrat: toneelstuk in drie bedrywe. Johannesburg: Dalro, 1968
  •  Strindberg, August:
    • Dodedans. Johannesburg: Dalro, 1969
    • Dodedans; en Pase. Pretoria: HAUM-Literêr, 1984 [ISBN 0798614382 (hb)]
    • Pase. Johannesburg: Dalro, 1970

Artikels oor Bartho Smit op die internet

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top