Bagani

  • 1

Ons het min dae; ordergroep, ons gaan portugese eskort. Die stowwerige pad na Bagani met die voertuie en oor die rivier met die pont. Ek verkyk my aan die natuurskoon in vergelyking met Ovamboland. Daar is tente waarin die vlugtelinge woon en tente waain blikkieskos is. Ek stap deur die kamp, daar is ’n ry mense wat wag om die voedsel wat uitgedeel word te kry. Daar is ’n lawaai en ek stap nader; ’n portugese vrou met twee kleuters aan haar bene en ’n baba op haar rug skree-vra: Fresh fresh!

Ek vra die sersant wat in beheer is wat gaan aan. Sy wou weet of daar vars groente gaan wees, met die kleuters weerskante van haar wat aan haar rok klou die baba slaap nog. Ek tree tussenbeide en vra die vrou wat sy wil hê. Al wat sy sê is "Fresh fresh", maar ek verloor dit. Wie de bliksem is jy om hier te kom eise stel vir vars groente? Fok jou, fok julle, hoekom het julle nie geveg in angola nie, maar weggehardloop na Suidwes? Sy skrik en bly stil, maar die vrees in haar oë bly my tot vandag toe by. Sy kry haar rantsoen van meel en kookolie en draai om, loop na haar tent toe. Die volgende oggend vroeg is ons besig om op die voertuie te klim ek gee my R1 en rugsak aan; net voor ek op die voertuig klim, kom sy na my toe met drie broodjies op ’n skitterskoon vadoek. Sy hou dit uit na my toe, maar ek draai my rug op haar en klim op die voertuig. Sy staan net daar haar mond half oop, haar oë verwilderd; die voorste voertuie kom in beweging en stadig skuif die bome tussen ons in; sy staan nog steeds daar een hand stom verbaas voor haar mond en in die ander hand die drie broodjies op die skitterskoon vadoek. Sy het van haar kosbare meel en olie gebruik om vir my vars broodjies te bak en ek het dit nie aanvaar nie.

Ek is jammer, verskriklik jammer.

Boer in beton.

  • 1

Kommentaar

  • Dit moet moeilik wees om mee saam te leef, maar ek reken dit sal al beter gaan, noudat jy die klip van jou bors af het. Die feit dat sy na die lawaai-insident vir jou broodjies (pau) gebak het wys sy het nagedink en tot ander insigte gekom. Ek is daarom seker dat sy dan ook weer nagedink en analiseer het nadat jy jou rug op haar gedraai het en sy sou beslis jou kant van die saak verstaan het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top