Bacchus in die Sandland

  • 1

Foto: Canva.com

Jare gelede het ek ’n kêrel gehad wat van sy wyntjie gehou het, veral by ’n braaivleis, en natuurlik, in ’n restaurant. Nie dat hy nou ’n suiplap was nie – geensins nie, maar die feit dat ek in ’n dranklose huis grootgeword het, het spanning tussen ons veroorsaak. O, hy het voorgegee dat dit hom geensins gehinder het nie, maar namate ek hom beter leer ken het, het ek agtergekom dat dit nie vir hom lekker was om alleen in restaurante te sit en wyn drink nie. Ek het lang spanpraatjies met myself gehou en een aand gesê ek is bereid om ’n glasie wyn saam met hom te drink. Hy was heel in sy skik daarmee, maar wat hy nié vir my gesê het nie, is dat sy gunsteling droë wyn was. Hoekom hulle so eufemisties (’n vorm van ’n leuen) praat van iets wat suur is, sal ek in my dag des lewens nie verstaan nie. Ewentwel, met die eerste sluk besef ek: wyn, ek en jy sal in my dag des lewens nooit boesemvriende word nie. 

Uit hoflikheid druk ek maar deur met die bitterslegte wyn. Op sy vraag hoe ek dit vind, besluit ek, nee wraggies, ’n leuenaar is ek nou ook nie. “Nee jong, wyn is nou nie vir my nie.” Ek kan die teleurstelling op sy gesig sien, maar sleg is sleg.

Ek begin van vooraf worstelende spanpraatjies met myself hou. Kersfees breek aan en hy nooi my uit na ’n deftige restaurant. Toe dit by die bestelslag kom, skraap ek al my moed bymekaar: “Kyk, as jy iets kan bestel wat lékker is, sal ek saam met jou alkoholies verkeer. Maar dit moet LEKKER wees!”

Sy gesig gloei soos die son twaalfuur smiddae. “Ek het net die ding!” Hy roep die kelnerin en bestel, en bestel … ek kan wrintiewaar nie meer onthou wat dit was nie. Wat ek wél kan onthou is dat dit regtig lekker was. Wat hy nié vir my gesê het nie, is dat die goed wat soos koeldrank geproe het se alkoholinhoud nie nul was soos koeldrank nie, maar aansienlik hoër. Toe hy vra of ek nog ’n glasie saam met hom sal drink, is ek heel inskiklik. Trouens, ek raak al hoe inskikliker om nóg ’n glasie en nóg ’n glasie van dié lekker goed te drink. Die bottel is naderhand leeg en hy bestel nog een. En ek drink saam, wat. Dis mos erg lekker.

“Lyster … l … l … lyster, hoe laat issit?” 

“Ag, dis nog vroeg,” antwoord hy ontwykend.

Ek glo hom en dink in my mindere soberheid nie daaraan om op my eie horlosie te kyk nie.

Die tweede bottel is teen dié tyd half.

“Dié goe … goeders is dam lekker jong. Hoekom hê jy nie laaankal da’van vi’ ons bestellie?”

Sy verduideliking gaan by my verby.

“Luister Anet, ek dink ek en jy moet maar huis toe gaan. Jou ouers wonder seker al teen dié tyd wat van jou geword het. Dit word ook laat.”

“Maarie bor … borrel is nou eers half!” stribbel ek teë.

“Ek weet, maar ek dink regtig jy het nou genoeg gehad. Jou pa gaan my vermoor as ek jou so dronk by die huis aanbring.”

“Wie’s dronk? J  …jy is miskien dr … dronk. Ek makeer swiet-bloe-fennie-boggherol! En … en my pa gaan jou n-n-neuk as jy d-ddronk kar bestuur. Dan’s ons kys ok sommer yt!”

“Nee,” sê ek beslis, “ek ga’ nergens vorie borrel toetentaal leeg issie. Kelner! Kelner! Kommier! Ek sê dan kommier!” gil ek toe die kelner nie gou genoeg na my sin opdaag nie.

“Anet!” probeer my kêrel keer.

“Ma’ sie jy sjarrap! Wie’t miskien mê jou gepraat? Kelner!”

Toe die kelner uiteindelik opdaag, vlieg ek hom sommer in: “Wa’ bly jy? Dis mos jou werk om te kom as ’n kustemer jou roep, dessits!”

“Waarmee kan ek help, mevrou?” vra hy hoflik.

“Man, wie de donner is jou mevrou?” Teen dié tyd het ’n iedere en elke goeie manier wat Ma my ooit geleer het, my hele wese verlaat.

“Anet! Nou gaan jy darem te ver!”

“Maar het ek nie netnou vir jou gesê jy moet sjarrap nie? Ek praat nou!” ’n Onderwyseres weet hoe om met stout skoolkinders te werk!

“Jammer tog, juffrou,” sê die kelner, steeds hoflik. “Wat kan ek vir u doen?”

Teen hierdie tyd was die helfte van die restaurant se gaste se aandag op ons gevestig, maar dit het ek eers die volgende dag by my kêrel gehoor. Ek was op daardie oomblik natuurlik salig onbewus daarvan.

“Ek wille skoon glas hê. Hierie een is vyl. Blerrie vyl.”

“Sekerlik.” En die kelner is daar weg om my skoon glas te gaan haal.

“Anet, jy sleep my naam darem vanaand deur die modder. Die mense ken my hier!”

Dit moes hy nie gesê het nie!

“O, is jy nou skielik te ghrend vir my? Bring jy al jou ritse girldfriends hiernatoe? En is hulle almal fyntjies?! Almal van dié soort met kwalifikasies wat lang boekrolle vol beslaan?” Waar ek in my dronkenskap aan dié deftige woord gekom het, weet ek nie. Sekere ’n restant van my normale, sobere woordeskat.

“Ek het nie ritse vriendinne nie!” probeer hy met my redeneer. “Maar ek kom eet my middagetes hier!”

Teen dié tyd het die kelner met my skoon glas opgedaag. Ek gryp dit ewe ongeskik uit sy hand. Geen dankie nie, en onbeholpe probeer ek hom volgooi van die lekker soet sappies. Ek hoor nie dat die helfte van die restaurantgaste sit en giggel nie. Ek betaal egter vir my onbeholpenheid, want die helfte van die drank beland op die tafel in plaas van in die silwerskoon glas.

“Kyk nou net die simpel glas!” brom ek.

Maar teen dié tyd het my kêrel genoeg gehad.

“Anet. Nóú gaan ons huis toe!” Hy vat my ferm aan my elmboog en hys my van my stoel af op. Hierdie keer help geen teenstribbeling nie. Ek moet buitendien só intens konsentreer om regop te bly en een voet voor te ander te sit dat ek nie nog kan praat ook nie.

By die huis het iemand die deur oopgemaak; ek weet tot vandag toe nie of dit my pa of my ma was nie. Ek weet ook nie wat my kêrel se verduideliking vir my minder nugtere toestand was nie. My ma was vreeslik in haar skik met hom en sou hom enige iets vergewe, maar my pa het nooit vreeslik van hom gehou nie.

Die volgende oggend het ek met ’n reusehoofpyn wakker geword. Ná baie dink het ek die restaurant se naam onthou en besluit om my voete nooit weer daar te sit nie – ek weet nie hoe lank daardie kelner nog daar gewerk het en hoe goed sy geheue was nie.

Ieder geval, die kys met die kêrel wat sy middagetes by die befaamde restaurant geëet het, het ook nie lank gehou nie – ek het sober smake.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top