Baai van gebroke harte

  • 1

Foto: Canva

Die baai van gebroke harte

As ek net hier sit,
in hierdie bietjie son, op hierdie stukkie gras
en reik na die diepste, stilste plek binne my,
kan ek vir ’n oomblik terugkeer na hoe dinge was.

Die son wat jy altyd in jou lyf dra, jou lag aangedra op die wind
die see roep jou naam; branders eggo jou woorde in die baai
ek was so gelukkig hier saam met jou
ek moes geweet het aan die einde is daar altyd die nadraai.

Ek tel die stukke van ons storie soos skulpe al langs die waterlyn op
hier het ek vir jou lief geword, voor al die smart
hier het ek jou saam met haar gesien
jul arms om mekaar, ’n lem deur my hart.

Ja, ek keer altyd na hierdie plek terug
Ingrid Jonker het net ’n paar meter weg verdrink
ek hoor die roep van die onstuimige water
die donker dieptes wat my uitnooi om in die stille vrede weg te sink.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top