The witches of Hogsback
Sally Partridge
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637001717
The witches of Hogsback is Sally Partridge se sewende tienerboek, ’n avontuurverhaal wat afspeel in die Oos-Kaapse dorpie Hogsback. Dis ’n heerlike plek om hierdie storie te plaas – afgesonder in die lieflike Amatola-bergreeks en ’n groot inheemse woud met ’n betowerende sjarme. Die Knysnaloerie en bedreigde Kaapse papegaai kom hier voor, daar is heelwat watervalle en die Hobbiton on Hogsback-kamp vir kinders laat ’n mens wonder of Tolkien ooit hier gekuier het.
Die boekomslag is baie slim gedoen om die atmosfeer van die storie te weerspieël: ’n donker woud en ’n meisie afgeëts in gloeiende groen lig. ’n Spieëlbeeld aan die onderkant met ’n seun in die onderwêreld herinner aan Stranger things. Oral “weggesteek” in die woud is getekende oë wat blink as jy die boek skuins in die lig hou. Die oë verskyn ook elke nou en dan in die boek. Wat ook opval, is die interessante hoofstuk-opskrifte wat spokerig en heel gepas is.
The witches of Hogsback begin met ’n moord in die woud, en skuif dan na die perspektief van die 17-jarige Zelda, wat pas deur haar boyfriend gelos is. Sy het nie juis vriende nie, deels omdat sy glo dat sy altyd die waarheid moet laat uitkom as sy iemand iets verkeerds sien doen. Zelda is gatvol vir alles en almal en wil net wegkom uit Muizenberg vir die vakansie. Toe sy dus die pienk poster sien wat stappers uitnooi vir 14 dae in die klein Oos-Kaapse dorpie Hogsback, oorreed sy Mnr Leatherman en haar ouers om te gaan, ten spyte daarvan dat sy glad nie ’n stapper is nie.
Sy het skaars in Hogsback aangekom of sy raak betrokke by die raaisel rakende die dood van die seun Stefan Dale. Almal in die dorp sê dit was ’n ongeluk, maar was dit? Sy bevriend ’n plaaslike seun, Bennie, wat haar oënskynlik help om ondersoek in te stel. Die geheimsinnige hekseverbond (“witches coven”) word onmiddellik verdink met hul vreemde rituele en swart klere. Zelda en Bennie deurkruis die woud op soek na leidrade terwyl getekende en uitgekerfde oë hulle oral volg. Daar is ook intriges met die magic shop, samango-apies, ’n bad op die rand van ’n krans, die arboretum, tieners wat verlief raak en onwaarskynlike vriendskappe.
Zelda let Song loop her arm through hers as they stared in wonder at the brilliance of the stars above them. She could even see the soft pink clouds of the Milky Way. As beautiful as it was, Zelda kept her ears open for any hoots and cackles coming from the forest, but it seemed that the witches had decided to stay home.
Die verhaal is ’n tienermisterie en avontuur met ’n gotiese ondertoon, uitgebeeld deur die geïsoleerde dorp, hekse en donker woude, alhoewel die verhaal nooit werklik skrikwekkend of donker is nie. Dis dalk iets wat dit effens meer diepte sou gegee het, maar andersins is dit ’n opwindende jeugroman geskryf met ’n vinnige pas en goeie, geloofwaardige dialoog en gebeure. Zelda neem soos ’n tipiese tiener gereeld impulsiewe besluite wat haar in gevaar stel. Sy is nie bang om die waarheid te ontbloot nie, al beteken dit dat haar skoolmaats nie van haar hou nie. Tog sukkel sy om die waarheid oor haarself vir byvoorbeeld haar ouers, haar vriende en Mnr Leatherman te vertel.
Gunstelinggedeeltes in die boek is die beskrywings van die arboretum, ’n tuin met massiewe Kaliforniese rooihoutbome, eike en Japanse seders asook ander uitheemse bome, almal reeds oor ’n honderd jaar oud.
They approached a clearing circled by trees of every shade of red and gold where birds twittered and heart-shaped leaves danced across the ground. It was a scene from a children’s storybook. The type of story where fairies and witches were all too real.
Ek sou die boek aanbeveel vir ouderdomsgroep 13+. Dis nie ’n dik boek nie en kan binne ’n paar uur klaar gelees word. Die storie vloei vinnig en die hoofkarakter is ’n sterk en eksentrieke meisie wat aanklank sal vind by menige tiener, maar moenie ’n Twilight-storie verwag nie.
Sally Partridge is ’n bekroonde skrywer van Kaapstad wat skryf oor die wel en wee van die gewone tiener. Sally noem dat sy in haar boeke eerder oor tieners skryf en nie vir tieners nie, al het sy ’n groot tienergevolg. Sy het in 2007 gedebuteer met The goblet club onder die naam SA Partridge en die MER-prys vir beste jeugverhaal gewen. In 2019 ontvang sy ook ’n South African Literary Award (SALA). Sy het inderwaarheid al vier keer die MER-prys vir jeugfiksie ontvang. Sy word ook in 2011 benoem as een van Mail & Guardian’s 200 Young South Africans vir haar bydrae tot jeuglektuur. Haar vierde boek, Sharp edges, is in Afrikaans vertaal as Skerwe.