Avatar: 'n Mitologie vir ons tyd? Gustav Barnard reageer

  • 0

Gustav Barnard reageer op die artikel “Avatar: ’n Mitologie vir ons tyd” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Naas Ferreira.

Met sy artikel oor Avatar maak Ferreira ’n belangrike toevoeging tot die begrip van die mens op hierdie stadium van sy evolusie. Dit hou verband met sy insigte in mites en hul aard in die algemeen, asook sy kennis van die tegniese en onderliggende werklikhede van films en hul vervaardiging. Dit kwalifiseer hom uniek om diepte en lewe aan hierdie onderwerp te gee. Die belangrikheid van bewussyn, primêr hoër state van bewussyn en die wyses waarop hierdie verskillende state beïnvloed kan word, word genoem, maar nie ontwikkel nie. Hierdie beïnvloeding kan geskied deur mites wat of binne of buite die religieuse veld val. Dus, sy basiese tesis handel oor mites en die belang daarvan vir die menslike ontwikkeling. Daar is ’n soort oopheid, ’n ondefinieerbaarheid, tov mites. Hy verduidelik hoekom mense ’n behoefte het aan die vind en ervaring van sinvolle mites. Mites het verlore gegaan met die opkoms van die moderne rede (denke), met ’n gevolglike verlies aan betekenis van die siel en van die strewe na die mistieke. Die kern van sy tesis is mites, hoër state van bewussyn wat lei tot die mistieke. Mites word goed ontwikkel; die ander in mindere mate.

Hy lei die leser deur die wye agtergrond van die veld van skrywers en kenners van die meer esoteriese aspek van bestaan. Hy berei die speelveld voor om geldigheid te verleen aan sy siening van die onderliggende storie in Avatar, ’n transendentale mite van evolusie. Sy konstruksie van die artikel is solied en oortuigend. Dit gee ook ’n argument vir en begrip oor die aard van die faal van die alternatief van die film, nl georganiseerde religie, om hul funksie te vervul teenoor hul volgelinge as gevolg van ’n afwesigheid van oortuigende mites. Die sukses van alternatiewe miteskeppers soos rolprente word oortuigend uitgebeeld.

Van die kenners wat hy aanhaal, gee ’n redelike weergawe van die konsepte en objekte waarmee hulle handel, maar hulle is beperk. Onderwerpe soos die siel en God word geopper. Die opinie wat uitgespreek word, gaan verder as dogmatiese uitsprake, maar dit skiet nog steeds tekort. Die rede daarvoor is dat dit bespreek word op die vlak van die intellek. Die vraag kan tereg gevra word: Maar watter alternatief kan ons gebruik? Dis dan al wat ons het. So ook die vraag van twee eeue gelede oor die kritiek van die gebruik van kerse vir ligverskaffing. In stede van te kyk na ’n verdere alternatiewe moontlikheid word die bestaande beperkte gegewe verdedig met die aanbied van ’n retoriese teenvraag.

Om bostaande uit te lig, verbandhoudend met Avatar, kan die kerke – die georganiseerde religie in sy verskillende vorme – tereg retoriese vrae vra oor wat hulle verkeerd doen, want hulle loop dan leeg. Net so leeg as wat hulle van mites is.

In die bespreking van ’n onderwerp soos hierdie een, met die onderbou wat dit het, is dit belangrik om kennis te neem van die basis, wyse en effek van die metodiek waarop die bespreking gedoen word. Hierdie artikel en die outoriteite wat aangehaal word, word hanteer op die intellektuele vlak. Soos dit is, en moet wees, indien die rede en logika, dus die intellek, te berde gebring word op ’n onderwerp, vind ons dat dit nie die onderwerp self nie, maar die konsep van die onderwerp is wat moet deurgaan as die werklikheid. En daar is ’n baie groot gaping tussen die twee. Met gebruik van die intellek wil ons dinge hanteer wat nie bedoel is om daarmee hanteer te word nie.

Die volgende aanhaling kan gebruik word om die probleem te illustreer: "Monaco (2009:176) wys op die bekende uitdrukking: ‘A film is difficult to explain because it is easy to understand.’" Maar hoekom? Ons weet nie wat die werklikheid van explain is nie. Explain se wie, en hoe, en dan waarmee daar explain moet word? Ook die woord understand. Wie, hoe, hoeveel, waarmee? Daar is ’n leemte – dit blyk uit die stelling self.

Maar die stelling aanvaar die leemte as ’n onbevraagtekenwaardige werklikheid. As ons sonder meer die woorde van daardie stelling neem sonder al hierdie moontlike onbenullige besonderhede, dan werk ons met ’n hanteerbare pragmatiese werklikheid. Ons moet ’n skroef indraai; ons het nie ’n skroewedraaier nie, so ons gebruik ’n Ierse skroewedraaier. Alias hamer. Dit werk, glo my. Maar nie optimaal nie. Die pragmatiese benadering bo werk. Glo my. Maar dit is die maklike weg om uit te kom van die aanspreek van die korrekte modus van kommunikasie wat nie beperk is tot die pragmatiese nie.

Ek wil stel dat dit nie op die vlak van woorde soos dit huidiglik gebruik word, wat hierdie antwoord lê nie. Woorde veroorsaak dat die dieperliggende ontologiese werklikheid ons dan ontgaan. Gebruik ons woorde omdat ons niks anders kan nie, dan is ons optrede ’n wilsbesluit om nie die materiaal aan ’n diepte-ondersoek bloot te stel nie. Dit is goed, maar nie goed genoeg nie. Dan erken ons nie die moontlikheid van ’n groter diepte en werklikheid van die onderwerp of objek nie.

Voor ons Avatar bespreek, meer oor die outoriteite wat Ferreira gebruik. Hy noem dat Cortright se siening van ons lewensdoel is om onsself te vind. Maar hier praat hy nie van ’n klein bietjie, ’n proeflopie nie, maar van die hele werklikheid. "Life is a spiritual adventure in the evolution of consciousness. Spiritual embodiment is the goal, not a disembodied transcendence. For this we need to discover our soul, our psychic centre, which is the evolutionary principle in us." Dit klink goed, en ’n mens – ek – voel dit is reg. Maar dan, wat sê hierdie sin eintlik? Dis belangrik. Die doel van die lewe. Eerstens, die woorde spiritual embodiment en disembodied transcendence? Ek het dit nie teen konsepte nie; indien nodig, laat ons hulle gebruik, want by gebrek aan brood eet ons korsies van pasteie. Hierdie twee konsepte tussen aanhalingstekens lewer duidelik hul eie werklikhede. Maar wat is daardie werklikhede? Die intellektuele fiksie dat dinge "nie bestaan" (nie ’n werklikheid het nie) as dit byvoorbeeld "disembodied" is, is interessant. Daar is ’n algemene ooreenkoms (sameswering?) om dinge op ’n dualistiese wyse in te deel as werklik/niewerklik, materieel/fiktief en al die ander. Net interessant dat ’n fiksie soos ’n unicorn baie akkuraat beskryf word deur die materialiste. Is geld materieel of fiktief? Is ’n groot handelsmaatskappy materieel of fiktief? Al die goed bestaan maar op hulle eie vlak wat selde deur die intellek hanteer kan word.

Kom ons aanvaar nou maar net dat werklikheid is wat dit is: werklikheid. Daar is nie my werklikheid en jou werklikheid en werklikheid nie; daar is slegs werklikheid.

Goed. Dan transcendence. Jy kan transendeer en niks meer nie. Jy kan nie praat daaroor nie. Indien jy wel praat daaroor, dan praat jy oor transcendence, jy praat nie transcendence nie. Verder: “our soul, our psychic centre". Groot woorde, maar wat sê dit werklik? Die antwoord indien dit op die vlak van konsepte aangebied word, vermag min om helderheid te bied. Tog aanvaar ons dit net so; ons is net nie baie krities in ons kommunikasie nie. 

Die trefkrag van die hele artikel oor Avatar is oor die transcendence wat die film in die kyker vermag. Ons ken die woord, maar indien ons nie aktief besin oor die feit dat ons hele werklikheidsiening ’n funksie van ons bewussynstoestand is nie, dan sal die woord transcendence net dit wees: ’n woord. Ons sal nie die kennis hê dat so ’n toestand werklik bestaan nie, en ons sal nie geïnspireer wees om ons huiswerk te doen sodat ons dit self na willekeur kan ervaar nie.

Nog steeds op die trajek van transcendence: Vele mense dink, en Garrison Keillor noem dit: “If you can’t go to church and, for at least a moment, be given transcendence … then I can’t see why anyone should go. Just a brief moment of transcendence causes you to come out of church a changed person.” Waarop Ken Gire skryf: “I have experienced what Garrison Keillor described more in movie theatres than I have in churches. Why? I can’t say for sure … movies don’t always tell the truth, don’t always enlighten, don’t always inspire. What they do on a fairly consistent basis is give you an experience of transcendence. They let you lose yourself in somebody else’s story.”
 
Volgend op hierdie sienings, waarom is flieks dan nodig? Is daar nie genoeg kerke nie?

Wat hulle sê, is dat vir ’n sekere gedeelte van die gemeente die kerk nie sy funksie vervul nie. Ferreira beskryf die gedeelte waarna ons hier verwys. Die woord eksoteries kom op. En tog het die kerk wat die Christene betref ’n meester wat praat oor die heiligheid van die mens, die feit dat die mens en Hy broers en medeseuns van God is. En dat hierdie einste broers dieselfde wonders as Hy kan verrig! Nou, dis opwindende nuus! Maar waarom word dit nie van die (kerk-) dakke gebasuin nie? Waarom die veilige dosis van glo en sonde ens. elke keer as daar ’n blye boodskap verkondig kan word? Mis ek iets? Flieks toe, manne.

Ferreira sien dat Avatar deur verskillende noodsaaklike fases ontwikkel. Elke fase is belangrik, ’n noodsaaklike onderdeel van die geheel, met die dramatiese hoogtepunt waar Sully openbaar word as ’n unieke leier in ’n tyd van nood. Volgens Ferreira, "Toe Jake met Toruk daar aankom, was hulle gereed om hom te volg, want nou is hy nie meer net Jakesully maar Toruk Macto, Ruiter van die Laaste Skaduwee. Volgens Na’vi-oorlewering het dit slegs vyf keer in die verlede gebeur dat ’n Toruk Macto na vore gekom het om al die stamme in Tye van Verdriet te verenig." Hierdie is ’n belangrike en onderbeklemtoonde fase; dit beteken dat selfs in hierdie idilliese samelewing van Na'vi daar vyf groot konflikte in die verlede was. Ons kan net spekuleer wat die aard en doel daarvan was. Moontlik vir die konstante en ewigdurende evolusie na die volgende vlak? Ons weet nie, want ons word nie daaroor ingelig nie. Ook is dit ietwat onverantwoordelik om goedsmoeds die aardse werklikhede en natuurwette te wil ekstrapoleer na dié van ander eiesoortige planete – en ook dimensies waar toepaslik. Die tuismaak in ons gemoedere dat verskille bestaan, nie alleenlik tussen planete en dimensies nie, maar ook tussen … – en hier moet ons maar self die groepe en individue en dieselfde individu van tyd tot tyd en van plek tot plek invul. In Avatar het ons ’n klein voorsmakie gekry van hoe hierdie verskille kan wees. Dit kan egter dramaties anders en meer wees. As voorbeeld, wat van ’n planeet wat uit (vir ons) onsigbare suiwer Rhozon bestaan, wat gekombineer met die lewensvorm, nl Bhozon daar, skep en vervul op ’n wyse wat ons nooit kan besef tensy ons dit ervaar deur daar te inkarneer nie?

Dit bring ons by verskillende tipes bewussyn. Normaalweg sien ons dit nie so in nie, maar hierdie aspek, ons bewussynsvlak, is belangrik. Die bewussynsvlak waarin ons (ek) is bepaal ons (my) werklikheid. Dit is die enigste werklikheid vir my. Daar is geen ander nie. Jy, en die boom, en die kristal is slegs manifestasies van my bewussyn. Vir my is daar niks anders nie. En my bewussynsvlakke is meervoudig, ’n totaal nie van drie nie (wakker, droom, slaap) maar volgens Sri Aurobindo elf gewone en ses of wat hoër state. Werklikheid is uniek vir elke staat; al wat ons hoef te doen om hierdie werklikhede te ervaar, is om hierdie state te ontwikkel. Dis nog heelwat meer kompleks as dit. Die ek waarna ek verwys, dit ken ek ook nie. Ek het dit en dat en bewussyn. Is dit nie moontlik dat bewussyn primêr is, en dat bewussyn my het nie?

Die vele verwysings hier wat gemaak is na hoër state van bewussyn, is almal gemaak vanaf die intellektuele vlak. Verduidelikings en beskrywings gebruik die intellek. Dit is soortgelyk aan die beskrywing van die wakkertoestand vanuit die droomtoestand. Dit kan seker gedoen word, maar u kan insien welke gapings en leemtes teenwoordig sal wees. Maar gegewe dat slegs die huidige kommunikasie-tegnologie beskikbaar is, is die werk wat gedoen is in hierdie artikel prysenswaardig.

Vir die mens en sy instellings is daar ’n sterk boodskap wat Ferreira in hierdie Avatar-artikel lewer. Die mens is gereed om te beweeg, om na die volgende vlak van sy potensiaal te groei. Hy het hom teen alle teenstand in homself alreeds bevry. Al wat kortkom is die resep. Ferreira meen dat meer universele mites ’n groot deel van hierdie proses is. Dit is nuwe mites, of ou mites wat nuut verstaan word, want die veilige benaderings van die instellings wat die transendensie van die bevolking moet verskaf (dis nou die kerke), werk nie meer nie, dis nie produktief nie. Vir die mens is dit moontlik dat hy/sy kan transendeer met behulp van alternatiewe roetes – dit is nou buite die kerk. Transendensie ontwikkel hoër state van bewussyn en is ook ’n bewussynstoestand wat dan gewoonweg ervaar word. Die ondersoek na hierdie onderwerp sal die vrugte afwerp in die sin van die ontwikkeling van bewussyn.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top