Bert Olivier reageer op die artikel “Avatar: ’n Mitologie vir ons tyd” in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling, geskryf deur Naas Ferreira.
Naas Ferreira se artikel is interessant en tydig, vir sover die kerke – alle kerke – myns insiens al lankal uit tred is met die behoeftes van die tyd. Eintlik sou ek sover teruggaan as Nietzsche, en selfs Kierkegaard, in die 19de eeu, wat albei op hul eie manier die irrelevansie van die kerk aangetoon het. Nietzsche se uitspraak, “God is dood”, moet saamgelees word met sy bewering, dat ons – mense – verantwoordelik is vir God se dood, omdat ons lankal nie meer leef asof die waardestelsel waarvoor “God” staan, die bron is van ons handel en wandel nie. Ook Kierkegaard het dit nodig gevind om die vet, uitgevrete bourgeoisie in Kopenhagen aan die hand van verskillende “lewensmodelle” (die estetiese, etiese en religieuse, byvoorbeeld) daaraan te herinner dat wat hulle as ’n Christelike lewenswyse beskou het, lankal nie meer daarmee ooreenstem nie.
Ferreira se artikel moet myns insiens in die lig hiervan verstaan word. Dit vestig nie alleen die aandag op die anachronistiese aard van die kerk nie, maar bowendien ook op die feit dat meer en meer mense hul “mitiese” rigtingwysing of orientëring uit rolprente put – veral dan daardie rolprente wat tot hul diepste geestelik-mitiese behoeftes spreek. Nietzsche was in die kol toe hy beweer het dat ’n kultuur slegs “gesond” is wanneer dit oor ’n funderende mite beskik van waaruit mense leef, en dat die probleem met die westerse kultuur daarin bestaan het dat dit wetenskap (en mens kan byvoeg: moderne tegnologie) in die plek van so ’n mite geplaas het – wat hy “Sokratisme” genoem het, hoewel ek dit eerder “Platonisme” sou noem. Hiervolgens is dit die verabsolutering van die rede as wetenskap wat die mitiese onderbou van westerse kultuur vernietig het, en vandaar Nietzsche se poging om met sy Zarathustra ’n nuwe, lewe-gewende mite vir ’n tanende kultuur te voorsien.
Helaas, ’n blote handjievol mense het dit verstaan. Met die koms van filmkuns het daar egter ’n tegniese middel op die toneel verskyn waarmee miljoene mense bereik kan word, soos Walter Benjamin besef het. Benjamin het egter die politieke nut van rolprente oorskat, en die vermaaklikheidswaarde daarvan onderskat, waar laasgenoemde juis die emansipatoriese politieke waarde ondermyn deur middel van ’n subtiele ideologiese bevordering van sekulêre kapitalistiese waardes in die oorgrote meerderheid van “hoofstroom” rolprente. Dit is slegs in enkele gevalle dat ’n mens ’n film teëkom wat kragtig genoeg is, en ook voldoende loketwaarde het, om ’n groot aantal mense te bereik en te beïnvloed. Avatar is so ’n rolprent, soos Ferreira raakgesien het, en met die tanende invloed van die kerke in verband bring.
Ek meen dat sy analise van die film in terme van die funksie van die mite van die “held” akkuraat en verhelderend is, en vind nie juis daarmee fout nie, maar daar is ’n ander aspek van Avatar wat hy myns insiens in die proses verwaarloos, en wat deurslaggewend is vir die vraag, of Avatar moontlik ’n “suksesvolle” mite kan wees, met ander woorde, of dit lewensvatbaar is. Ek wil nie hier te veel daaroor sê nie, omdat daar eersdaags ’n artikel van my oor hierdie onderwerp in die South African Journal of Art History (SAJAH) verskyn, dus net die volgende: Ferreira onderskat die mate waarin enige nuwe mite – hetsy in die vorm van ’n rolprent, of in enige ander vorm – die alomteenwoordige rol en aard van (’n bepaalde soort) tegnologie in aanmerking sou moet neem ten einde aanklank by hedendaagse mense te kan vind. Slegs ’n mite wat tegnologie in die mitiese narratiewe struktuur inbou of verreken, sou ’n vrugbare teelaarde in die hedendaagse kultuur vind.
Ek moet egter onmiddellik kwalifiseer wat ek bedoel. Met “tegnologie” het ek nie “moderne” tegnologie, soos akkuraat deur Heidegger in sy beroemde essay oor die “vraag na tegnologie” gekarakteriseer is, in gedagte nie – die wese van daardie soort tegnologie (wat hy “Gestell” of “Beraming, Raamwerk”, noem) is korrek deur Heidegger as ’n “aanslag” teen die natuur of aarde bestempel, wat laasgenoemde (mense inkluis) tot ’n “staande reserwe” of “hulpbron” reduseer (dink maar aan wat vroeër as “Personeelafdelings” in firmas bekend was, en hedendaags as “Menslike Hulpbronne” bekendstaan). Hierdie is egter nie die enigste moontlike soort tegnologie nie. Heidegger self het reeds gepraat van ’n “wending” wat ten opsigte van die tegnologiese verduistering kan plaasvind, wanneer ’n soort versadigingspunt bereik word, en – as ek hom reg verstaan – die synsopenbarende aspek van tegnologie, of wat hy aan die hand van die Griekse word “techné” benoem, weer met die skeppende krag van “poiesis” konvergeer.
Sodanige konvergensie sien ’n mens geruime tyd al in die rolprentkuns, waar gevorderde film-tegnologie en kreatiewe, poëtiese insigte in dieselfde rolprentkuns saamwerk, en feitlik saamsmelt. Cameron se Terminator-reeks is ’n voorbeeld hiervan (waaroor ek ’n hoofstuk in my boek, Projections, het), en Avatar is nog een. Trouens, in Avatar werk techné en poiesis nie slegs saam in die produksie van die rolprent nie, maar word die twee soorte tegnologie – moderne, destruktiewe tegnologie, asook “postmoderne”, natuurvriendelike tegnologie – uitdruklik getematiseer. Dr Grace Augustine, die bioloog in die film, verstaan dit, en daarom probeer sy diegene wat ten alle koste die “unobtanium” deur middel van moderne tegnologie uit Pandora se grond wil kry, oorreed om dit te staak, en die ware rykdom van Pandora, naamlik die netwerk van kwasi-neurale verbintenisse tussen alle lewende wesens op hierdie maan, te verstaan en daaruit te leer. Die “oorplasing” van Jake se lewensbeginsel (“gees”?) na sy Na’vi avatar-liggaam vereis kennis van hierdie soort “tegnologie”, wat saam met die lewende natuur werk, en nie daarop afgedwing word, soos die mense met hul moderne myn- en militêre tegnologie op Pandora doen nie.
Hiermee voorsien Cameron se film inderdaad ’n nuwe “mite” vir mense van ons tyd, maar een waarvan die idee van ’n nuwe, “postmoderne” soort tegnologie ’n onmisbare deel uitmaak. Indien dit nie raakgesien word nie, kan daar nie reg geskied aan die rede waarom hierdie rolprent nuwe hoop bied vir die geestelik-uitgehongerde mense van die 21ste eeu nie.

