Mbulelo Tiaan Wentzel, algemeen bekend as Tiaan, het in 2019 gematrikuleer aan Hoërskool Paul Sauer in Kareedouw, 'n klein dorpie in die Oos-Kaap. Sy betrokkenheid by die skoolgemeenskap het reeds vroeg geblyk toe hy in 2018 verkies is om op die leerlingraad te dien — 'n bewys van sy leierskap, empatie en toegewydheid aan sy medeleerlinge.
Tiaan het van kleins af 'n liefde vir taal en poësie ontwikkel. Hierdie belangstelling het hom daartoe gelei om gedigte te begin skryf as 'n middel om homself uit te druk en om die wêreld rondom hom beter te verstaan.
Benewens sy kreatiewe uitlaatklep, dien Tiaan tans as jeugleier van die jeugbediening van Pentecostal Revival Church, 'n kerk in die Tsitsikamma-gebied. Waar hy jongmense lei in geloof, diensbaarheid en gemeenskapsbou.
Sy passie vir taal, mense en leer het uiteindelik saamgesmelt. Hy is tans besig met sy BEd-graad in Intermediêre Fase-onderwys aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), waar hy hom toespits op die ontwikkeling van jong leerders se liefde vir kennis en selfuitdrukking.