Neels Swanepoel behaal sy BA en LLB aan die Universiteit Stellenbosch. Hierna dien hy as streekhofaanklaer in Bloemfontein. Hy verlaat die Departement Justisie, voltooi in 1983 sy leerklerkskap as prokureur by die Bloemfonteinse firma Hill, McHardy en Herbst, en word in dieselfde jaar as prokureur van die hoë hof toegelaat. Hierna praktiseer hy as prokureur by De Villiers en Joynt in Parys, Vrystaat, en later onder die naam Du Toit en Swanepoel. In 1992 word hy toegelaat as aktebesorger van die hoë hof. Hy aanvaar in 1999 ’n aanstelling as direkteur van die regskliniek van die Universiteit van die Vrystaat (UV) in die hoedanigheid van senior lektor. In 2002 verwerf hy sy LLM en in 2006 sy LLD aan die UV. Die titel van sy LLD-verhandeling is “The emergence of a modern international criminal justice order”. In 2008 word hy bevorder tot medeprofessor en aangestel as departementele voorsitter van proses- en bewysreg. Gedurende sy akademiese loopbaan doseer hy hoofsaaklik regspraktyk, siviele prosesreg en bewysreg. Sy navorsingsonderwerpe sluit kliniese regsonderrig, praktyksbestuur, siviele prosesreg en internasionale strafreg in. In 2012 ontwikkel hy ’n nagraadse LLM-graad in internasionale strafreg en geregtigheid aan die UV.