Gemeet, geskaaf en gepas op Stellenbosch waar ek in ’n pastorie grootgeword het en waar ek nog steeds vir reeds 36 jaar onderwys gee. Gebore in Vryburg in die Noord-Kaap, deur my ouers saamgesleep Kaap toe, toe ek nog ’n pikkie was. Afrikaans is my grootword-taal en deesdae my digtaal. Het my onderwysdiploma aan die opleidingkollege, Hewat, verwerf en is daarna Universiteit Wes-Kaapland toe waar ek my BA verwerf het. Ek het so 4 jaar gelede in Afrikaans begin skryf, die lekkerte daarvan ontdek en dit verder explore en probeer om dit nou uit te leef in my gedigte want dit maak my siel en my pen gelukkig. Ek is tans besig met ’n eerste bundel wat ek hoop binnekort ’n hoekie sal vind op die rakke van liefhebbers van onse mooie taal.