Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria en behaal ’n BA aan die Universiteit van Pretoria. Terwyl hy onderwys gee, verwerf hy ook die UOD, Hons BA en MA, laasgenoemde twee met lof, aan Unisa. In 1975 verwerf hy ’n doktorsgraad in Afrikaanse taalkunde, ook aan Unisa. Daarna volg hy ’n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. Hy woon verder in 1991 skryfskole in Iowa en Oklahoma by.
Na ses jaar as hoërskoolonderwyser word Du Plessis by Unisa as lektor aangestel en daarna as senior lektor aan die RAU. In 1981 word hy professor in Afrikaanse taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou NWU). In 1990 word hy direkteur van die ATKV-skryfskool van die NWU se Potchefstroomkampus. Hy tree aan die einde van 2011 af en word voltyds skrywer.
Hy het meer as 160 publikasies agter sy naam, en debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in.
Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en verskeie romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses verhoogstukke uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer.
Hy word bekroon met die CR Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die CBSA-prys vir beste publikasie, algemene Christelike literatuur.
Hans du Plessis was getroud met Magdaleen Potgieter. Ten tyde van sy sterwe, het hulle vier getroude seuns en sewe kleinkinders gehad.
Oom Hans, soos so baie hom genoem het, is op 25 Oktober 2024 te Potchefstroom oorlede.