Gideon C du Toit is woonagtig in die skilderagtige kusdorp van Mosselbaai, waar hy tans werksaam is as vryskut skrywer en digter, ’n passie wat hy reeds van kinderjare af as stokperdjie beoefen het. Die droom van voltyds skryf het egter nie gerealiseer tot omtrent vyf jaar gelede nie en Gideon moes sy liefde vir skryf vir jare lank op die agtergrond van sy beroepslewe skuif.
Soos Gideon self sal erken was die pad na sy droom nie sonder uitdagings nie, en moes hy vele male moeilike omstandighede te bowe kom. "Ek het blad geskud met armoede en as hy eers jou hand het, los hy nie graag nie," het Gideon op geleentheid gesê.
Baie van sy werk fokus op die stryd van die armes teen ’n stelsel wat min voorsiening maak vir minderbevoorregtes. Buiten sy Engelse debuutroman, The Journeyman wat binnekort sal verskyn, gee van sy ander werk ook ’n interessante perspektief op ’n verskeidenheid van intellektuele onderwerpe.
Hierdie is beslis ’n skrywer met ’n loopbaan om ’n oog op te hou.