Vyf nuwe gedigte deur Gideon C du Toit

  • 4

Die koutjie

In die hoek van die voorhuis,
in die groot ruit wat uitkyk
op die stoep
en vrugteboord,
hang die koutjie waarin jy woon.

Stokkie na stokkie spring jy,
wyl jou goudgeel vere fladder
en voor jou spieëltjie gesels
jy opgewonde
oor die dag wanneer jy gaan vlieg.

Gawe hande dis jou saad op
langs vars water in ʼn bakkie,
en ruil die vuil koerant om
wat uitgelê is,
op die bodem van jou koutjie.

Vanuit jou hokkie kan jy sien
hoe vlieg die vaal voëls
daar buite ongestoord,
en vreet hulself vet
aan die vrugte van die boord.

Vanoggend het ek jou gekry
lê op die vuil koerant.
Jou kraalogies was dof,
jou geel vere roerloos
en die voorhuis is stil.

Eindelaas, kan jy ook nou vlieg.

 

Eenders

Vir my is elke mens besonder uniek,
soos elke ander mens daar buite.
Hul bly in eenderse huise met eenderse tuine
en eenderse gordyne in eenderse ruite.

Mense praat meestal eenderse praatjies
oor dieselfde eenderse twak.
Hulle maak almal eenderse grappies,
eenders flou en eenders kak.

Smôrens ry die eenderse mense
na hul eenderse hokkies by die werk.
Hulle vat tee en lunch op eenderse tye,
en drink almal hulle koffie eenders sterk.

Mense werk soos eenderse batterye,
en op vyf-en-sestig is almal eenders pap.
Hul word begrawe in eenderse houtbokse
wanneer hulle aan eenderse kwale omkap.

Dié dinge laat my somtyds wonder;
is mense eenders dom of net eenders blind?
Hoe stap almal ʼn eenderse vaal lewenspad
en eindig almal op met twee en ʼn halwe kind?

Moet tog nooit vir mense sê hulle is eenders nie
want dan word hulle almal eenders befok.
Vertel mense maar hulle is spesiaal en uniek
al moet jy dan ook nou eenders vir hulle jok.

 

Euforie

Verdraagsaamheid kom met ʼn slukkie water.
Dan roer jou kus nostalgie sonder verlange
en bring verlange sonder verdriet.

Met jou kom verdriet sonder ʼn enkele traan.
Liefde wat jy bring is sonder vreugde,
en gee my vreugde sonder om lief te hê.

Jou omhelsing is verbande vir my verlore drome.
Dit is die boei wat my verwyte gegrond hou
en my anker wanneer my wêreld wankel.

Jou bevryding hou my grootste geheime gegrendel
en eindig my nagmerrie wanneer ek gaan slaap.
Tog,
lê my nederlaag nie daarin of jy my verslaan nie,
maar in my eindelose herhaling van elk gebonde dag.

 

Rigting

Voor jy vanaand jou oë sluit,
steek tog ʼn lampie aan vir my
en brand dit heelnag in jou ruit,
dat ek my pad terug na jou kan kry
uit hierdie mergeling uit.
Want binne ʼn verwelkte hart se are,
eens gevul met lewensbloed,
lê nou opgehoop oor lang swart jare
niks anders as stof, en as, en roet.

 

Waar die hart is

In my gees is daar ʼn wegsteekplek,
waar ek kan lê en wolke tel
op ʼn goue strand met wier bedek
en sand wat vasplak teen my vel.
Dit is hier waar ek die see se sproei
tot heel onder in my longe haal,
en my houtskuit ver die diep in roei
om te vis vir vannag se maal.

Vir liefde is ek wel ʼn gewillige kneg
maar ek is ook ʼn drenkeling daarin,
dis die kettings wat my aan die lewe heg
en my nog eens my lot besin.
Dan reis my gedagtes ook weer terug
met ʼn verlange wat in my brand,
na vissies vang by die Klein-Brak brug
en na die fynbos langs die strand.

In die nadag stoot die hooggety
en spoel die water oor my spore.
En ek weet vir nou is ʼn droom verby
en vir nou is jy vir my verlore.
Dan maak ek my oë weer oop
vir die lot wat my begroet.
En hierdie stad se droë, vuil lug
word ʼn kiekie van my gemoed.

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top