Andries Louw

My naam, Meester, is Andries Harlekyn
en ek soek die voetpad na Tafelberg se kruin
kom hotberg, kom haarberg, kom amper-daar-berg,
ja, my woorde kon mos soos ’n Klipspringer loop
maar tyd en vaaljapie maak hul trek nou dié van lompe Afrikanerosse

Hoekom, vra Meester, hoekom Harlekyn
want ek is die kwaaijong wat rympies rym
gebore Op-die-berg, Andries gedoop in Wupperthal
my rympies se klanke kom van oweral
en hier het ek skipbreuk kom ly by die grootwaters se wal

Hoor my Meester, ek is ’n derduiwel van onthou:
Bybelname, trekosname en allerhande storiename,
tog is my voete nou gekaap, en ek, verdwaal in hierdie doolhof
kan U my nie dalk wysmaak waar is die singel na Boplaas nie?
dis my hart-se-plek daardie, al sal ek nie nou meer daar aard nie

Weet U Meester, my heimwee agtervolg my
ek wou net altyd meer hê, meer kon sien, meer kon doen
en nou is ek besmet met hierdie wêreldstad se stank
teësinnig trek my osse die wa opdraend
al verduur hulle die sweep se straf, beur dit net al vinniger
teen die helling af, teen die helling af, teen die helling af …

Ja, jy hoor hom nou nog, daardie Harlekyn
sy rympies wat vertel van vanmelewe se dae,
sy voete wat soos osse skoffelstap in die strate,
terwyl die oostewind waai deur sy vodde se nate,
sy oë wat soek-soek tuur na ’n voetpad, uit teen die helling
op na die Hemel-op-die-berg

Met erkenning aan Boerneef se kortverhaal, "Teen die helling".

Isolatorium

Andries Louw Poësie 2020-03-23

"todat ons die virus se kriptoniet vind, dit verstaan,
is die nuwe halflewe van ons bestaan
net skoon PI-bindings in tuisbly-energie"

’n nuwe spekskieter

Andries Louw Poësie 2020-01-07

“die steenkool is nat
in die ketel ’n gat”

Top