Die Afrikaanse Taalraad (ATR) is positief oor die nuwe voorgestelde die taleplan vir skole in Suid-Afrika wat bepaal dat elke kind ‘n derde taal – Afrikataal – moet aanleer. Dit was die algemene gevoel na ‘n gesprek wat ‘n afvaardiging van die ATR met amptenare van die Departement Basiese Onderwys gevoer het. Die plan dek 'n beplanning tot 2026. Die Taalraad is spesiaal, as rolspeler in die talebestel van ons land, genooi om aan die gesprek deel te neem.
Volgens dr. Michael le Cordeur, voorsitter van die ATR, sal die ATR die plan kan ondersteun. “Dit kan veeltaligheid bevorder en vir Afrikaans (met die status van 'n Afrikataal) 'n billike staanplek in die onderwys gee”. Hy het bygevoeg daar is nog baie hakplekke wat uitgestryk moet word soos die gebrek aan geld, te min onderwysers en gebrekkige opleiding maar dit is nie iets wat onoplosbaar is nie.
Die Afrikaanse Taalraad het ‘n uitnodiging van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) ontvang vir ‘n gesprek oor bogenoemde onderwerp. Die gesprek wat op 22 Julie 2013 plaasgevind het, het in goeie gees verloop. Ander organisasies wat teenwoordig was, was die ATKV, die FAK, FEDSAS en die SAOU. Die DBO is deur ‘n hoëprofielafvaardiging verteenwoordig, bestaande uit: Mnr. Hubert Mathanzima Mweli (waarnemende adjunk-direkteur-generaal), Dr. N. Nduna-Watson (Direkteur kurrikulum-implementering en gehalteverbetering), Dr. J.J. Joshua (verantwoordelike persoon vir die ontwikkeling van bogenoemde plan), Mnr. Mmboniseni Nematangari (Hoofspesialis: Tale).
Die voorlopige verslag (wat reeds in besit van die ATR is) sal later aan die publiek vir kommentaar voorgelê word. Dit dien nou as ‘n voorgestelde beleidstuk van die departement en sal nie in wetgewing veranker word nie. Basies word beplan dat leerders van graad 1 af met drie tale moet kennis maak:
- Moedertaal (huistaal), d.w.s. die taal wat allereers deur kinders tuis geleer word; dit is die taal waarin ‘n persoon dink;
- ‘n Eerste addisionele taal – d.i. die taal wat naas die huistaal aangeleer word wat gebruik kan word vir interpersoonlikie en basiese interkulturele skakeling/kommunikasie en wat noodsaaklik is vir kognitiewe akademiese vaardighede wat essensieel is om die kurrikulum te bemeester;
- Tweede addisionele taal – die taal wat naas die die huistaal aangeleer word hoofsaaklik vir interpersoonlike en sosiale doeleindes; dit moet veeltaligheid bevorder.
Daar sal vorentoe ook ‘n interprovinsiale forum saamgestel word. Die ATR sal genooi word om twee kundige persone in die forum aan te wys. Voorlopig word beplan om al in 2014 met ‘n loodsprojek te begin – waarskynlik met ‘n aantal skole in elke provinsie. As daar tien skole per provinsie aangewys word, beteken dit dat 90 skole aan die loodsondersoek sou deelneem. Dit is nog maar net ‘n tentatiewe gedagte. Die hele plan sou in 2015 – dus ná die loodsprojek – moet begin met graad 1 en in 2026 tot by graad 12 vorder. Dat die plan moet slaag, moet in die eerste vyf jaar van inwerkingstelling bewys word. “The first five years are crucial”, aldus mnr. Mweli.
Belangrike voorvereistes vir die inwerkingstelling van die plan is bronne (finansies), behoorlike opleiding (onderwyskolleges?) en natuurlik genoeg onderwysers om die drietalebeleid vir skole te implementeer.
Voorlopige opmerkings wat deur ons gemaak is, was die volgende:
- Ons is bekommerd oor die voorsiening van onderwysers wat in die verskille kan onderrig en in ons geval gaan dit ook oor die vermindering van onderwysers wat Afrikaans as onderrigtaal/eerste addisionele taal sal kan hanteer. Meer beurse moet ook spesifiek vir Afrikaanse onderwysersopleiding beskikbaar wees.
- Ons wou weet wat die Minister oor Afrikaans sê: Mnr. Mweli het weer beklemtoon dat die Minister in die beplande tale-opset en –beplanning aan Afrikaans die status van ‘n Afrikataal gee. Hy het hom self baie gunstig uitgelaat oor die plek van Afrikaans in die basiese onderwys.
- Om sosiale kohesie met die nuwe beplande bedeling te bewerkstellig, is wel belangrik. Tog staan dit sekondêr tot die belange van die leerder wat optimaal moet kan leer en sy of haar kognitiewe vermoëns moet kan benut, uiteindelik om ‘n goeie landsburger te word in die nasionale belang van Suid-Afrika.
Die ATR het ‘n uitnodiging ontvang om binne die volgende 21 dae kommentaar te lewer op die voorgestelde konsepplan . Die ATR se onderwyskomitee vergader aanstaande week om ons amptelike terugvoer aan die DBO te finaliseer. Volgens Le Cordeur is die kanse goed dat die ATR saam met sy ledeorganisasies ‘n gesamentlike dokument sal opstel.
Een van die ATR se direksielede, mev. Magdie de Kock, wat ook die nasionale leier van Dameskring is, glo dat die geleentheid wat sy gehad het om op skool 3 tale aan te leer, steeds vir haar baie waardevol is. “Ek het destyds gekies om naas Engels en Afrikaans ook Zoeloe te neem en as 'n ekstra vak, het ek Noord-Sotho tot matriek geneem. Ek sou soveel armer gewees het sonder daardie taalvaardighede”. Ook Le Cordeur, wat Xhosa as vak op universiteit bestudeer het, is van mening dat ‘n derde taal jou soveel meer geleenthede bied tot nasiebou.


Kommentaar
Die opskrif moet liefs twee woorde korter wees: "ATR steun regering". Was die gesprek met die Departement Basiese Onderwys meertalig of, ooreenkomstig die voorkeur van die ANC-regering, eentalig Engels?
Johannes Comestor