32 jaar nadat die eerste Herfsskryfskool op Potchefstroom aangebied is (in April 1985), maak die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit steeds so – soos verlede jaar egter met ’n Winterskool.
Dosyne gevestigde skrywers het oor die jare hier ’n wegspringplek of hupstoot vir hul loopbane kom vind. Van 5 tot 9 Junie 2017 bied die ATKV-Skryfskool weer so ’n skolingsgeleentheid aan opkomende woordsmede.
Opwindende, bekroonde skrywers wat ook boeiende geselsers is, kom gee inspirasie en wenke aan dié wat die leer wil klim as skrywers van verhale, kinder- en jeugverhaalkuns en gedigte: Lien Botha, Simon Bruinders, Hans du Plessis, Fanie Viljoen, Cecilia Steyn, Martin Steyn en Bibi Slippers.
Die hartklop van die Winterskool is die werkwinkels waartydens kursusgangers kan slyp aan die pennevrugte wat hulle by inskrywing moet voorlê. Franci Greyling (kinder- en jeugverhale), Heilna du Plooy (verhaalkuns) en Bernard Odendaal (digkuns) sal die leiding by die drie werkswinkelgroepe neem.
’n Ander sterkpunt van die Winterskool is dat kursusgangers uit die spreekwoordelike perd se bek kan hoor wat uitgewers verwag van skryfwerk wat die paal gaan haal by die manuskripkeurders. In 2017 kom maak verteenwoordigers van die Afrikaanse hoofstroomuitgewers weer ’n draai by die Winterskool.
Stel jy belang om die Winterskool 2017 by te woon? Om meer te verneem oor die skryfkompetisie waardeur drie gelukkiges gratis bywoning van die Winterskool kan wen? Kom in aanraking met Kobie van Aswegen (sekretaresse) van die ATKV-Skryfskool vir meer inligting: kobie.vanaswegen@nwu.ac.za; tel 018 299 1783.
Kommentaar
Goeiedag Kobie,
Ek sal graag meer inligting soos koste en program en dies meer oor die Winterskool 2017 wil ontvang asook inligting oor die genoemde skryfkompetisie.
Baie dankie
Betsie Loock-van der Merwe
Enige planne om in die toekoms dalk 'n slypskool aan te bied in die skryf van drama, ek het wyd al navraag hieroor gedoen en daar is 'n groot leemte.
Kobie
Kan ek ook asb meer inligting oor die ATKV-Winterskryfskool kry, rakende kostes, verblyf en vereistes tov verhaalkuns?
Baie dankie.
Kobie stuur my asb die koste van die winterskool.
Dankie
Desmond
Kobie
Sal 'n liedjieskrywer baat vind by jou winterskool?