ATKV wil Afrikaans vestig as een van drie amptelike tale

  • 2

Met die nuutste sensus-resultate onder die arm, beplan die ATKV om groot maatskappye en die regering oor die volgende agttien maande te oortuig om Afrikaans as een van die land se drie amptelike tale aan te wys, het Danny Titus, Uitvoerende Direkteur: Kultuur van die ATKV gister (Woensdag 29 Mei) gesê.

Die nuwe Talewet wat pas deur pres Jacob Zuma bekragtig is, gee die land agttien maande om te beslis op minstens drie tale vir amptelike gebruik.

Titus, wat ook die Verenigde Nasies oor die regte van inheemse volke adviseer, het by die ATKV se algemene jaarvergadering in Mosselbaai gesê dat die nuutste sensusinligting baie bemoedigend is vir Afrikaans.

Vergeleke met die vorige sensus praat sowat 870 000 méér mense nou Afrikaans. Meer as 600 000 swart mense het aangetoon dat Afrikaans hul huistaal is. Afrikaans is onder die drie mees gebruikte tale in ses van die land se nege provinsies.

Verder het alle ander inheemse tale se gebruik dieselfde gebly of gedaal. Die gebruik van Engels het gestyg van 8.2% tot 9.6% van alle Suid-Afrikaners, terwyl Afrikaans gestyg het van 13.3% tot 13.5%.

“Die inligting is baie opwindend. Maar ons staan met die nuwe Talewet ook voor die grootste uitdaging vir tale in Suid-Afrika ooit. Ons sien uit daarna om die nuwe riglyne te gebruik en die taal op ’n nuwe baan te plaas,” sê Titus.

Die ATKV het reeds begin om die Talewet te vertaal in beide wettiese - en gebruiksafrikaans.

“Ons praat ook met verskeie staatsdepartemente en ander instellings soos Telkom en Transnet om die belang van die wet uit te lê en met hulle ’n pad te stap. Die wet gee aan ons breë riglyne. Ons wil ons Afrikaanse bona fides op die tafel plaas en die taal se saak oordra.

“Ons glo ons staan ’n sterk kans om Afrikaans te vestig as een van drie landswye amptelike tale.”

Volgens Titus het die ATKV reeds met ander taalgemeenskappe begin praat om die taalregte en –verpligtinge aan hulle uit te wys. Daar is ook ander taalorganisasies wat die ATKV se bedingingsprosesse dophou.

Die ATKV het oor die afgelope jaar meer as 300 nuwe takke geopen.

“Anders as politiek wat verdeel is kultuur daar om mense bymekaar te bring. Ons is betrokke by die Voortrekker Museum, maar ons gee ook erkenning aan die Distrik Ses Museum, en werk om Afrikaans te versterk in ander erfenisgebiede,” sê Titus.

  • 2

Kommentaar

  •  Dis lekker om te weet julle WERK vir die behoud van ons taal, en nou julle strewe om Afrikaans as een van die drie amptelike tale gevestig te kry, is bemoedigend.  Ek wens julle alle sukses toe.

    Jaco Fourie

  • Daar is geen verwysing na drie amptelike tale in die Talewet nie. Dr Titus kan eerder die Menseregtekommissie versoek om van die term 'isiBhulu' ontslae te raak, want Afrikaans was nog nooit die eksklusiewe besit van enige 'Boer' nie. Hoekom dans Afrikaanses so versigtig rondom hierdie pejoratief rond?

    Kobus Faasen

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top