
Wouter de Wet, aanbieder van die baie gewilde Dis Opera op RSG, is tydens die ATKV-Mediaveertjies met ? spesiale toekenning vereer vir sy lewensbydrae tot die Afrikaanse uitsaaiwese. “Dis ? uitsonderlike prestasie om vyftig jaar lank as omroeper op sowel sport- as kultuurgebied ‘n wesenlike bydrae te lewer tot Afrikaans,” het Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, tydens die oorhandiging gesê.
De Wet het as skoolseun in die destydse Suidwes-Afrika (nou Namibië) net een begeerte gehad: om programme oor klassieke musiek op radio aan te bied. Na matriek het hy by die Universiteit van Kaapstad ? BA met radiowese as hoofvak behaal.
Vyf dekades later leef hy as 73-jarige steeds sy droom as deeltydse omroeper en aanbieder van Dis Opera uit. “My loopbaan het my groot bevrediging verskaf, en ek is baie dankbaar vir die geleenthede wat die SABC my oor die dekades gebied het,” sê De Wet.
Sy uitsaailoopbaan het in 1964 by die destydse SAUK begin, en hy was onder meer die eerste programopsteller van die destydse splinternuwe musiekstreekdiens Radio Hoëveld. Later het hy by die span van Springbokradio aangesluit, waar hy sewe jaar lank musiekprogram-opsteller, teksskrywer, regisseur en aanbieder was.
In 1984 word hy na die Afrikaanse dagblad Beeld gelok, eers as musiekkritikus en spesialis-skrywer oor die vermaaklikheidswêreld, en later as redakteur van die destydse kunsbylaag, Kalender. In dié tydperk het hy steeds gereeld uitgesaai en verskeie jare lank Operetteland op die destydse Radio Alllegro aangebied.
Maar in 1988 wen die roepstem van die mikrofoon en hy ‘n pos aanvaar as Eerste Regisseur: Musiekprogramme by die destydse Radio South Africa (nou SAfm). Tot en met sy aftrede in 2002 was hy die skakelbeampte van dié diens, en ook aanbieder van die gewilde klassieke musiekprogram Sundays at One.
Hy was jare lank die SAUK se tenniskommentator by Wimbledon en is sedert sy aftrede steeds bedrywig as vryskut-aanbieder by RSG, waar hy onder meer drie jaar lank U eie Keuse en Klassieke Keuse saamgestel en aangebied het.
Magdaleen Krüger, stasiebestuurder van RSG en jarelange kollega, beskryf De Wet as ‘n “ewig sjarmante heer in alles wat hy doen en met almal met wie hy saamwerk.”
“Wouter het ? benydenswaardige kennis van en kundigheid oor musiek, veral oor operamusiek en die groter operawêreld, en het al skouers geskuur met van die beroemdste operasterre, soos Tito Gobbi, Tereza Berganza, Richard Tucker, Elizabeth Schwarzkopf, Mimi Coertse en Victoria de los Angeles, om maar enkeles te noem.”
By operamusiek hou dit egter, volgens Krüger, nie op nie. “Hy is ewe kundig en passievol oor ligter kwaliteitmusiek, en dol oor die musiek van Lana Turner.”
Sedert April 2010 is hy die samesteller en aanbieder van Dis Opera. Die program word Sondagaande tussen 21h00 en middernag op RSG uitgesaai.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


Kommentaar
Ek is nuuskierig mbt veral akademiese artikels wat geplaas word en ook gesprekke tussen meningsvormers
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️Briljant, Wouter. Donkiejare terug het ek saam met jou in Die Tuine klas geloop. Veels geluk. Dit verdien jy regtig. Groete.
Loretta Pienaar
Wouter ek het by jou moeder klavierlesse in Windhoek geneem toe ek in die laerskool Emma Hoogenout was. Sy was 'n wonderlike mens. Ek en jy is ewe oud, ons het in Zeitzst gewoon, die straat onder julle. Dit was sulke wonderlike sorgvrye dae. Wonderlik om te weet jy leef jou drome uit. My allerbeste wense.