ATKV vereer bekendes in die kunste

  • 0

Op Woensdag, 15 April is Bennie Bierman, Johan van Rensburg, Carel Trichardt, Petru Wessels en Anneli van Rooyen deur die ATKV vereer vir hul lewenslange bydrae tot die kunste in Suid-Afrika.

Volgens Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, het Afrikaans en Afrikaanssprekendes kreatiewe vermoëns wat onder die beste ter wêreld getel kan word. “Taal en kultuur word deur die ATKV beskou as van die belangrikste instrumente om Suid-Afrikaners te help om mekaar beter te verstaan. Met hierdie toekennings wil die ATKV graag erkenning gee aan diegene wat deur middel van talente en vaardighede ’n onmisbare bydrae gelewer het tot die kunste in Suid-Afrika,” het Gouws gesê.

Bennie Bierman was tussen 1981 en 1995 die hoof van musiek by die SAUK. Na sy aftrede was hy tot 1999 steeds die samesteller en aanbieder van die program Knapskoot op RSG. Behalwe vir sy werk by die SAUK was Bennie Bierman ook deur die jare betrokke by verskeie kore en orkeste, en hy het hom deur die jare  onderskei as een van die land se top-musiekbeoordelaars. By die ATKV was Bennie betrokke by die totstandkoming van die Forte-, Crescendo- en Prelude-musiekkompetisie en hy was ’n beoordelaar van ATKV-Applous en ATKV-Lier.

Musiek is in Johan van Rensburg se gene. Na ’n loopbaan as lektor in musiek aan die destydse PU vir CHO, word hy in die middel tagtigs aangestel as regisseur en later spesialis-regisseur van Afrikaanse verskeidenheidsprogramme by SAUK TV1 in Aucklandpark. Hy verlaat die SAUK in 1989 en stig Stemmburg Televisie saam met Johan Stemmet. Gedurende die tagtigerjare speel die twee Johans leidende rolle in die aanbieding van ses jaarlikse ATKV-Liedjieskryfwerkswinkels. Johan is self ’n ATKV-Crescendowenner – hy het in 1983, die jaar waarin sy vrou Rina Hugo aangewys is as die algehele wenner van Crescendo, die afdeling vir beste Afrikaanse liedjie van die jaar gewen.

Die bekende akteurspaar, Carel Trichardt en Petru Wessels, het geen bekendstelling nodig nie. Carel is nie net ’n gesoute verhoogakteur en –regisseur nie, maar het deur die jare ’n huishoudelike naam geword weens sy verskyning in talle films, televisiedramas en –reekse, asook radio-aanbiedings en handelsflitse. Hy tree ook gereeld op as beoordelaar van kunswedstryde en toneel- en filmfeeste, waaronder die ATKV se Tienertoneelfees.

Saam met haar man het Petru haar merkwaardige talent vir Afrikaans ook ingespan om ’n verskeidenheid poësie- en prosaprogramme saam te stel wat landswyd opgevoer is. Petru en Carel is al jare aktief betrokke by die bevordering van die Afrikaanse woord deur onder meer skoolbesoeke, kinderteater, die aanbied van jeug- en vroueweke, dramaklasse, boeke-uitstallings en spesiale opvoerings vir senior burgers.

Anneli van Rooyen beklee eweneens ’n spesiale plek in die geskiedenis van Afrikaans, danksy treffers soos Seemeeu, Sewe sakke sout, Ek wil jou ken, Neem my op vlerke en Ek lewe, om maar net enkeles te noem.  As eerstejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria is sy in 1979 aangewys as wenner van die ATKV-Crescendo. Daarna was sy op verskeie maniere betrokke by die Afrikaanse musiekbedryf totdat trigeminale neuralgie, ’n uiters pynlike toestand, haar musiekloopbaan kortgeknip het. Anneli is ten spyte daarvan steeds bekend vir haar blymoedigheid en groot geloof.

  • Volledige commendatios met volledige inligting oor almal se loopbane en prestasies is elektronies beskikbaar by Mercia Eksteen (merciae@atkv.org.za).
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top