ATKV-Tienertoneelkompetisie word 50

  • 0

 

Die ATKV-Tienertoneelkompetisie vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar.  
Izak de Vries het met drie van Suid-Afrika se voorste toneelspelers, Pedro Kruger, Jacques Bessenger en Johann Nel, gesels om te hoor hoe ATKV-Tienertoneel hulle beïnvloed het.

Pedro Kruger, wat reeds meer as 25 jaar lank professioneel toneel speel, is baie opgewonde oor die nuwe generasie akteurs wat hy op die verhoog sien. In ons gesprek verwys hy na die nasionale wenner van die 2013 ATKV-Tienertoneel wat tydens die 20ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn te sien was. Die stuk was Sneeuwitjie en die Sewe Zombies van die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch. “Dit was uiters goed, en het heeltemal uit eie reg tydens die KKNK geskitter.”

Vyftig jaar gelede is die saadjie geplant van dié projek, wat nou skoolproduksies op die verhoog sien skouer skuur met professionele vertonings. Zombies was egter nie op die agenda tydens die eerste vergaderings oor die ATKV se toneelbetrokkenheid nie; in 1963, tydens die 125ste herdenking van die Groot Trek, het die ATKV ’n eerste poging aangewend om die toneelkuns te ontwikkel, veral nadat president CR Swart die feit betreur het dat dit nie goedgaan in die toneelwêreld nie. In 1964 word die besluit geneem om ’n toneelkompetisie vir skole in te stel en in 1965 het die kompetisie amptelik begin, met 22 toneelgroepe wat in die ou Transvaal meeding.

Vyftig jaar later is deelname landswyd en die kompetisie strawwer as ooit vantevore. Pedro Kruger sê die ATKV-Tienertoneel is van ’n “ongelooflik hoë standaard; dit is nie sommer net ’n skoolkonsert nie”. Dit is ook ánders as kompetisies waar jy oornag roem verwerf en dan weer van die toneel verdwyn, sê Kruger. Om ’n professionele verhoogpersoon te wees is ’n langtermynbesluit en ?belegging en tydens die ATKV-Tienertoneelkompetisie leer ’n akteur die dissipline van groepwerk, wat later belangrik is vir ’n loopbaan.

Jacques Bessenger stem saam: “Dit bied ’n platform vir jong akteurs om te verstaan hoe werk repetisies, die tegniese aspekte van teater, die skep van karakters, ensemblespel, wát goeie teater is, en dissipline ...”

Dit is presies hoe Kruger voel: “Mense werk hard, hoor. En dit is nie net die kinders wat deelneem nie, dit is ook die jong regisseurs. Dis onnies wat dalk nie die eerste keer wen nie, maar wat leer by dié wat beter is. Dán, gee hulle so twee tot ses jaar, en nóú begin hulle werk doen van standaard.”

Johann Nel was een van daardie onnies. Hy is al vyf keer as beste regisseur aangewys vir die werk wat hy by die Hoërskool Gimnasium in die Paarl gedoen het. Sedert hy in 1996 ’n professionele akteur geword het, was hy gereeld ’n beoordelaar van die ATKV-Tienertoneelkompetisie.

Die lys van gróót name wat hulle talente op die ATKV-Tienertoneelverhoog geslyp het, is baie lank. Hier is maar ’n paar: André van der Merwe, Anneke Weideman, Anton Treurnich, Burgerd Botha, Carina Nel, Cintaine Schutte, Christo Davids, De Klerk Oelofse, Francois Toerien, Herman Lensing, Jak de Priester, John-Henry Opperman, Lindie van Eden, Melinda Bam, Neels Clasen, Neels van Jaarsveld, Patrick Shabangu, Piet Matipa, Roeline Daneel, Quintin Wils, Vilje Maritz.

Vilje Maritz (Verraaiers, Liefste Kayla, High Rollers, Binnelanders, Swartwater) is in 2008 as die beste akteur aangewys tydens die ATKV-Tienertoneelfinaal vir sy rol in Hoërskool Jan van Riebeeck se Jutro. Jutro is as die beste ATKV-Tienertoneelproduksie aangewys in 2008.

Nel sê egter dat ’n mens nie alleen die professionele mense moet noem nie. “Ek dink die persentasie deelnemers wat die wrede wêreld van die teater uiteindelik betree, is maar erg laag. Wat ek wel kan sê, is dat 99,9% van die honderde leerlinge wat tydens my onderwysjare deur my hande is, dit nog steeds as ’n hoogtepunt van hulle skoolloopbaan beskou. En hopelik is my oudspelers vandag ingeligte gehoorlede!”

Inderdaad, sê Pedro Kruger. “Slegs 2% van alle kinders wat deelneem aan ATKV-Tienertoneel word akteurs, maar dis ’n goeie ding. Ons kan nie almal op die verhoog wees nie – wie gaan dan kom kyk?” Die punt is egter dat hy talle mense ken wat vandag ander beroepe beoefen, maar steeds die dissipline toepas wat hulle saam met hom op die verhoog geleer het. “Of jy nou op die verhoog is, of voor mense moet praat in die raadsaal, daar is goed wat jy moet weet. Dít het ons dáár al geleer.”

Vir Jacques Bessenger was daar egter net een paadjie: “Die groot rede waarom ek betrokke was by die ATKV-Tienertoneel, is dat dit my op ’n groot skaal vervul het en gelukkig gemaak het. Dit het ’n baie groot en belangrike deel van my hoërskoollewe uitgemaak en ’n groot invloed gehad op die besluit om drama te swot en ’n akteur te word.”

Beide Johann Nel en Pedro Kruger het al as beoordelaars by ATKV-Tienertoneel opgetree, want albei wil iets teruggee. Die passie waarmee die ATKV se lede en personeel dié program aanpak, is ook deurslaggewend, sê Kruger. “Die motivering, die passie, die energie van die ATKV se lede wat deelneem aan hierdie projekte moet jy nooit onderskat nie. Ek het dit destyds ervaar, en nou baie jare later, nou dat ek beoordeel, is dit steeds so. Ek het nou ’n lekker gemaklike plek bereik in my loopbaan. Ek wil nou die mentorrol oorneem. Dit is tyd om die fakkel aan ’n nuwe generasie oor te gee.”

Die ATKV se droom vir dié kompetisie is om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel en toneelkyk by hoërskoolleerders te kweek sodat leerders hul kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel.

Hierdie jaar se beoordelaars is Pedro Kruger, Gerrit Schoonhoven, Antoinette Louw, Ira Blanckenberg, Wilhelm van der Walt, Ilse Oppelt, Cintaine Schutte en Jefferson J Dirks-Korkee.

Toegang by die tien streeksfeeste wat in 2014 aangebied word, is gratis. Beleef dié smeltkroes van talent. Die Saterdagaand van elke streeksfees vind die streeksfeesfinaal plaas met die top vier stukke van die streeksfees.

  • 28 Julie tot 2 Augustus by die Roodepoort Theatre
  • 30 Julie tot 2 Augustus by die Windhoek Gimnasium-ouditorium in Namibië
  • 4 tot 9 Augustus by die Sanlam-ouditorium op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit
  • 6 tot 9 Augustus by die Hoërskool Ermelo-ouditorium
  • 11 tot 16 Augustus by die Wynand Mouton-teater in Bloemfontein
  • 14 tot 16 Augustus by Kingsway High School in Amanzimtoti
  • 18 tot 23 Augustus by die Unisa Little Theatre in Pretoria
  • 19 tot 23 Augustus by die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg
  • 25 tot 29 Augustus by die Hoërskool Durbanville-ouditorium (en die streeksfeesfinaal op 30 Augustus by die Kunstekaap-teater)
  • 26 tot 30 Augustus by die Savoy Theatre in Port Elizabeth.

Die finaal vind plaas tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees van 7 tot 11 Oktober.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top