ATKV-Tienertoneel: Opoffering bring uitstekende resultate vir jong leerders

  • 1

Die ATKV-Tienertoneelkompetisie word vanjaar vir die vyftigste keer gehou. Tien finaliste sal tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees meeding om die gesogte prys van R30 000 en die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee te ontvang.

Tog, dit gaan uiteindelik oor méér was die wengeld. Linda van Niekerk, die regisseur van Helpmekaar Kollege se Rooi sê: "Om deur te gaan Aardklop toe, is die kersie op die koek." Maar álmal baat hierby, nie net die finaliste nie. Sy sê die kompetisie skep ’n ongelooflike platform, ook vir dié kinders wat nie deurgaan na die finaal nie. "Ons het ’n groep wat nie deur is nie, maar selfs daardie kinders, hulle het soveel geleer."

Hiermee stem Kobie Jacobs, die drama-onderwyser by Schoonspruit Sekondêre Skool op Malmesbury, saam. Vir háár kinders beteken deelname aan die ATKV-tienertoneel ’n geleentheid om toneel te sién. Op Malmesbury is daar nie ander geleenthede daarvoor nie.

’n Mens staan eintlik verstom oor die opoffering wat sommige leerders moet maak om deel te neem. Malmesbury is ’n plaasgemeenskap en die afstande is groot. Baie ouers het nie motors nie. Wat maak die kinders dan om te kan oefen? Hulle slaap in die klaskamer. Dit is die enigste manier hoe hulle die ure kon insit.

En nou het dié skool twéé stukke in die finaal. Kobie is vreeslik opgewonde, want dit is ’n arm deel van ons land en gewoonlik is daar nie geld om mee te ding met die groot skole nie. “Geld vir dekor en geld vir kostuums is daar nie,” sê sy. “Hierdie jaar was daar ’n Duitse meisie wat vrywillige werk by die skool kom doen het, en sý het die kostuums vir ons gemaak.”

Haar twee regissuers, Gershwin Cloete, wat Nog nie vry nie afrig, en Emile Smith wat Ons Kleine Dorpie afrig, is albei oudleerders en hulle gee hulle tyd en dienste heeltemal gratis.

Marcel van Niekerk, wat die regie van Harnas behartig by die Hoërskool Louis Trichardt, wys daarop dat húlle ook talle struikelblokke moes oorkom. Louis Trichardt is ’n klein dorpie met diep politieke verskille wat ook in die skool afgeëts word. Dit is boonop ook ’n klein skooltjie met ’n baie groot diversiteit, so daar is vele uitdagings. Daar is geen teaters naby die dorp nie, daar is selfs nie eens ’n fliek nie. Hulle kan nie soos skole in die stad gou ’n vertoning gaan kyk nie. “Baie van hierdie kinders het nog nooit na ’n toneel gekyk nie,” vertel hy.

Tog het hierdie skool al onder Nico Scheepers, nou betrokke by Hoërskool Jan van Riebeeck, diep spore getrap in die ATKV-Tienertoneel. Vir Marcel om by Nico te kom oorneem, is ’n “lekker ervaring”.

Marcel se toneelgroep is divers, verskeie praat Sotho of Venda as huistaal. Afrikaans is vir dié leerders enige iets tussen ’n tweede en ’n vierde taal.

Die diversiteit in die skool bring groot uitdagings en die omgewing se politiek veroorsaak wel struwelinge. Tog, hoe verder hierdie groep gevorder het, hoe hegter het hulle saamgewerk. “Dit is ’n droom, almal het rustig geraak en werk nou na dieselfde doel toe.”

Vir Marcel is dit die lekkerste lekker om te sien hoe leerders wat gewoonlik nie uitstyg nie, in sý groep begin blom. Die dramagroep is dikwels die “odd ends” van die skool, sê hy, maar dit is juis vir hierdie kinders so belangrik om skielik uit te styg. “Ek kan nie genoeg dankie sê vir die ATKV nie.”

Ek het toe vir Nico Scheepers gebel. Hy is weer in die finaal. Hierdie jaar is hy die regisseur van Na ’n aarde wat deur Hoërskool Jan van Riebeeck van Kaapstad, opgevoer word.

Nico se hele loopbaan is deur die ATKV-tienertoneel beïnvloed. Nie net het hy, as regisseur, al twee maal wenstukke gelewer nie, hy het grootgeword daarmee.

Sy tannie was die drama-onnie by die Hoërskool Louis Trichardt en reeds as seuntjie het Nico haar vertonings bygewoon en gesien hoe hulle repeteer. Toe hy ouer word, het hy self gespeel onder haar leiding. Sy liefde vir drama is daar finaal gevestig.

Ná skool is hy Tuks toe waar hy drama gaan studeer het. Sy ou skool het hom terug verwelkom en só het die Hoërskool Louis Trichardt in 2010 en 2011 wenproduksies gelewer onder sy regie.

As deel van die ATKV se mentorskapprogram het Hennie van Greunen vir Nico toe onder hande geneem en hy het Kaap toe getrek. Dít is hoe hy by die Hoërskool Jan van Riebeeck tereggekom het. Na ’n aarde is ’n stuk wat hyself geskryf het. Hy verduidelik dat hy gewoonlik die spelers kies waarmee hy wil werk, dan skep ’n teks wat by hulle sal pas.

Nico is natuurlik nie die enigste bekende wat deur die ATKV-Tienertoneel geslyp is nie. Name soos Pedro Kruger en Jacques Bessenger duik gereeld in die anale van die ATKV-Tienertoneel op, loer gerus na hierdie skakel waar daar onderhoude gevoer is met bekendes wat diep spore getrap het in die ATKV-Tienertoneel.

In 1965 het die kompetisie begin met 22 toneelgroepe uit die ou Transvaal. Vandag, 50 jaar later neem hoërskole van regoor die land deel en met 185 toneelstukke is dié gesogte kompetisie strawwer as ooit. Hier is maar ’n paar gróót name wat hul talente geslyp het op die ATKV-Tienertoneelverhoog: Anél Alexander, Anneke Weideman, Anton Treurnich, Cintaine Schutte, Christo Davids, Francois Toerien, Jak de Priester, Johann Nel, John-Henry Opperman, Lindie van Eeden, Neels van Jaarsveld, Patrick Shabangu, Quintin Wils, Roeline Daneel, Viljé Maritz …

 

Jak de Priester is in 1994 aangewys as die beste akteur vir sy rol in Nommer 10 van Hoërskool Parys, wat hy ook self geskryf het, is hier saam Esté Pienaar, wat steeds drama afrig by Hoërskool Monument, is in 1976 aangewys as die beste regisseur. FOTO: DIE ATKV.

Pieter Alberts, van Hoërskool Zwartkop in Centurion, is baie bewus van die 50 jaar-mylpaal rakende die ATKV-tienertoneel en hy is baie dankbaar dat hulle die geleentheid kry om op te tree. Om toneel te speel daag ook die leerders se persepsies uit, sê hy. Pieter het dit gewaag om ’n teks oor die Boere-oorlog aan sy leerders voor te lê. Hy het Die Joiner self geskryf en was benoud oor die leerders se reaksie: “Wat gaan hulle doen as hulle vertel word hulle moet in kappies en lang rokke optree?” Tog was hulle baie positief, sê hy, deels ook omdat die stuk uiteindelik versoening probeer najaag.

Linda van Niekerk, van Helpmekaar Kollege, onthou nog die dae toe hierdie kompetisie bekendgestaan het as die Direkteurstrofee. Sy was sommer ’n baie jong onderwyser toe sy aan daardie kom kompetisie deelgeneem het. “Die hoof sê toe: ‘As jy die Direkteurstrofee wen, dan kry jy ’n permanente pos.’ Toe wen ek hom!”

Hoe voel dit om nou, na al die jare, weer ’n stuk in die finaal te hê? “Dit is ’n ongelooflike ondervinding. Om deur te dring is baie lekker. Daar is vlinders op jou maag,” sê Linda.

Die tien toneelstukke wat deurdring na die ATKV-Tienertoneelfinaal is:
1. Helpmekaar Kollege met Rooi
2. Hoërskool Jan van Riebeeck met Na ’n ander aarde
3. Hoërskool Louis Trichardt met Harnas
4. Hoërskool Noordheuwel met Hartskelder
5. Hoërskool Parel Vallei met WolkKop
6. Hoërskool Upington met Kringloop
7. Hoërskool Zwartkop met Die Joiner
8. Potchefstroom Gimnasium met Verspeelde Tyd
9. Schoonspruit Sekondêre Skool met Nog nie vry nie
10. Schoonspruit Sekondêre Skool met Ons Kleine Dorpie

Soos reeds vermeld, kry die wenner R30 000. Die naaswenner ontvang R20 000 die groep in die derde plek, ontvang R10 000.

Die Hoër Meisieskool Bloemhof is verlede jaar aangewys as die wenner met Sneeuwitjie en die Sewe Zombies (met teks en regie deur Christiaan Olwagen en André Gerber).

 

Hoër Meisieskool Bloemhof wat in 2013 as die nasionale wenner aangewys is met Sneeuwitjie en die Sewe Zombies. FOTO: DIE ATKV.

Die ATKV se droom vir dié kompetisie is om ’n liefde vir Afrikaanse toneelspel en -kyk by hoërskoolleerders te kweek sodat leerders hul kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en ontwikkel.

Die beoordelaars tydens die finaal is Antoinette Louw, Gerrit Schoonhoven, Ira Blanckenberg, Johny Klein, Pedro Kruger, Shirley Ellis en Tina Kruger.

Die finaal vind plaas tydens die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees van 7 tot 11 Oktober.  Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Kontak gerus vir Lizané Basson by 011 919 9078 of e-pos lizaneb@atkv.org.za vir meer besonderhede.

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top