ATKV: Temba-musiekprojek

  • 0

Japie Gouws, besturende direkteur van ATKV-groep en Maria Manyane, medestigter van die Temba Musiekprojek

Die gesiggies is die ene konsentrasie, want vandag word hier musiek gemaak. Dis immers wat elke Sondagmiddag hier by die Temba Musiekprojek by Ratshepo High School in Temba naby Hammanskraal gebeur. “Musiek sê dit wat nie uitgedruk kan word nie,” verduidelik Maria Manyane, medestigter van die projek. “Musiek kalmeer die brein, genees die hart en vloei direk uit die hemel na die siel.” 

Vandag is egter om  ’n ander rede baie spesiaal: ATKV-Muziq, die ATKV se klassieke instrumentale musiek-kompetisieprojek, kom oorhandig ’n broodnodige klavier, skootrekenaar en drukker aan die musiekskool, en die kinders vermaak hul weldoeners met ’n spesiale konsert.

Manyane en Jacobeth Mmope, beide afgetrede skool-inspekteurs, het reeds in 2005 met die projek begin. “Ons wil die lewens van kinders in en om Temba verryk. Deur musiek kan baie dinge bereik word, en met die regte leiding en hulpbronne kan hierdie kinders musikante word. Musiek kan selfs vir hulle ’n bron van inkomste word.” Destyds was daar net 35 leerders en twee tutors - deesdae is daar 120 leerders van woongebiede rondom Temba wat weekliks onder die geduldige leiding van veertien tutors alles van musiek kom leer.

Die gesiggies is die ene konsentrasie, want vandag word hier musiek gemaak.

Daar word ook nie net sommer musiek gemaak vir die pret nie. Almal werk hard, want al die leerders  lê jaarliks die Unisa-musiekeksamens af.

Die twee toegewyde vroue het nog altyd geglo dat gemeenskapsontwikkeling iets is wat nooit oorbeklemtoon kan word nie, veral nie wanneer dit kinders eerste stel nie. “Die mees bevredigende deel van ons werk is om Sondae te sien hoe hierdie kinders oefen om solo-kunstenaars te word, en te sien hoe hulle weekliks hul instrumente beter leer ken,” vertel Manyane. Sedert sy as Afrikaans-onderwyser in die 1970’s begin het met die afrig van skoolkore, was dit haar droom om ’n skoolorkes te begin, en so is die Temba-projek, ’n nie-winsgewende organisasie, gebore. “Dis ’n tuiste vir kinders, ’n plek waarheen hulle kan vlug van al die uitdagings soos drank en dwelms. Hier kan hulle nog hul jeug geniet.”

Maar die droom het amper in ’n nagmerrie ontaard weens ’n tekort aan instrumente. Die projek is aanvanklik met die hulp van ’n plaaslike kerk bedryf, maar namate die projek gegroei het, was meer hulp nodig. Hulle het toe vir  John Roos, destydse direkteur van die Unisa Musiekstigting genader vir hulp. Die stigting is sedert 2011 die amptelike borg van die projek, en betaal onder meer vir twaalf van die veertien tutors se dienste, en verskaf ook die instrumente. Kinders kan kies uit verskillende snaarinstrumente soos viool, altviool, tjello en kitaar, en blaasinstrumente soos trompet, tromboon, saxofoon, fluit, klarinet en blokfluit. Klavier- en sangonderrig word ook aangebied. Die stigting se enigste voorwaarde is dat alle leerders inskryf vir die Unisa-eksamens.

Omdat die Unisa Musiekstigting nie in al die projek se behoeftes kan voorsien nie, het die ontwikkelingsbeen van ATKV-Muziq besluit om van vanjaar af by die projek betrokke te raak. Volgens Ilse Schürmann, organiseerder van ATKV-Muziq, is dit nodig om nie net die gemeenskap en spesifiek talentvolle jong musici  te ondersteun ter wille van hul drome nie, maar ook om toe te sien dat klassiekemusiek 'n toekoms in Suid-Afrika het. “Die ATKV is ook een van die min instansies in Suid-Afrika wat tans belê in klassiekemusiek, en dus ook  in talentvolle jongmense.”

Musiek sê dit wat nie uitgedruk kan word nie.

Manyane en haar span volg ’n baie praktiese benadering. “Voordat iemand  ’n saadjie kan plant, moet hy eers leer om met grond te werk, en daarom begin die onderrig by note lees. Daarna leer die kind blokfluit speel om musiekteorie beter te kan bemeester. Eers wanneer die tutors tevrede is met die kind se vordering, kan hy of sy ’n instrument kies om te bespeel.” Ouers word ontmoedig om namens die kind ’n instrument te kies. “Ons glo dis beter dat die kind self sy passie ontdek. Musiek leer hulle onafhanklikheid en self-dissipline,” sê Manyane. Deur musiek kry die kinders ook die kans om ver buite die grense van die woongebiede te reis. Die projek se orkes het al by verskeie glansgeleenthede opgetree, en twee van die tutors, Obakeng Moatse en Onica Ramatjela het al oorsee deelgeneem. Obakeng en Sipho Sibiya, twee leerders, was vanjaar op ’n Europese toer saam met die Miagi Orkes.

Die Temba Musiekprojek het ook ’n volwaardige orkes wat al by verskeie glansgeleenthede opgetree het, dikwels op uitnodiging van die burgemeester van Tshwane.

Mnr. Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, het by die oorhandiging gesê die jeug is vir die organisasie belangrik, en dat hulle graag belê in projekte soos hierdie.

"Kultuur suig baie dikwels aan die agterspeen by skole omdat daar voorkeur gegee word aan akademie en sport.  Ons glo egter kultuur bied unieke geleenthede om kreatiwiteit en leierskapte ontwikkel. Juis daarom is dit vir die ATKV belangrik om by sodanige projekte betrokke te wees."

Fotograaf: Annemarie Brink
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top