Taaldag

  • 0

“Afrikaans is een van die mees gevestigde tale op talle gebiede in Suid-Afrika en die toegeneendheid teenoor die taal groei van dag tot dag.” Dit is die boodskap van die besturende direkteur van die ATKV-groep, Japie Gouws op Taaldag.

Die 2011-sensus het opnuut bevestig dat Afrikaans ’n wesentlike deel van die bevolking se moedertaal is. Dit toon verder aan dat Afrikaans een van die mees gebruikte en mees verstane tale onder alle bevolkingsgroepe is.

Die ATKV se taalprojekte en inisiatiewe die afgelope jaar bevestig die talle geleenthede wat daar vir Afrikaans bestaan. Deelname van tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans groei jaarliks, in projekte soos die ATKV-Spelathon, wat deel is van die Afrikaanse Spelfees in samewerking met die SA Akademie. Verder was die meertaligheidsprojek op die Soweto-kampus van UJ ’n groot sukses. Die ATKV se talle ander taalprojekte in skole dwarsoor die land en in Namibië, gaan ook van krag tot krag.

Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale in Suid-Afrika, gee verdere geleenthede vir inheemse tale. Dit is egter jammer dat baie staatsdepartemente en semi-staatsinstellings, op wie die Wet van toepassing is, bitter min vordering toon met die implementering daarvan. “Die ATKV is tans in gesprek met die parlementêre komitee en verskeie politieke partye oor die aangeleentheid”, het Gouws gesê.

Die ATKV beskou tale en kulture as ideale instrumente om nasiebou te bevorder en om goeie en opbouende goed in Suid-Afrika te laat gebeur.

“Almal moet hand in eie boesem steek om geleenthede te skep en te benut om dit te laat gebeur. Koop ’n boek vir jouself of as geskenk, leer ’n inheemse taal aan en lees stories vir jou kinders en kleinkinders. Moenie tydskrifte, koerante of boeke weggooi nie – gaan gee dit by ’n skool of kleuterskool of ouetehuis af.”

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top