ATKV Senior Burgers presteer in eerste landwye Afrikaanse Talentkompetisie 2013

  • 0

’n Sopraan en Boeremusiekmusikante as die algehele wenners aangewys.

Die eerste landwye Afrikaanse Talentkompetisie vir Senior Burgers het groot belangstelling ontlok en puik talent opgelewer.

Van ons land se bekendste en suksesvolste sangers en musikante, wat self ook nou senior burgers is, het as die beoordelaars opgetree. Twee van ons Afrikaanse sangers met internasionale status, nl Mimi Coertse en Rouel Beukes was die hoofbeoordelaars. Ander lede van die paneel was: Gert van Tonder, Lance James, Lieb Bester, Marna Steyn, Martin Lane, Min Shaw, Sonja Heroldt en Theo Erasmus. Hulle was vol lof vir die puik talent wat weer onder ons senior burgers ontdek is. Van hulle het onder andere opgemerk:

“Dit was hoogtyd dat ons aan ons senior burgers wat nog oor sang- en musiektalent beskik, die geleentheid bied om van hulle te laat hoor. Dankie aan die ATKV,” was Lance James se kommentaar. Hy vier vanjaar al sy 54ste jaar op die verhoog.

“Ek is aangenaam verras oor die verskeidenheid en gehalte van sang- en musiektalent onder my mede senior burgers,” was Mimi Coertse se kommentaar.

Die kompetisie vorm deel van ATKV Centurion se verskeidenheid Omgeeprojekte. Dit is ook in opvolging van ’n vorige Omgeeprojek “Ons eer ons Senior Burgers” wat ’n CD met dieselfde titel bevat. Die bestes van vanjaar se Talentkompetisie word in CD2 opgeneem. Hierdie CD’s is nie in die handel te koop nie. Ons mikpunt is om, soos wat ons donasies van die publiek en besighede ontvang, ’n kopie aan elke ouetehuis en aftreeoord in Suid-Afrika beskikbaar te stel, sodat inwoners in die sentrale sitkamer daarna kan gaan luister.

Die Pryswennerskonsert het Donderdag 27 Junie in die Lemon Jackteater in Centurion plaasgevind.

Die Paneel van beoordelaars het die volgende senior burgers as wenners en naaswenners in die onderskeie kategorieë aangewys:

Kategorie 1:       Sing ’n Afrikaanse liedjie
Wenner: Anette Jonker van Kroonstad    “Ek kyk graag so diep in jou o?”
Naaswenner:  Linda Malan van Cullinan   “Liedjie vir Pa”
Kategorie 2:       Sing ’n Afrikaanse Christenliedjie
Wenner:  Marita Blom-Croucamp van Stilfontein “Kom na My toe”
Naaswenner: Ben Powell van Pretoria   “Agnus Dei”
Kategorie 3:       Speel Afrikaanse musiek met een instrument
Wenner:  Adrien Lubbe van Newcastle “Lied van Mali die slaaf” (klavier)
Naaswenner: Fred Colling van Pretoria “Sewes seties” (Kitaar)
Kategorie 4:       Speel Afrikaanse musiek met twee instrumente
Wenner: Willie van der Merwe van Meyerton “Bronkhorstspruitwals” (konsertina en klawerbord)
Naaswenner: Rommel van der Riet van Pretoria  (saag en mondfluitjie)
Kategorie 5:       Speel Afrikaanse musiek met drie instrumente
Wenner:  Willie Jay Trio van Middelburg “Tradisionele Vastrap” (klawerbord, kitaar en konsertina)
Naaswenner: Willie Jooste Trio van Pretoria “Karringmelkwals” (saag, trekklavier en mondfluitjie)

Die kategoriewenners wen ’n tweedagverblyf by ’n ATKV-oord, LAPA-boeke, ’n CD van een van die beoordelaars, ’n kopie van CD1 en CD2 van “Ons eer ons Senior Burgers”.

Die algehele wenners is deur Mimi Coertse en Rouel Beukes aangewys nl Marita Blom-Croucamp van Stilfontein en die Willie Jay Trio van Middelburg in Mpumalanga. Hulle wen ’n bootreis op die luukse Opera-passasierskip.

Op die foto staan Maritha Blom-Croucamp heelvoor, Rouel Beukes en Mimi Coertse agter haar en heelagter die Willie Jay Trio nl Zylie Joubert, Hendrik Smal, Willie Jay en Sakkie Kotze (ATKV).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top