Verskeie presteerders in die Afrikaanse mediawêreld is op 8 Mei by Vodacom World in Midrand met ’n Mediaveertjie deur die ATKV bekroon.
Gaste is op luisterryke wyse vermaak deur Emo Adams en sy orkes, Anne Hirsch en Magdalene Minnaar. Die twee Van Heerden-broers, Ignatius en Martin, was ook deel van die vermaakspan met hulle uitsonderlike akrobatiese danse.
Henriëtta Gryffenberg was die regisseur, en Janine Neethling die musiekregisseur.
Vanjaar se Mediaveertjies het ’n nostalgiese terugblik gebied oor die begindae van Afrikaanse radio, TV, koerante en tydskrifte. Die verlede is gehuldig tesame met die viering van huidige media-uitblinkers se kreatiewe en inspirerende nuwe werk.
Hieronder is besonderhede van die wenners, die toespraak van Japie Gouws - Besturende direkteur ATKV-groep - en foto's van die geleentheid.
Radiopryse
Die beoordelaars in hierdie kategorie was: Albe Grobbelaar, Limari Louw en Suzaan Steyn.
Die volgende wenners is aangewys:
Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n vermaaklikheids- of joernaalprogram
• Martelize Brink - Oggend op RSG: Edwin Cameron - RSG
Beste insetsel in ’n vermaaklikheids- of joernaalprogram
• Johan van Lill - RSG Kuns: Ballet 80 jaar - RSG
Beste insetsel in ’n nuus- of dieptenuusprogram
• Izak du Plessis - Monitor: Plaasaanvalle - RSG
Beste vermaaklikheids- of joernaalprogram
• Martelize Brink - Oggend op RSG - RSG
Beste dokumentêre program of programreeks
• Johan Rademan - Robbeneiland: Simbool van demokrasie - RSG
Beste radiodrama of –teater
• Margot Luyt - As die donker die son insluk - RSG
Beste aanbieder by ’n gemeenskapsradiostasie
• Anton Brink - Oggendrooi - Tygerberg 104FM
Toekennings in hierdie kategorie is oorhandig deur bekende en gewaardeerde veteraanradio-omroeper, vervaardiger en rolprentkenner, Leon van Nierop en die splinternuwe RSG-omroeper, Sue Pyler.
Pryse vir gedrukte/digitale media
Koerante en tydskrifte
Die kategorie Koerante en tydsrifte se beoordelaars was Anastasia de Vries, Elna Rossouw en Engela Slabber met die volgende wenners:
Beste in-diepte artikel
• Marelize Potgieter & Almari Wessels - Skuldig of nie: God sal besluit - Huisgenoot
Beste ondersoekende joernalistiek
• Pieter-Louis Myburgh - Duurste soustrein - Rapport
Beste persoonlikheidsprofiel
• Hanlie Retief - Dok se diagnose oor haarself: Uitstekend! - Rapport
Beste kunste-artikel
• Elmari Rautenbach - Kamphoer: ’n Storie in twee stemme - Rapport
Beste leefstyl-storie
• Hanlie Retief - Grace Boltney - Rapport
Beste essay, rubriek of opiniestuk
• Barend Vos - For what we are about to receive ... - Lig
Beste sportartikel
• Erns Grundling - Ons wag op die marlyn - Weg
Beste gemeenskaps- of plaaslike koerant
• Paarl Post - Redakteur: Lise Beyers
Die toekennings in hierdie kategorie is oorhandig deur Adriaan Basson, bekroonde ondersoekende joernalis en tans die redakteur van Beeld en Waldimar Pelser, redakteur van Rapport en aanbieder van die aktuele nuusprogram “Insig” op kykNET.
Televisie
Die Verhalende genres se beoordelaars het ingesluit: Sallas de Jager, Laetitia Pople en Ilse van Hemert. Vanjaar word die volgende persone met ’n ATKV-Mediaveertjie bekroon:
Beste draaiboek vir ’n dramareeks of enkeldrama
• Louis Pretorius & Johan van Jaarsveld - Vallei van sluiers
Beste regisseur vir ’n dramareeks of enkeldrama
• Janhendrik Burger - Die lang kat
Beste dramareeks of enkeldrama
• Johan van Jaarsveld - Vallei van sluiers
Beste akteur in ’n dramareeks of enkeldrama
• Stian Bam - Vallei van sluiers
Beste aktrise in ’n dramareeks of enkeldrama
• Annie Malan - Swartwater
In hierdie kategorie is die toekennings deur Willie Esterhuizen, bekroonde akteur, draaiboekskrywer en regisseur en Lizz Meiring veelbekroonde, veelsydige en geliefde aktrise oorhandig.
Aktuele genres is beoordeel deur Johann Abrahams, Piet Croucamp en Jan-Jan Joubert met die volgende wenners.
Beste aanbieder of onderhoudvoerder in ’n gesels- of joernaalprogram
• Denver Vraagom - Kollig
Beste insetsel in ’n gesels- of joernaalprogram
• Wim Steyn - Dagbreek: PJ Kotze
Beste gesels- of joernaalprogram
• André Calitz & Ronel Moodie - Reis na Gister: Koos Kombuis
Beste aanbieder of onderhoudvoerder in ’n nuus- of aktualiteitsprogram
• Waldimar Pelser - Insig
Beste insetsel in ’n nuus- of aktualiteitsprogram
• Byron Taylor - Fokus: ’n Berg om te bid
Beste nuus- of aktualiteitsprogram
• Jaco Loubser - Groen Reis
Beste insetsel in ’n nuusbulletin
• Daniëlla van Heerden - eNuus: Woema in die woestyn & Vrygebore en vrydenkend
Beste dokumentêre program of programreeks
• Marike Bekker - Ruk & Riel
Beste vermaaklikheidsprogram
• Jaco Loubser - Jou show met Emo
Beste leefstylprogram
• Melanie Tait - DEKATv
Beste werklikheidsreeks
• Jaco Loubser - Kokkedoor 2
Beste aanbieder in ’n vermaaklikheids-, leefstylprogram of werklikheidsreeks
• Emo Adams - Jou show met Emo
Tracey Lange, aanbieder van Bravo! op kykNET en ook radio-aanbieder by onder andere Good Hope FM en Smile 90.4 en Ivor Price, bekroonde koerant- en tydskrif-joernalis, SABC2 nuusleser en RSG-omroeper het die toekennings oorhandig.
Tydens vanjaar se ATKV-Mediaveertjies is daar vir die eerste keer ’n toekenning gemaak in ’n splinternuwe kategorie, naamlik opkomende joernalis van die jaar.
Anmi Honiball van Volksblad is deur die beoordelaars Wilma de Bruin, Anastasia de Vries en Jan-Jan Joubert as wenner aangewys. Anmi se werk is gekies vanweë die indrukwekkende omvang en verskeidenheid, maar veral weens die insig, diepte en “hart” waarvan haar berigte en artikels getuig. Die beoordelaars is dit eens dat die toekoms van joernalistiek in veilige hande is en voortaan net kan gedy met opkomende joernaliste van Anmi se kaliber.




Hier is Japie Gouws, Besturende direkteur ATKV-groep, se toespraak by die ATKV-Mediaveertjies 2015:
Afrikaans as amptelike taal is vandag 90 jaar oud. Daarom klink ons nie vanaand net ’n glasie op die beste in Afrikaanse media nie, maar ook op die verjaarsdag van ’n hupse en vlytige 90-jarige!
Of - is ons inderdaad so hups en vlytig as wat ons voorgee?
Jan van Riebeeck word uitgekryt as ’n moeilikheidmaker, arme Cecil John Rhodes word met meer as ’n kous oor die kop weggestuur, oom Paul is nou ingehok nadat hy met kleur en kettings ontsier is, Sarah Baartman kry nie rus in haar laaste rusplek nie, en die arme War Horse in Port Elizabeth se dors kan nie meer geles word nie.
Die aanslag teen Afrikaans op universiteite en by skole, duur feller voort. Die sakewêreld verengels vanweë praktiese en koste-oorwegings, en dis maar ’n gesukkel om die Tale-wet by Staats- en semi-Staatsinstellings geïmplementeer te kry.
Afrikaans staan nie alleen in die moedertaalstryd nie. Minder as 10% van Suid-Afrika se inwoners het in die laaste sensus aangedui dat hulle huistaal Engels is. Afrikaans en die ander nege inheemse tale van Suid-Afrika is dus die ander 90%.
Daarom is die ATKV se strategie oor Afrikaans ’n inklusiewe een. Dit gaan oor die bykans sewe miljoen Afrikaans huistaalsprekers waarvan die meeste nie wit is nie, en dit gaan ook oor die beraamde 13 miljoen Suid-Afrikaners wat elke dag Afrikaans as addisionele taal tuis, by die skool en in die werksplek gebruik. Verder gaan dit ook oor die ander nege inheemse tale wat grootliks aan die 10%-taal onderwerp word.
Is ons dus so hups en vlytig as wat ons voorgee?
Afrikaans is die enigste inheemse taal wat sedert die vorige sensus gegroei het. Afrikaans is een van die jongste tale in die wêreld en dis interessant om te weet dat Afrikaans die 12de grootste taal in Nieu-Zeeland is – selfs groter as Spaans!
Ten spyte van finansiële druk en ander redes, groei die Afrikaanse kunstefeeste, is daar meer Afrikaanse boeke, musiek en flieks en word Afrikaans nie nét meer as die taal van die verdrukker gesien nie, maar ook as die taal van bevryding.
Die ontstaan van die nuwe Suid-Afrika het Suid-Afrikaners en die wêreld se verbeelding aangegryp. Die 1990-toespraak van FW de Klerk het wye opspraak verwek. Nelson Mandela het tydens sy termyn en daarna een van die bekendste ikone in die wêreld geword. Nasiebou en versoening en begrip was die wagwoord.
Die ATKV se strategieë en suksesse is welbekend. Die inklusiewe aard daarvan, goeie begrip en erkenning van die opgeskrewe én ongeskrewe geskiedenis en volhoubaarheid van taal- en kultuurprojekte, is deurslaggewend daarvoor.
Tale en kultuurerfenis is die oplossing vir dit wat ons nou so bitterlik in Suid-Afrika nodig het. Die Afrikaansprekende gemeenskap het soveel opbouende en positiewe ammunisie in sy arsenaal, dat ons positief kan bydra tot hoe ons tale én erfenisgoedere én monumente, almal sin, kan gebruik om nasiebou en inklusiwiteit te bevorder.
Ons bekroon vanaand die beste in die Afrikaanse media. Baie dankie aan almal wat gemaak het dat Afrikaanse media inklusief kan wees, kan aanpas en die belangrike en noodsaaklike rol kan speel om te vermaak, om op te lei en om in te lig.
So – klink ’n glasie op die hupse en vlytige Afrikaans deur dit te lees, te praat, te skryf en te luister!

