Is jy in graad 11, en word jy beskou as ’n meningsvormer in jou vriendekring en skool? Dan is jy presies wie ons wil hê by die ATKV- Jeugberaad!
Die ATKV bied weer drie jeugberade aan tydens die Junie/Julie-skoolvakansie, en ons nooi alle leerders wat die potensiaal het om ’n verskil in sy of haar skool te maak om dit by te woon. Jy sal nie net baie pret hê nie, maar ook die kans kry om onder leiding van ’n span kenners aan jou vaardighede te slyp. Ons soek ook nie noodwendig net na uitgesproke grootmonde nie - dis beslis nie ’n vereiste nie! Dalk gaan hierdie ervaring jou juis help om ’n bietjie uit jou dop te kruip!
Vanjaar se tema is Haal jou oogklappe af, en soos in die verlede gaan ons fokus op alles wat ’n jongmens se lewe kan beïnvloed. Politiek, ekonomie, tegnologie en samelewing (wat die eksterne omgewing vorm), en dinge soos emosionele intelligensie, streshantering, geloof, groepsdruk en selfaanvaarding (die interne omgewing). Al hierdie faktore het ’n invloed op jongmense se lewens, en ons wil jou bemagtig sodat jy makliker die kaf van die koring kan skei.
Jy kan kies uit drie berade wat by drie van ons pragtige ATKV-vakansieoorde aangebied word. Van 24 – 27 Junie hou ons jeugberaad by ATKV-Buffelspoort naby Rustenburg, van 1 – 4 Julie by ATKV-Goudini Spa naby Worcester, en van 8 – 11 Julie by ATKV-Klein-Kariba naby Bela-Bela.
Daar gaan beslis ook nie net gewerk word nie! Kom deel in die pret, maak nuwe vriende en ontsluit jou potensiaal.
Dit kos R1 100 per leerder, en sluit akkommodasie, etes en aktiwiteite in. Vervoer na en van die oorde is nie hierby ingesluit nie, en is die skool se eie verantwoordelikheid.
Komaan, opskud! Daar is net ’n beperkte aantal plekke per oord beskikbaar! Die sluitingsdatum is Vrydag, 31 Mei 2013. Skakel Annemarie Alberts by 011 919 9066.

