ATKV en Moving Pictures se digkuns-animasieprojek

  • 2

Amptelike bekendstelling van Filmverse

Afrikaanse poësie kry vroeg volgende maand ’n besonder vindingryke hupstoot met die bekendstelling van Filmverse, ’n digkuns-animasieprojek wat die ATKV aangepak het in samewerking met Fopspeen Moving Pictures.

Dié projek, kompleet met ’n DVD waarop 12 gedigte in animasie verbeeld word, word op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom met ’n uitstalling bekendgestel. Dié fees duur van 7 tot 11 Oktober.

Volgens Nita Cronjé, die uitvoerende vervaardiger en ook die ATKV se bestuurder: feeste en produksies, is die oogmerk met Filmverse om leerders ’n nuttige hulpmiddel in die hand te gee om Afrikaanse gedigte ontsluit te kry en om tegelykertyd onderwysers se onderrigtaak te vergemaklik. Maar daarmee saam wil Filmverse ook die animasiebedryf in Suid-Afrika bevorder.

Twaalf Afrikaanse gedigte, geskryf deur digters, van NP Van Wyk Louw tot Ronelda Kamfer, is gekies vir dié projek.

Dit was Diek Grobler, artistieke regisseur van die projek en een van die kreatiewe kragte agter Fopspeen Moving Pictures, se jarelange droom om sodanige forum te skep vir animasiekunstenaars om prente te maak waarin die fokus op dié kunsvorm val.

“Ek wou animasieprente maak in Afrikaans ten einde animasie as medium uit te lig bó die populêre opvatting dat dit maar net kindervermaak is. Ek wou poësie meer sigbaar maak en die diversiteit van die medium uitwys. Ek dink ons het dit hier reggekry.”

Vir elk van die 12 gedigte is ’n animasiekunstenaar, in sommige gevalle meer as een, aangewys nadat Grobler onder meer op sosiale media animeerders genooi het om by die projek betrokke te raak.

Die gedigte en animeerders is ‘Vroegherfs’ (NP Van Wyk Louw) deur Wessel en Jac Hamman; ‘Bitterbessie dagbreek’ (Ingrid Jonker) deur Roger en Dewald van der Merwe; ‘Finis’ (Lina Spies) deur Michele Nigrini; ‘Jy vra my hoe my eerste soen was’ (Danie Marais) deur katty vandenberghe, Anni Snyman en Eugenie Grobler; ‘Belydenis van ’n studentedigter’ (Loftus Marais) deur Rudolph Boonzaaier; ‘Visioen van ’n lessenaar’ (Antjie Krog) deur Sunieda Kelber en Fabian Wargau; ‘Die skedel lag al huil die gesig’ (Wilma Stockenström) deur Crowther Lindeque; ‘What abou' de lô’ (Adam Small) deur Charles Badenhorst; ‘Last Grave at Dimbaza’ (Fanie Olivier) deur Stefanie de Beer; ‘’n Gewone blou Maandagoggend’ (Ronelda Kamfer) deur Naomi van Niekerk en Arnaud van Vliet; ‘Timotei Sjampoo’ (Gert Vlok Nel) deur Janhendrik Burger en Berdene du Toit; en ‘Ek sal sterf en na my vader gaan’ (Breyten Breytenbach) deur Diek Grobler.  

Die Filmverse-span beplan om die projek ook volgende jaar bekend te stel op die US Woordfees en die Absa KKNK in Oudtshoorn, maar om ook blootstelling in die buiteland te kry.

Individuele animasieprente sal ingeskryf word vir internasionale animasiefeeste en daar is ’n plan om die hele program, tesame met soortgelyke projekte uit Nederland, België en Estland oor die verband tussen digkuns en animasie, aan feeste voor te lê. 

Die Filmverse-DVD kos R100 en kan bestel word by Hannelie van Schalkwyk by 011 919 9012 of stuur e-pos na hanneliev@atkv.org.za.

  • 2

Kommentaar

  • Kan iemand help asb? Ek gaan die DVD en bespreking : FILMVERSE aanbied by ons Leeskring 18 Julie 2015. Ek wil graag die gedig BELYDENIS VAN 'N STUDENTEDIGTER afdruk, maar kry dit nerens op die internet.

    Kan iemand hiermee help asb?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top