Jy wat my Here Jesus Christus elke dag hier kruisig, vir my nè, is die woorde van Paulus in sy brief aan die Korintiërs, op die punt af:
“ die boodskap van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan”,
“die wysheid van die wyses
sal Ek vernietig,
en die geleerdheid
van die geleerdes
sal Ek tot niet maak”,
en “waar is die slim woordvoerder”?
Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo, en wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense (1 Kor. 1:18 ). Ek herinner my aan die vers wat lui dat “hulle verstand is verduister en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk, omdat hulle hardnekkig in hul onkunde volhard” ( Ef. 4:18. )
Ateïs, wie is ek om jou te veroordeel? Dit kom my nie toe nie.
Soos Jesus aan die kruis vir jou gesmeek het: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie”.
Die brief aan Korinte is ± 1900 jr gelede (53-56 nC vanaf Efese) geskryf, en is ’n brief wat se oorsprong en of bestaan jy nie kan weerlê nie. Om te dink dat die woorde hierbo feitlik 2000 jr voor jou ou bestaantjie neergepen is! Ek gaan Christus se hemelvaart op 5 Mei met dankbaarheid gedenk, weemoedig daaraan gedagtig dat jy StarTrek se manne se, “beam us up Scottie”, meer geloofwaardig ag.
Groetnis ,
Raed-na-Gael


Kommentaar
Raed
Die doel van SêNet is om debat te stimuleer, en nie dat almal, veral mbt godsdiens al dan nie, in dieselfde koor sing nie.
Die stryd tussen godsdienstiges en non-godsdienstiges strek al vir duisende jare (Ps. 14; Ps. 53 en Handelinge 17 vanaf vers 16 as voorbeelde in die Bybel). Godsdienstiges is geneig om non-godsdienstiges volgens die Bybel "dwase" te wil noem.
Maar die godsdienstige oordele in die Bybel gevel, word nie net oor ateïste gevel nie, maar ook oor non-Christen godsdienstiges, asook gelowiges in Christus wat nie soortgelyk as die betrokke Christen rakend sy Christenskap glo nie, veral vir Paulus, wie jy hierbo kwoteer, wat veels negatiefs oor hierdie sogenaamde "valse" Christene te sê het.
Met julle verskillende benadering tot julle afsonderlike en eiesoortige Christenskap, is ek van mening dat jy, Kobus en FC heel kriewelig langs mekaar sal sit, miskien meer gemaklik met die ateïs.
Pragtige, sterk evangeliepreek, ds Raed-naGael.
Aanhalings uit die Bybel is egter vir my nutteloos. Daar is baie wyshede wat jy daarin kry. Jy kon net sowel vir my daarop gewys het dat ek nie 'n bokkie in sy ma se melk mag kook nie, of dat ek my ongehoorsame seun met klippe moet doodgooi. Dan haal jy weer uit die Bybel aan dat dit wyshede van God is.
Groete,
Angus
Beste Raed-na-Gael,
Ek wonder soms of dit nie julle Christene is wat Jesus kruisig nie. 'n Christendom sonder dat hy geskruisig was, is mos ondenkbaar. Julle verheug julle eintlik daarin.
Angus
Jaco,
In jou aangehaalde Ps.-verse is "brood" die fokus. Dit dui op 'n alledaagse gebeurtenis, normaalweg, niks daaraan nie, maar ook algehele vernietiging. Hulle eet my volk soos brood: Hulle verorber my volk soos brood.
Maar in Joh 6:48 keer Jesus dit om: " Ek is die brood van die lewe" en Joh 6: 51 en natuurlik, "the crux of the matter ( the real issue)", Joh 6:53.
Ek het jou (of enige ander) nog nooit 'n dwaas genoem nie. Ek het geen probleem met hulle wat Jesus Christus vooropstel nie. Wel met dwepers (Bible punchers, fariseërs, Sadduseërs)
"Valse" christene ? Hulle is volop. Maak seker dat die lig wat jy dink in jou is, nie dalk duisternis is nie. Teksvers iewers in die NT.
FC, Kobus en ek sal heel lekker langs mekaar sit en lang biere suie. So terloops, ek sal op 24 Okt op Jan Smuts/Johannesburg/OT wees, op pad Mauritius toe.
Miskien kan ons 'n lekker ou koue langetjie afsluk.
Angus, Christus het die ou Testament afgeskryf.
Groetnis julle twee.
Read-na-Gael.
Raed
Dankie vir jou respons. Ek het nêrens gesê dat jy ateïste (mense sonder god, in die Bybel "goddelose") "dwase" noem nie. Die Bybel doen dit wel, veral in genoemde psalms.
Net een verskil, nl waar jy vir Angus se: "Christus het die Ou Testament afgeskryf." Nêrens sal jy in die Nuwe Testament vind dat Christus, Paulus of enige apostel die Ou Testament "afgeskryf" nie, wel dat hulle beaam het dat die Ou Testament vervulling in Christus bekom het. Christus het net die Ou Testament as geloofsboek gehad om van te kwoteer.
Beste Raed-na-Gael,
Die hele Bybel is afgeskryf deur Darwin.
Groete,
Angus