Asof geen berge ooit hier gewoon het nie deur Pieter Odendaal: ’n resensie

  • 6

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie
Pieter Odendaal
Tafelberg
9780624085614

Dit is veral bekend dat ’n digter slegs één keer kan debuteer. Dus: vat jou tyd, vat jou tyd ...

En ná agt jaar lewer die jong digter Pieter Odendaal met sy debuutbundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie ’n moderne multikulturele letterkundige offerlam waarin die natuur, digkuns, menslikheid, geskiedenis, hede en idealisme so geslaagd en uiteenlopend in konteks briesend vars voel soos mis met sy koue repe.

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie bevraagteken op die oog af wie ons is, en omdat dit uit die pen van ’n wit jongman kom, sal ons seker aanneem dis nog ’n kwetsende vraag na die geykte “Wie is die Afrikaner(s)?” Maar juis daar posisioneer die digter hom verby net die ideologies-bemoeide konsep wat so gedurig aangewakker word. Onthou, hy vra juis in Sotho: re mang? Hy bevraagteken liewer wie is ons as Suid-Afrikaners. Dis ’n “ons” wat hy idealisties dog realisties ondersoek. Nietemin kan hy hom nie losmaak van sy ingebore identiteit en agtergrond nie, maar gebruik dit as net een relatiewe gedeelte van sy bestaan. Daardie identiteit word ook die wegspringplek waarmee hy wroeg in die moderne eeu van Suid-Afrikaner-wees. Die wese van jonk Suid-Afrikaans te wees, word deurdag, eerlik, ontroerend en eintlik hoopvol besoek in die eerste poging van ’n digter wat reeds lank sy letterkundige vaandels opgelig het ...

Hoofstuk 3 giet as sy persoonlike ontnugtering binne juis daardie ingebore identiteit en agtergrond waarvan niemand hul ooit kan skei nie. Hier praat die digter bont met reëls soos “my voorouers is om my” en “’n collage van al my oorspronge”. Verder ontbloot hy persoonlike kontekste waarin hy juis vanaf ’n vroeë ouderdom ’n bewustheid kan onthou rondom die verwikkeldheid van daardie ingebore identiteit. Uit die staanspoor ontknoop die digter hom nooit van sy familie nie. Ons eerste ontmoeting oor wie ons is of moet wees, is juis deur die oë van familie. Dis ’n onbewuste manifestering wat bemoeid voorkom in Odendaal as sy persoonlik-gesketste digter. Die gedigte voel “geskets” en met beweging (in wording), want daardie verhouding met die natuur begin reeds hier soos hy dig: “sy [sy suster] wou weet of ons al die see kon sien”; en “daar’s ’n son wat deur soetdorings vleg”. Nog verby die “sand tussen ons skitter”; “mag die lug sy skoonmaakstof oor julle was”; en “waar die diere en ons mededoë met bome verdwyn”.

Opvallend en sekerlik bedoeld ontwikkel dié hoofstuk/afdeling bedagsaam in ’n ontroerende eerlike blik op die digter met sy stryd met depressie. Hier is hy broos en skep die konteks van die “val” en die “opstaan” nie net so eenvoudig soos ’n mens (of altans ’n ander inkyk-mens) dink en verwag nie. Odendaal is hier met “oë rus sonder om te kyk” en hy self is weerloos in die ritme van sy verse soos wat hy voel “hy’s onbenullig hier”. Hy betrek wye kontekste wat sy toestande verdiep of selfs verantwoordelik kan staan. Die siekte wat so brullend kou aan die samelewing sonder die medewete, sal jou weer laat dink oor wanpersepsies en veroordeling. Hier is Odendaal meer as net ’n digter wat wroeg en die romantisering daarvan breek hy af soos wat sy verse dapper die leser laat omblaai. Odendaal is hier nuut vir dié wat hom nog nie ken nie, maar soos sy loopbaan al begin het in Stellenbosch en veral met die stigting van InZync in Kayamandi, hoor jy Odendaal hier op papier soos jy hom al telkemale op die verhoog sien staan het terwyl sulke eerlike en weerlose verse vloei van ’n kritiese moderne jongeling wat vasberade idealisties vertrou in ’n beter ons ...

Die bundel verken ook die binnekringe van Odendaal se aanvaarde en ontwikkelde identiteit(e) soos sy “lyf”, “al (sy) lovers” en die “hoogsomer” met sy “midnight” waar “the stars have gathered to see us play” soos die “adrenalien skiet deur (hom)”. En so skiet dit ook deur die leser wat in die konteks van ’n jongeling sy woorde, beelde en milieus ken.

Sy taal in sy verse hier is so gewoon, en juis daarmee bevestig hy dat die Afrikaanse tong meer lewendig is met sy meertalige en multikulturele konteks wat daagliks beïnvloed word, hetsy deur tegnologie, mense of spasies waarin jy beweeg. Die skrywer is met die aand(e) wat “klou soos die corduroy skinny aan (sy) lyf”. Die leser ontmoet Odendaal hier as ’n queer man wat nie wegskram van wie en wat hy is nie. Hy verwyder homself ook nie van sy konteks en tong nie ... juis daarmee “klim (hy) paul roos se heining uit” en “skryf hierdie gedig vir jou in afrikaans” ...

Sy ekologies- en multikultuurbewuste bestaan wat hy idealisties hoopvol verpak in sy debuutbundel is reeds hier in volle gang en die tradisionele papierliteratuur perform hier so gepas soos Odendaal op ’n verhoog sou doen ... Dalk wakker Odendaal iets met opset aan tussen die “digter-op-papier” en “digter-oppie-verhoog”. Ek wil so glo dat hy dit wel doen.

Hy omskryf in sy ekogedigte (soos sommiges dit sou definieer) juis die Afrikaanse letterkundige tradisie waarin die digter/skrywer oor die Suid-Afrikaanse natuurskoon dig as herinnering, manifestering en regverdiging om menslikheid en koloniale bestaansreg as belangrik, en kleefband tot sy identiteit. Meestal met nostalgie en sentiment na hoe die landskap vlekloos gestaan het in die verlede. Hy verken ’n nuwe perspektief oor sulke sienswyses en ontwortel in ’n mate dié oeroue letterkundige tradisie.

Hoekom nie ...? Nes die aarde se verploetering voortduur, asook die aarde (grond) se heen en weer eienaarskap beklemtoon word in ons huidige milieu, ontbloot Odendaal narratiewe en perspektiewe wat in versvorm so kordaat staan. Die Stellenbosse Eersterivier is soms net dit, net ’n rivier. Odendaal vorm deel van ’n lang lys Stellenbosse digters wat ’n letterkundige bydrae lewer tot die Afrikaanse kritiese verbeeldingstog op sy hede en sy verlede. Dis ’n tipe relativering van die natuur, mense, bestaan, samelewings en kwessies wat so omvattend gedig word in Odendaal se vrye verse.

Dié bundel bevat ook talle gedigte wat geskryf is tydens studente-optogte in 2015 wat merendeels nie net handel oor #FeesMustFall nie, maar ook oor ander kwessies rondom daardie gebeurtenisse. Dit bevat die onverskrokke bravade van hoop, intensiteit en geloof van talle studente oor die moontlikhede wat kan bestaan as hulle staanstaan en aandring op ’n beter hede en toekoms. Anders as die media se dekking oor die protesoptogte, bied Odendaal meer gebalanseerde en eerlike perspektiewe uit sy eie ervarings in die midde daarvan. Hy dig in gebed hier oor “vetgatkonings” en “dankie vir die youtube-video’s oor polisiegeweld en baba-bangings” ... “die de la reys” en die “waka waka ey eys”. Hier is sy woorde vreesloos en aktivisties betrokke by sy milieu ... as student en as Suid-Afrikaner. Hy resiteer ’n soort droom vir almal: “Wees altyd betrokke. Wees dapper. Wees krities. Wees vreesloos en weerloos deur dit als ...”

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie is vol hoop, bepeinsing en die voortdurende digter-in-stryd wat homself nooit losruk van sy land, mense en die toekoms nie. Dis veral gepas noudat die digbundel sy hoop nie net vir lesers in isolasie bied nie, maar vir lesers in gesprek met mekaar. Odendaal doop dit mos uit die staanspoor “vir al (sy) medestryders”, en aan die einde van die bundel is dit asof hy die antistryders twee keer laat dink het soos hy hom in sy debuutbundel bekendstel as digter-betrokke, en as ’n digter wat reeds lank deel vorm van die (nodige) nalatenskap wat jonger skrywers en digters aanhou lewer en nog meer van sal lewer. Dié digbundel is geensins net een vir die boekrak nie; dit is een wat hartroerend deel van mens se wese word. Die moed wat dit bevat en skep in die leser is aktief, en daarin lê sy sukses.

  • 6

Kommentaar

  • Miskien moet Mnr Odendaal 'n bietjie meer lewenservaring/oordenking opdoen /doen; en dan weer probeer en iets produseer wat kan meeding met die ander uitstekende Afrikaanse digbundels wat tans beskikbaar is.
    Daar is beslis baie beter te kies en te keur in Afrikaans. Wie het "seer"; wie het "pyn", of "twyfel". Almal, en wat daarvan?
    Waarom moet onbestaanbare, fiksionele "sosiale geregtigheid verbeeldings” OPGEDIEP, "ondersoek" en deurtas word tot op die been, en ter oordeel van wie? (Ek ken die antwoord op die vraag.)
    Waarom moet die Weste en sy instellings en kultuur - deur gebruikmaking van intellektueel/akademies gefundeerde insinuasies, subtiele teregwysings en innuendo as wapens - skaam wees of om verskoning vra vir hul prestasies, norme en kultuur? Waarom die oikofobetiese selftugtiging? Waarom kan daar nie 'n digbundel geskryf word oor en geïnspireer deur die Afrikaner nie- hemel weet ons het TE VEEL gedoen vir ons land, maar word net oor DIE goedheid gestraf en daar is min genoeg - self 'n patriot soos ID du Plessis of Van Wyk Louw het MIN genoeg daaroor en daarvan geskryf! Is "multikulturaliteit" nie maar net 'n vorm van selfhatende oikofobie nie, en eufemisme vir self-viesheid nie, en waarom, o waarom vies wees! Net om weereens op kwasi-intellektuele wyse amper asof in samespanning met die westers-hatende media en "akademiese" instellings iemand te soek as slaansak, en op neerbuigende wyse te sê: kyk, ek is beter as jy: kyk met watter kwasi-akademiese liberaal-geïnspireerde gorrelry ek vorendag kan kom!
    Jinne man, wees vir 'n slag 'n man en hanteer dit en maak die beste daarvan en publiseer 'n digbundel oor hoe jy jou WERKLIKE uitdagings en realiteit gefundeerde SWAARKRY te bowe gekom het; want die stukke gaan dwarsoor die kop van die gewone man op straat - net soos die ongemaklike waarhede wat iemand soos president Trump, in sy wonderlik ongekompliseerde en ongebreidelde nie-polities-korrektheid uiter oor die koppe van die aanmatigende elite establishment (die meeste openbare, en in die VSA, "Ivy League" staatsuniversiteite en media en akademiese instellings tans) gaan; so onbestaanbaar as wat die liberale onderdrukkende establishment - (stem saam en doen soos ons sê of ons inkrimineer of dox jou - die diktatorskap van die liberaliste) se voorskriftelikheid aan die "gewone mense" is!
    Waarom is dit dat die "millennial"-generasie so oorsensitief, aanmatigend-skoorsoekend en slagofferskap-sindroom benepe is, want NIKS goeds kan daaruit voorkom nie, net mooi niks nie.

  • Arrie de Beer

    Liewe genade, dis jammer dat iemand wat klaarblyklik veel van Afrikaanse letterkunde weet, so verwyderd van die wêreld kan wees wat Pieter Odendaal in sy digbundel beskryf. Moontlik moet Charles so 'n bietjie vir Odendaal in Kayamandi gaan kuier en dan sommer ook saam met hom 'n draai deur Khayelitsha gaan ry. Maar, dan ook, waarom die digter ad hominem afkraak, omdat hy intens bewus is van 'n Suid-Afrika waarivan Charles moontlik vervreemd geraak het.

  • Vir iemand wat sê die "millennial"-generasie is sensitief, is u darem vreeslik opgewerk oor 'n ou digbundeltjie. "Wees vir 'n slag 'n man," sê u terwyl u tekere gaan - soos 'n kind - net omdat iemand 'n ander perspektief as u het.

    Maar nou ja, dis mos maar hoe ou ooms is - bot.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top