
Foto: Canva
As moeg gedaan is
Ek sit in ’n smal stegie
van benoude gedagtes
oor tyd wat so jaag
al teen die berg af
al teen my hart af
want gister is weg
kom nooit weer terug nie
terwyl ons hier bly staan
in nou –
om grootoog na netnou te staar
met ’n traan in die oog
want selfs moeg is gedaan
soos hy daar staan
met sy kop in sy hand
want hy weet
die wit perdjies galop
op die rowwe see
terwyl die suidewind jou binnetoe jaag
met ys op jou gesig
van die laaste winter
in hierdie eerste rondte
van lewe.
Of is hierdie die tweede?
Kommentaar
Ek ken niemand of weet van niemand wat al bevestig het dat daar 'n ander of eerste of tweede lewe is nie. Die leef van lewe tussen 'n geboorte- en sterfdatum is wat ons ken… met 'n honger soeke om die misterie van lewe te weet en te ervaar.
Dit is waar niemand weet nie, tog is daar maar mense wat raai, mense wat wens en die Bybel, ek glo egter wat ek in die Bybel lees en maak gevolgtrekkings wat ek voel gepas is.