As jy die klok hoor lui en wonder waar die bel hang …

  • 0

Ek moes ’n hoogs suksesvolle loopbaan as musiekresensent inboet. Daar was een kleinigheidjie wat in die pad van my roem gestaan het: die feit dat ek aan ’n rare sindroom ly. Op laerskool is ek as “toondoof” gediagnoseer. Dit was nadat ons die do-re-mi van onder tot bo en dan weer van bo tot onder moes sing, tuitmond, een vir een voor in die sangklas. Ek onthou die musiekjuffrou se boarm-vetjies wat soos brooddeeg by haar moulose crimplene-rok uitrys en empaties dril terwyl sy dirigeer en soms met die borduitveër tyd hou te midde van ’n wolk bordkrytpoeier: TAFFE teffie! Met my het sy moed opgegee. Dit help nie eens om vir my die noot te gee nie: ek het geen idee wat om daarmee te maak nie en laat dit flenters val.

Wit mense kan miskien nie dans nie, maar musiek vloei deur alle Afrikane se are. Musiek dolwe soos ’n g-mol deur my familiegeskiedenis. Ek het eenkeer ’n kinderboek gelees oor ’n dogtertjie in die Amerikaanse Bybelgordel wat die swartskaap in ’n gesin van rondreisende gospel-sangers was omdat sy nie die wysie kon hou nie. Die storie van my lewe.

In my gesin het dit gegaan soos in “Saai die waatlemoen”: my pappa blaas die fluitjie, my boetie draai die orreltjie … In die sestigs het my ma kitaar gespeel en soos ’n nagtegaal gesing. My pa kon enige deuntjie een-twee-drie op die mandolien raakvoel en my tweelingbroers kon toor met ’n mondfluitjie. My sussie het saamgesing. Ek het eenkant onder die staanlamp gelê en lees. Dit was in die dae voor TV en gesinne het saans op die sitkamermat kwaliteittyd saam spandeer. “Doktor”, soos ons na die argitek van apartheid verwys het, was wreed van ons weggeruk en die volk was in rou gedompel. Tog het my ouers benewens “Al lê die berge nog so blou” en “As dit nag is in die bosveld” ook “Blowing in the wind”, “First of May”, “Katrina’s Theme,” “El Condor Pasa” en “Help me make it through the night” gesing.

My ouma was altyd onderwyl sy werskaf, asemrig aan ’t sing, geestelike liedjies soos “Daar’s ’n dierb’re kruis” en eindelose Hallelujas soos “O die bloed van Jeeeesus”.

My oom het die plaas verloor, maar sy aura was heeltemal te flambojant vir hom om in ’n kantoor te werk. Hy het ’n plot aan die buitewyke van die dorp met sy chaotiese persoonlikheid en die wrakstukke van sy plaasimplemente bevolk. Hy het Lieberstein gedrink, die kitaar geslaan en treurige cowboy-songs in ’n groot baritonstem gesing. Hy het nooit die woorde geken nie, maar sy growwe vingers kon die melodie fyntjies uitpink. Wanneer hy in die middel van ’n lied vir sy medemusikante “minors!” uitroep, het ek altyd gedink hulle verwys na mynwerkers.

Op universiteit is ek uit ’n spreekkoor geskop omdat ek kwansuis van die noot af PRAAT. Dit was ’n besliste laagtepunt, selfs laer as die oomblik toe my driehoekie gekonfiskeer is in die Sondagskool se slagorkes.

In die negentigs was ek getroud met ’n Oostenryker wat sy siel verpand het aan rockmusiek – in die aangrypende sestigs het hy vir tien jaar soos ’n herfsblaar deur die wêreld gewaai op die spoor van sy geliefkoosde bands. In Europa, die Britse Eilande, Asië en uiteindelik Afrika het hy op strande en in parke geslaap. Dit was ’n tyd waarna Leonard Cohen só verwys het: “A great generosity prevailed in those doomed decades.” As my eksman maar net Afrikaanse kougommusiek geken het, sou hy lag-lag Noot vir Noot kon wen: hy het net een tot drie note nodig om ’n melodie te herken (ek moet altyd eers wag vir die woorde) en kan ’n ingewikkelde rock-opera voor die slaapkamerspieël dirigeer. Danksy hom en die gene wat bo-oor my gespring het, het my twee dogters volmaakte toon. Hulle kan saam met hul ouma soos engele deur ingewikkelde deskante, kanons en kontrapunte vleg. Ek kan nie eens koeksisters vleg nie.

Weens my ongelukkige gebrek ervaar ek musiek as rou emosie. Oor die tegniese aspek kan ek my nie uitspreek nie. Ek lees met ademlose bewondering hoe skrywers soos Theunis Engelbrecht, Katvrou, Riana Wiechers, Erns Grundling, Angola Badprop, Chutney de Ridder en Toast Coetzer goël met beelde wat die noot en die musiekstyl tot in die fynste ontsteltenis raakvat. Al wat ek kan sê is: “Mensig, dit het my geroer.”

In die hiernamaals, as daar een is, wil ek drie dinge hê: vlerke, ’n engelstem en vlinderige vingers wat soos water oor die snare van ’n harp kan vloei. Dan sal ek ook vir almal wat wil hoor, kan sê presies waarom Fokofpolisiekar mal ruk en Freshlyground op die voorste plaat perkoleer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top