As ek De la Rey was, het ek jou ge-sue!

  • 0

Ope Brief aan Deon Opperman van Koos Kombuis

Liewe Deon

Party ouens fok Australië toe, party ouens blaas hulle breins uit met drugs, party ouens is in denial en sê alles sal vanself regkom, en party ouens probeer iets positiefs doen en reik uit om ander Suid-Afrikaners deel van hulle protes te maak.

Dit is alles verstaanbare opsies. Want ons lewe in ’n tyd waarin dit moeilik is om de regte keuses te maak, en selfs al maak jy die regte keuse, het mens geen waarborg dat dit sal slaag nie.

Te midde van hierdie beginsellose chaos het jy dit goed gedink om vorendag te kom met nóg ’n opsie. En so koppig glo jy in jou saak dat jy bereid is om vier miljoen rand daarop te blaas.

Dit is die Deon-Opperman/Sean-Else/Johan-Vorster-opsie. Die opsie wat sê: “Kom ons fight die Boereoorlog van voor af.”

Eina!

Ek trek my hare bossies-bossies uit – die bietjie wat ek nog oor het – elke keer wanneer ek ’n sogenaamde “bemoedigende” boodskap van julle klompie Retroguerrillas in my Inbox kry. Ten minste bevat jou jongste “bemoedigende boodskap aan Afrikaners” minder taalfoute as die e-posse wat Sean Else gereeld vir my stuur ter bevordering van die moedertaal. Dankie aan LitNet se noukeurige taalversorgers, wat nie slegs jou boodskappie nie, maar blykbaar ook Melt Myburgh se (soos altyd onpartydige, soos dit ’n redakteur betaam) agterryer-postskriffie geroskam het vir flaters.

Ek gee nie voor om alle wysheid in pag te hê of om nooit oordeelsfoute te maak nie, maar dit vat nie iemand met geniale intelligensie om raak te sien dat daar in die afgelope jaar ’n breë protesbeweging onder Suid-Afrikaners ontstaan het nie. En eindelik – ja, EINDELIK – is Afrikaanse mense deel daarvan. Omdat daar so ’n hartsverandering plaasgevind het in die hart van my volk, is ek nie meer so skaam soos in die verlede om deel van hulle te wees nie. Ek is inderdaad trots op hulle. Het jy Rapport se opskrif van 13 April gesien? Daar is orals in ons land, en ook in Afrikaanse geledere, mense wat bereid is om op te staan vir wat reg en verkeerd is, ten spyte van die feit dat dit dalk te laat is om die os uit die drif te trek. Veral aangesien die opposisiepolitici hierdie tendense blykbaar nog nie raaksien nie en skynbaar nie betyds gaan begin mobiliseer vir 2009 se verkiesing nie.

Natuurlik is daar niks in beginsel mee verkeerd om ’n verhoogstuk te doen oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie, Deon. In ’n tyd waarin skoolhandboeke al minder inligting bevat oor sekere belangrike eras van die verlede, is dit nie net ’n voorreg nie, maar ook die plig van begaafde woordkunstenaars soos jy om hierdie tye te laat herleef. Wat my pla, wat my grensloos af-pis, is dat jy wil voorgee dat die mitologie en die gees en die tipe opstand van die Boereoorlog soos jy en jou klein Bok-som-bende dit verstaan, presies dieselfde aanvaarbare mitologie en gees en tipe opstand is waarmee “Afrikaners” die probleme van vandag moet takel.

Jy, wat in jou jeug sulke roerende oorlog-toneelstukke geproduseer het; jy van alle mense; jy wat voor jou Steve-honeymoon soveel insig in vele issues getoon het, behoort tog te verstaan dat oorlog nie ’n Super14-toernooi is nie. Jou gevegsfrontpraatjies in die huidige tyd is onvanpas, naïef, en, lyk dit vir my, suiwer vir winsbejag. Jy sê jy wil die trots van De la Rey laat herleef, maar eintlik wil jy net die persentasies najaag wat Bok verdien het met sy De la Rey-song. ’n Briljante song – ja, selfs Sean Else het een maal in sy lewe iets reg gedoen (wonder wie’t die spelling getjek?)! - wat vandag nog baie vir Bok se career sou beteken het as hy gedoen het wat ek hom aangeraai het en "De la Rey" opgevolg het met meer songs oor Bryan Habana en Vodka en OJ. Maar nou ja, dis eish onder die brug, en sedert Bok se uitlatings oor die Kovsie-video is hy anyway nie meer een van my Top Friends op Facebook nie.

Maar nouja, die Bok-som-bende het dollars gesien. Julle het besluit: “Kom ons bring die Boereoorlog terug en verkoop dit teen soveel rand per tot, met Coke by.” Wat anders, wonder ek, gaan julle in die stalletjies langs die slagveld verkoop wanneer die Boere en die ANC-impi’s mekaar takel? Plastiek-voorlaaiertjies vir die kinders? Vierkleur-spookasems? Band-Aid?

As ek De la Rey was, Deon, het ek jou gesue vir naamskending. Want dit was Bok self wat my uitgedaag het om De la Rey te gaan Google. En dit was hoe ek besef het De la Rey was nie ’n oorlogsugtige mens nie, maar ’n man van vrede. ’n Ware leier vir wie oorlog die allerlaaste, desperate opsie was. Vir sy tyd was hy pragmaties en vooruitdenkend. Hy’t nie in die verlede geleef soos jy nie.

Ek weet presies wat jy en jou maatjies sou gedoen het as daardie oorlog vandag uitgebreek het, Deon: jy sou teruggefok het Holland toe. Want mense soos jy weier eenvoudig om in die hede te leef. Julle is soos die ANC-ouens wat terugverlang na ’n droomverlore paradys sonder teerpaaie en kopseerpille. Dis tyd dat julle almal ’n slag Xolela Mangcu se boek To the Brink – The State of Democracy in South Africa lees. Dan sal julle besef daar is talle opsies – dalk futiel, maar dis die moeite werd om te probeer - wat die mense van Suid-Afrika kan uitoefen, en reeds uitoefen, voor hulle breinloos genoeg is om te val vir ouens soos julle wat vir oulaas die ras-en-geweld-kaart wil speel.
 
Ek is ontnugter deur en teleurgesteld in die ANC, ja, Deon, maar ek is ’n duisend maal meer ontnugter deur en teleurgesteld in jou. Ek lei tussen die reëls van jou LitNet-skrywe af dat die gevoel dalk wedersyds is. Ek besef ouens soos jy dink ek spring rond tussen links en regs in my rubrieke. Ek weet dis ouens soos jy wat nie kan verstaan dat ek die een oomblik te velde trek teen die rassisme van die Kovsie-video en dan weer aangaan oor die wanpraktyke van oorhaastige regstellende aksie nie. Maar vir my is hierdie twee vorme van rassisme al twee ewe sleg! Two wrongs don’t make a right, 'scuse the pun! Mens kan tog nie die antiblanke paranoia van Mbeki se kabinet beveg deur in jou ousie se bier te pis nie! Dis nie soos ons ma-hulle ons geleer het nie, al het hulle NP gestem. Nie eers Trompie Toerien en die Boksombende – wat stout was, maar nooit lelik stout nie – sou sulke gedrag goedgepraat het nie.

Moenie my ooit vertel dit was onskuldige pret nie, Deon. Moenie vir my probeer sê die Waterkloof Vier is die Beatles nie. Hulle is daaraan skuldig bevind dat hulle ’n man doodgeslaan het. Hulle hoort in ’n fokken tronksel saam met Robert McBride!

Die geskiedenis – daardie ding waarmee jy so ’n obsessie het – gaan jou en jou trawante verkeerd bewys, Deon. Want julle is die ware joiners. Dit is julle wat julle gesonde verstand weggegooi het en bereid is om julle siele te verkoop vir ’n ideologie wat so barbaars en so onuitvoerbaar is dat selfs Adriaan Nieuwoudt twee keer sou dink voor hy met ’n braaitang daaraan vat.

Dalk was ek wel verkeerd om Afrikanerdom te bedank. Dalk moes ek gebly het presies waar ek is, en van die begin af eerder die laer van binne af probeer verander het. Hier en daar ’n venster oopgemaak het, ’n bietjie mulitkulturalisme invoer, whatever. Dan sou puriste soos jy dalk vanself gefokof het en julle retrovolksfees elders gaan hou het. Maar dit het my ’n rukkie gevat om te besef die hele “Afrikaner vs Afrikaanssprekende”-debat is slegs ’n gespeel met woorde. En in hierdie tyd van vervreemding moet ek, tot my eie skaamte, erken ek het nie veel gedoen wat van praktiese nut was vir enigiemand nie. Hel, terwyl ek in die Waterfront gaan sit en depro word, het selfs Steve ’n dag afgevat om te gaan diens doen in ’n hospitaal. Ek het baie foute gemaak waaroor ek spyt is, ek het te veel tyd gemors om my tone te probeer raaksien op die badkamerskaal. Maar ek is besig om uit ’n diep slaap wakker te word. Ek is nie meer ’n liberalis nie. Ek is ook nie ’n right-winger nie. Ek is net nog ’n ou wat vir ons die bal probeer wen in die losgemaal van die Nuwe Suid-Afrika. En nou besef ek dat jou “ons” en my “ons” in elk geval nie dieselfde “ons” is nie. Dalk wás dit nooit nie.

Paul Kruger het tereg gesê: “Haal uit die verlede die dinge wat goed is en bou die toekoms daarop.” Hy het nie gesê: “Eksploiteer die verlede en lag al die pad bank toe terwyl julle die volk terug lei in slawerny in nie.”

Doen maar jou retro-ding, Deon, en Sean; stuur maar jou e-posse en bemoedigende boodskappe aan die “Afrikaners”. Maar moet nooit, ooit weer voorgee dat julle en die res van die Bok-som-bende namens die hele volk of land praat nie.

Groete aan die agterryers en hulle makeup artists backstage.

Koos Kombuis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top