As dit nie vir Oom Krisjan was nie

  • 0

Foto: Pixabay.com

Ek onthou die boksgeveg tussen Johnny Ralph en Freddie Mills nog baie goed. Dit was die aand toe Oupa Johannes dood is. Ons hele gesin, behalwe Ouma, het daardie Novemberaand in 1948 na die geveg oor die radio in die sitkamer geluister.

“Julle weet ek hou nie van boks nie,” het sy gesê en het gaan slaap.

Dit bly vir my vreemd dat ek die gebeure van daardie dag, ná al die jare nog, so goed kan onthou. Dit is seker maar omdat my langtermyngeheue met die ouderdom verskerp. Maar dan is dit ook so dat Oupa Johannes nog nooit vir lang tye uit my gedagtes was nie. En min ander sal hom ook vergeet. Ma was die oggend voor die geveg in die kombuis besig om deeg te knie. Sy het altyd Saterdagoggende brood gebak. Ek was besig om tafel te dek. Toe Ouma die kombuis binnekom, het Ma gevra:

“Waar is Pa vanoggend so vroeg heen?”

“Weer dam toe,” het Ouma geantwoord en agter die kombuistafel ingeskuif. “Hy glo mos babers byt beter net voor sonop.”

“Is Filemon saam met hom?” het Ma besorg gevra.

Ouma het net haar kop geknik.

Ek het solank begin om vir die jonger kinders brood te smeer: ’n Dun lagie botter op elke sny, want ons was, soos baie ander gesinne ná die oorlog, arm. Wat sou dit ook gehelp het om vir Ma-hulle te vertel dat Oupa my die vorige dag reeds aangekeer het om die aas en die visgerei vir hom voor te berei. As hy ’n ding in sy kop gekry het, het min mense hom teëgegaan – allermins een van ons kinders.

Die plaaskinders – wit en swart – was almal sku vir hom, want ons moes allerhande dinge vir hom doen waarvan kinders nie hou nie. Ons moes perskes vir hom skil, sy skoenveters vasryg, sy toonnaels knip en hom oral op die plaas rondlei, want Oupa het, soos Ouma dit genoem het, drie terugslae gehad.

Oupa se eerste terugslag het nog voor my geboorte gebeur, maar toe ek eenmaal vir Pa daaroor uitgevra het, het hy my vertel hoe moeilik dit vir die familie was. Oupa-hulle was maar ’n jaar of ses in Wes-Transvaal waar hy ’n stukkie grond langs sy broer, Krisjan, s’n gekoop het. Van boerdery het hy niks geweet nie; hy was voorheen ’n myner êrens op die Witwatersrand en vóór dit het hy vir ’n fotograaf in Fordsburg gewerk. Die eerste klompie jare op die plaas het hulle bitter swaar gekry, maar handdoek ingooi was min. Hoe kon hy? Rand toe kon hy nie teruggaan nie, want die Depressie was daar net so erg.

Oupa was skaars op die been toe breek die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uit. Hoewel Oupa nooit Noorde toe was nie, moes Pa en sy jonger broer gaan veg. Dit was in daardie tyd, toe Oupa alleen die plaas moes behartig, dat sy regterhand in ’n gehuurde dorsmasjien se vervoerband vergruis is. Hy kon daarna nooit weer die hand se middelvinger, ringvinger en pinkie gebruik nie, maar sy duim en wysvinger was later so handig en sterk soos ’n bobbejaantang.

“As dit nie vir Oom Krisjan was nie …” het Ouma altyd gesê as sy oor daardie jare gepraat het. “Hy het bedags oorgekom om hand te gee waar hy kan en om Oupa moed in te praat. Soms het hy ’n emmer mieliemeel of ’n paar babers saamgebring. Ja, dit was swaar tye,” het Ouma met ’n sug gesê.

Oupa se tweede terugslag was vir my, as kind, die moeilikste om te verwerk. Oupa was anders as ander oupas; hy was blind. Hy het glo kort ná my geboorte begin blind raak; eers die een oog en toe die ander een. Wat die oorsaak daarvan was kon niemand daardie tyd met sekerheid sê nie. Pa het gereken dat die vonke van die sweiswerk wat Oupa gedoen het, sy oë beskadig het. Ouma egter, het beweer dat dit die gevolg was van al die boksgevegte waarin Oupa in sy jong dae in Fordsburg betrokke was. Hy en sy broers was glo ’n gedugte klomp om mee rekening te hou. Soms het ek Oupa jammer gekry, maar meesal nie. Ek kon nie verstaan hoekom ek nie soos ander kinders ’n oupa kon hê wat kon sien nie.

Ek was al oud genoeg om sy derde ongeluk te onthou. Oom Wynand, een van Oupa se skoonseuns, het hom saamgeneem Vryburg toe om beeste op ’n vendusie te gaan koop. Daardie dae was die pad nog nie geteer nie en met die baie motors en vragmotors op pad vendusie toe, kon hulle skaars deur die stof sien. Toe Oom Wynand ’n trekker met ’n sleepwa wou verbysteek, het hy te na aan die sleepwa verbygery en Oupa se linkerarm, wat hy by die venster laat uithang het, is tussen die sleepwa en Oom Wynand se motor platgedruk. ’n Dokter moes die arm by die elmboog amputeer.

Almal wat Oupa goed geken het, het gesê dat hy van toe af anders was: hy was verbitterd en met tye was hy baie neerslagtig en wou vir lang tye met niemand praat nie. Ander tye was hy uitermate geïrriteerd en humeurig en ongeduldig – selfs teenoor Ouma. Ons kinders moes ook dikwels deurloop as ons nie vinnig genoeg nadergekom het wanneer hy ons roep nie.

“Kleinjan, gaan kyk tog waar Oupa so lank bly,” het Ma gevra terwyl sy voortgegaan het om die brooddeeg te knie. “Sê vir hom hy moet kom eet.”

Ek het ’n sny brood gegryp en dam toe gedraf om te sien of Oupa en Filemon nog daar is. Die oggendmis oor die dam het plek-plek begin opklaar. Ons tuisgemaakte vlot het sowat vyftig meter van die damwal gedryf. Op die vlot het Oupa roerloos en krom op ’n leë olieblik gesit met ’n handlyn tussen sy regterhand se duim en wysvinger vasgeknyp. Filemon het ewe roerloos langs hom op die vlot gestaan met die stuurstok in sy hand.

“Oupa!” het ek geroep. “Ma sê Oupa moet kom eet!”

Dit was eers met die tweede roepslag dat Oupa sy kop gelig het. Toe het Filemon die vlot stadig wal se kant toe gestuur. By die wal het ek Oupa gehelp om van die vlot af te klim en my arm uitgehou sodat ek hom terug huis toe kon neem. Die emmer waarin die babers moes kom, was leeg.

“Sien Oupa uit na vanaand se boksgeveg?” het ek op pad huis toe gevra, want ek het nie geweet waaroor anders om met Oupa te praat nie.

“Hoe dan anders?” het hy gesê.

“Wie dink Oupa gaan wen?”

“Johnny, natuurlik!” Ek kon hoor hy vererg hom omdat ek so ’n simpel vraag durf vra. “Johnny Ralph gaan vanaand die swaargewigkampioen van die wêreld word. In die vyfde rondte!”

“Ek dink ook so, Oupa.”

Ek wou ook graag hê dat Johnny Ralph moes wen. Ek wou veral vir Oupa se onthalwe hê dat hy moes wen.

“Het jy al die draadloos se battery gelaai?” het Oupa gevra.

“Ek sal sommer die trekker s’n gebruik, Oupa. As Pa vanmiddag van die lande terugkom sal die battery goed gelaai wees.”

“Dit beter reg wees. Ek wil die geveg enduit hoor.”

Daardie aand ná aandete, is Oupa stoep toe – om halleluja-liedere op sy mondfluitjie te speel. Met die mondfluitjie tussen sy regterduim en wysvinger vasgeknyp, kon hy ure alleen daar in die donker sit en speel: “Ek sien ’n poort wyd ope staan …”, “Gaan my nie verby, o Heiland …”, “Saggies en teer …” en al sy ander gunstelinge. Voorheen, voordat sy linkerarm geamputeer is, het hy die trekklavier gespeel. Hy was glo die hart en siel van partytjies want hy kon al wat ’n musiekinstrument is, bespeel en boonop mooi sing ook.

Lank voor die geveg begin het, het Oupa van die stoep af ingekom en langs die radio gaan sit. Sy duim en wysvinger het kort-kort senuagtig gevoel of sy kierie nog is waar hy dit oor die armleuning van sy stoel gehaak het.

“Hoe lank nog voor die geveg begin?”

“Nog ’n halfuur, Oupa,” het ek geantwoord.

“Skakel solank die draadloos aan en gaan sê vir jou pa en die ander hulle moet nou kom. Die geveg gaan nou begin.”

Ons het almal so na as moontlik aan die radio gesit, maar ver genoeg van Oupa af om sy swaaiende gebreklike arm en sy opvlieënde humeur te ontwyk, want Oupa was tegelyk toeskouer, bokser en afrigter. In die eerste rondte het hy luidkeels vir Johnny Ralph, die held van Bloemfontein, aangemoedig, terwyl hy sittende met sy bolyf gekoes en geswenk het. Ná die tweede rondte het Mills die oorhand begin kry, en Oupa het al hoe vinniger geskadu-boks en al hoe harder raad aan Johnny Ralph geskree. Maar toe Freddie Mills vir Johnny in die sesde rondte met ’n paar vinnige houe teen die kop planke toe stuur, het Oupa stiller geword. Johnny het nog twee rondtes uitgehou, maar Oupa se reeds lelike gesig het met elke hou wat Johnny daarna moes verduur, verder skeef getrek. Toe die Brit vir Johnny Ralph in die agtste rondte uitslaan en Johnny daarna nog etlike tellings op die vloer bly lê het, het Oupa stil opgestaan, sy wit kierie opgetel en sy pad voel-voel na sy kamer toe geneem.

Die volgende oggend, toe Pa vroeg opgestaan het om te gaan koffie maak, het hy Ouma in haar kamer hoor huil. Toe hy gaan kyk wat makeer, het Ouma op die stoel langs die bed gesit en Oupa se hand vasgehou; die regterhand sonder die middelvinger, pinkie en ringvinger.

“Oupa is in sy slaap dood,” het sy in die halfdonkerte gesê.

Die dokter het later vir ons gesê dit was ’n hartaanval. Sy hart kon blykbaar nie die opwinding en die teleurstelling van die boksgeveg afweer nie.

Daar was min mense by Oupa se begrafnis. As ek kon, sou ek ook nie wou gaan nie, want ek was kwaad: Ek was kwaad dat Johnny Ralph verloor het, ek was kwaad dat Oupa nie kon sien nie, ek was kwaad dat die babers nie wou byt nie, ek was kwaad vir Oupa se simpel halleluja-liedjies, ek was kwaad vir die lewe …

Ná die begrafnis het die mense in groepies in die kerksaal gekuier met tee en toebroodjies in die hand. Pa en Oom Krisjan was diep in gesprek maar toe laasgenoemde my sien, het hy my nadergeroep.

“Ek vertel nou net vir jou pa,” sê Oom Krisjan, “dat jou oupa in sy jong dae, toe hy nog geboks het, nie een keer uitgeslaan was nie. Hy was wel by drie geleenthede planke toe geslaan, maar hy het elke keer weer opgestaan.”

Oom Krisjan moes die verwondering en blydskap in my oë gesien het, want hy het sy hand op my skouer gesit en gesê: “Kleinjan, onthou my tog, wanneer julle weer kom kuier, dat ek vir jou die paar ou bokshandskoene gee wat daar in die stoorkamer is. As ek my nie misgis nie, het dit aan jou oupa behoort.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top