
- Foto’s en teks: Mercy Kannemeyer
Ek het besluit dat ek vir elke aand van hierdie vakansie ’n Christmas-movie gaan kyk. Die movies is eenvoudig – boy meets girl, daar is een of ander klein, maklik-oplosbare krisis, ons dink die ou gaan die meisie verloor of vice versa, en dan is daar die uiteindelike oomblik waar alles uitwerk en die ou die meisie optel en in haglike weersomstandighede (gewoonlik sneeu) soen.
Die ontmoeting is soms gekompliseerd. Daar is hierdie push and pull-gevoel om die kyker in te lok. Een van die twee is ook gewoonlik “kompleks”. Ek gebruik kompleks ligtelik, die kersfeeskarakters se kompleksiteite wissel gewoonlik tussen ’n bad hair day en ’n dooie familielid wat vir hulle te veel geld in die boedel gelos het. Die eindresultaat is dat die kyker goed moet voel. Verlig moet voel. Moet voel asof alles okay gaan wees...
Al hierdie Kersfeesflieks het my laat wonder hoe my jaar sou lyk as iemand ’n movie daarvan sou maak. Hier volg my beskeie poging. (Let wel, nie alles wat hier volg is 100% waar nie, jy sal gou agterkom wat waar is, al dan nie.)
Nie so lank gelede nie was daar ’n meisie Vinny. Met haar kop alewig in die wolke en haar gesig gedraai na die son was Vinny desperaat om ’n sukses van haar lewe te maak. Die toppunt van sukses vir Vinny? Geluk. En contentment. Vinny wou nie worstel nie, maar ai, sy kon tob!
Aan die begin van die jaar staan Vinny voor twee paaie – ’n werksgeleentheid in Kaapstad waar sy studeer het en waar al haar vriende tans woon, en ’n werksgeleentheid in Johannesburg, waarheen sy nog nooit was nie, maar wat net iewers binne haar reg gevoel het. Gaan Vinny waar haar vriende is of gaan sy die vreemde in?
Een ding van Vinny is dat sy nie bang is vir ’n uitdaging nie. Inteendeel, sy is die tipe meisie wat in die rigting van uitdagings hol, en wat nie skroom om die vreemde te gaan verken nie. Groter as haar liefde vir die onbekende, is haar liefde vir haar vriende. Hulle is haar lifeline. Haar sielkundige het op ’n dag haar vriende as haar reddingsbootjies beskryf. Vinny was as’t ware voor ’n kruispad.

Ná te lank se gewroeg, maak Vinny haar oë toe en bespreek ’n vlug Johannesburg toe. Haar vriende sal verstaan.
Met haar aankoms in Johannesburg word sy vinnig oorweldig deur die gejaag. Alles voel vinnig. Die stad slaap nooit. Almal waarsku haar ook gedurig oor wat om nie te doen nie, waar om nie te loop nie, met wie om nie geselsies aan te knoop nie. Vir ’n optimis soos Vinny was dit lastig dat almal net die negatiewe van haar nuwe stad uitgewys het. Was dit ’n fout?
Weke en maande gaan verby, en Vinny verdwaal nog gereeld. Sy het nie ’n kar nie, en boonop kan sy nog nie bestuur nie, so sy moet óf stap óf uber. In die ubers ontmoet sy die interessantste mense. ’n Ou van Zimbabwe, Immanuel, saam met wie sy op daardie stadium al ’n paar Uber trips gevat het, vra op ’n dag hoekom sy nie haar eie kar het nie. Sy verduidelik dat sy haar bestuurstoets gedruip het, en maande moet wag om weer uit te passeer. Immanuel het sy bestuurstoets ook gedruip, maar R2500 later en hy het sy papiere. Almal in Joburg soek ’n bribe, en as Vinny ernstig is oor begin bestuur, sal sy moet opdok. Vinny was nie bereid om iemand om te koop nie. Die immoreelste ding wat sy al gedoen het, was om iemand se Wiskunde-huiswerk af te skryf, en alhoewel sy al byna 10 jaar klaar is met skool, kom spook die Wiskunde-skuldgevoelens nog gereeld by haar.
Johannesburg het sy mooi dele ook aan Vinny kom openbaar. Die mense voel vriendeliker as in die Kaap en as in haar tuisdorp, Mosselbaai. Vreemdelinge stap by mekaar verby en wil hoor hoe dit gaan. Die somer donderstorms bring vertroosting, en die Jakarandas maak vir goeie Instagram-posts.

Nog ’n pluspunt is dat dit maklik was om in Johannesburg vriende te maak. So kom dit toe dat Vinny vir Angelica ontmoet. Angelica studeer fine art en werk as ’n waitress oor naweke. Vinny het hoeka vir Angelica by die restaurant, waar Angelica werk, ontmoet. Dit was ’n gewoonte van Vinny om alleen te gaan uiteet. Dit was haar idee van self care. Toe Angelica sien Vinny eet alleen, het sy geselsies begin aanknoop. Angelica is lig, haar blonde hare bons op haar kop wanneer sy stap. Vinny was aangetrokke tot Angelica se oopheid, hoe sy met almal kan praat, hoe sy haar kop agteroor gooi wanneer sy uit haar naat uit lag en net hoe maklik sy deur die lewe kon navigate. Kort voor lank is hulle boesemvriende, en Vinny leer dat Angelica nie waitress vir die geld nie, maar vir die lewenservaringe. Angelica se ouers het genoeg geld, maar money can’t buy experiences, meen Angelica. Dié vriendskap was vir Vinny ’n ligpunt, ’n tipe Suiderkruis vir wanneer dinge moeilik raak.

Een van die moeiliker dinge wat Vinny moes leer, was om op haar eie twee voete te moet staan. Tot dusver het sy nog nooit alleen gebly nie. Altyd in die koshuis en tydens die pandemie by haar ouers. Daar was altyd iemand om iets vir haar te doen as sy daarmee sukkel. Op ’n koue Saterdagoggend beplan sy en Angelica om ’n bietjie te gaan thrift, maar nog voor sy haar koffie kon drink, besef sy dat haar badkamerpype verstop is. In trane bel sy haar pa en kla oor die pype. Hoe is sy veronderstel om dit uit te sorteer? Uit Mosselbaai uit bel haar pa ’n loodgieter en dié daag vol smiles op en gou-gou spoel alles weer soos dit moet. Die loodgieter vra hoekom die oproep uit Mosselbaai van alle plekke gekom het, en Vinny verklaar verleë dat sy te oorweldig was om hom te bel. “Ag nee, meisiekind. Dis nie die einde van die wêreld nie. Dinge raak soms verstop, maar vir alles onder die son is daar ’n oplossing,” sê die oorvriendelike loodgieter.
“Vir alles onder die son is daar ’n oplossing…” skryf Vinny daai aand in haar joernaal.

Ek moet die Kersfeesstorie gou hier onderbreek, want gewoonlik sou die loodgieter en Vinny op ’n date gaan en dan uitvind hulle is vir mekaar bestem, maar Vinny (en Mercy) het ’n ander ding agtergekom. Die lewe is nie ’n Kersfeesfliek nie. 2022 was alles behalwe ’n feel-good, happy-clappy alles-gaan-okay-wees-tipe-jaar. Maar vir alles onder die son is daar ’n oplossing. Vinny en Mercy het nog geen idee hoe haar jaar gaan eindig of hoe volgende jaar lyk nie, maar sy is rustig, want sy weet, dinge raak soms verstop, maar nie vir ewig nie.


Kommentaar
Lekker gelees. Dankie vir jou storie!