As die laaste dolos draai

  • 0

Foto: Canva

As die laaste dolos draai

vanuit rimpelhande
tuimel versteende bene
oor ’n bokvelmatjie neer
wyl die Inyanga se goëlgesange
teen die hange
van Mapochsberg uitbeur

daar, waar ’n vroeggebore baba
tussen dood en lewe draai
sal haar voorsate se geeste
die septer nogeens
in sý guns ook moet swaai

onder die awendster
se wakende oog
hou sy die klein lyfie
na die godestad omhoog
terwyl sy moederhart onwillig
in die vuur van noodlot brand
kleef die geur van moetie
brakbitter aan die nag
want vir háár
het die laaste dolos
gatoorkop
in die semelstof
geland.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top