As die klipdagga blom

  • 1

Foto: Canva.com

Dit was op ’n winderige dag met skuimkoppe op die see, dat sy sê sy het genoeg gehad.

“Genoeg gehad? Van wat?” wou hy weet.

“Jy weet goed.”

“Nee vrou, want jy sê dit ten minste een maal ’n maand. Wat is dit nou weer?” Hy het die pap op die stoof bly roer en nie omgekyk na haar nie. Hy het geweet hoe sy lyk as sy so praat. Hy kon haar gesig in haar stem hoor, die wilde kyk in haar oë, die saamgeperste lippe.

“Ek wil Amsterdam toe.”

Terwyl sy praat, rus sy oë op die wiegende manatok voor die agterdeur, die see net-net sigbaar deur die blare wat bewend aan die takke vasklou.

“Amsterdam nogal.” sê hy. Roer, roer, kap, kap teen die kant om die klewerige pap te laat terugval. Dan sit hy die deksel stadig op die kastrol terug. Hy draai nie om nie. Bly tuur deur die vuil venster, gevlek met mis van die see en mis van die honderde duiwe wat op die dak kom skrop.

“Ja, Amsterdam en dan met ’n bootjie af in die kanale tot onder in Frankryk.” Sy suig hard aan haar sigaret. Hy het geweet haar wange bol spookagtig na binne sodat sy anoreksies lyk. Hy het gewag en tot drie getel. Toe blaas sy die rook stadig uit. Hy het weer getel. Vier tellings, dan tik-tik teen die asbakkie op die kombuistafel voor haar.

“Daar is nou ’n special aan. Jy vlieg tot op Doha, kry ’n aansluitingsvlug tot in Amsterdam en vandaar vaar jy suid.” Haar stem klim nou effens. “Ek wil nie Parys toe gaan nie. Almal gaan Parys toe en al wat daar is, is die Eiffeltoring.” Dan sagter. “Ek het hoogtevrees.”

Ietwat driftig nou. “Ek wil deur die klein dorpies van Provence met ’n motorfiets gaan ry. Net met ’n rugsak. Ek wil gaan wyn drink en brood met kaas eet. Soos in die boeke.”

Hy weet wat kom. Sy gaan nou die sakrekenaar en ’n notaboek haal. Die notaboek waarin hulle maandelikse begroting aangeteken word. Hy noem dit hulle rillerboek. Hy skryf nie meer daarin nie. Hy sien nie meer kans nie.

Die dakplate klap meteens bokant haar kop en sy skraap haar stoel agteruit. “Ek kan hierdie donnerse wind nie meer hanteer nie!” Haar voetstappe verdwyn in die gang.

Hy bly by die venster uitkyk. Sy blik verskuif stadig na links, na haar rotstuin in die hoek van die erf. Daar waar die kleurpalet wissel van dofgroen tot vuilgrys. Dit was ’n lang, droë somer, maar hierdie wind bring die winterreën. Hy weet alles sal weer uitloop en blom, nes elke winter.

Dan vang sy oog die oranje blommetjie skuins agter die meelplakkies. Die klipdagga is al plant wat nou in hierdie droogte en daelange wind blom. Miskien moet hy hom vir haar gaan pluk. Dalk sal dit haar beter laat voel. Haar gemoed en gedagtes is weer geskommel vandag.

Hy draai die plaat waarop die pappot staan laer en druk die agterdeur teen die rukkende wind oop. Gebukkend loop hy na die rotstuin, terwyl hy sy verslete baadjiepante teen sy lyf vashou.

Die klipdagga is een van die lelikste plante van hierdie geweste. Sy het egter geweier dat hy dit uittrek en nou staan die plante stokkerig en uitdagend daar. Leonotis nepetifolia, het hy in een van haar biblioteekboeke gelees, kan gebruik word om angstigheid hok te slaan, jou rustig te maak. Nes gewone dagga sekerlik ook. Dalk moet ek die plant tog droog en vir haar tee daarvan trek, dink hy. Sy kan haar dan verbeel sy reis deur Jamaika of een of ander eksotiese eiland.

“Julia, kom kyk wat het ek vir jou!” Hy druk die klappende deur hard toe en prop die stingel met sy twee armsalige oranje blommetjies in ’n drinkglas wat op die wasbak staan. Hy het vroeër die skottelgoed weggepak, maar sy moes water kom drink het terwyl hy buite was. Sy het maar die gewoonte om alles net so vir hom te los.

Die huis is stil.

“Julia, waar is jy?”

Net die wind loei om die hoeke van die armsalige tweeslaapkamerhuisie teen die duin.

In die slaapkamer gaan hy staan. Die laaie is oopgetrek en van haar klere lê op die bed. ’n Handdoek hang oor die kasdeur. Hy is verbaas. Hy het dan self vanoggend die kamer netjies gemaak terwyl sy gestort het?

Hy hoor die voordeur toeklap.

Hy hardloop sitkamer toe en ruk die deur oop.

Sy staan op die stoep met haar rooi jas aan. Sommer so oor die verbleikte sweetpak. Haar hare waai slierterig. Haar rugsak, wat sy saamneem as sy gaan skulpe optel, hang oor haar een skouer.

“Ek moet hier wegkom, Johan!” Sy skree bo die wind.

“Julia, kom in. Jy gaan sieker word hier buite.”

“Ek wil op ’n vliegtuig klim en ek wil wegraak. Weg van die see, die wind en hierdie godverlate sandduin.” Sy gee een tree vorentoe en haar plastiekstewels blink in die laatmiddagson.

“Wil jy nie maar wag tot môre nie?” Sy stem is nou paaiend.

“Watse verskil gaan dit maak?” Sy kyk nie om nie.

“Ek kan saam met jou gaan?”

Sy draai vinnig om. Vee die hare uit haar gesig. “Wil jy ook Amsterdam sien? Die klipstrate, die ou geboue, Keukenhoff se blomme? En Frankryk, Johan? Sal jy saam met my deur die ou dorpies loop waar die tyd gaan stilstaan het?” Haar lyf is koorsig toe sy teen hom kom staan.

Hy ruik haar siekte. Dit ruik na ou parfuum en oorvol asbakkies.

Hy sit sy arm om haar skouer en haal die rugsakkie met sy ander hand af. Lank staan hulle so op die stoep, terwyl die wind huil. Oor haar kop sien hy die wolke naderkom, donkergrys en aanvallend. Die reën is amper hier.

“Kom ons gaan binne. Die pap brand seker al. Ek sal nou die wors moet begin braai.”

“Ek sal die skottelgoed was.” Skuldgevoel lê vlak in haar oë.

Die reuk van liggies gebrande pap hang gesellig in die sitkamer toe hy die voordeur ferm agter hulle toedruk.

“Dit ruik heerlik.” Sy snuif genotvol en stap kombuis toe.

In die kombuisdeur gaan hy staan en kyk na haar.

Haar oë is nat toe sy omdraai met die klipdagga teen haar bors vasgedruk.

“Jy het vir my ’n blom gaan pluk! Kyk hoe mooi is hy. Mooier as Keukenhof se mooiste tulpe.”

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top