
Foto: Canva
As die aarde te swaar word
Die aarde dra swaar
aan die trane van ma’s
aan arm kinders se stilte
aan verstote diere se honger en
opgeblase mense se venyn
aan politici se hoogmoed
en verstikkende riviere vol van goed
so oorbodig en stukkend en vuil
en goed wat uit die mode raak
Die aarde sug en kreun
en kraak in Pakistan
en kook oor in Japan
en spoeg en braak in
Victoriabaai
Die aarde pyn en bloei
waar nog ’n bom en nog ’n drone
en nog ’n jong soldaat sy oog instel
op nog ’n kind en honger hond
op nog ’n huis gestroop van lag
op nog ’n ma wat eens ’n bruid was
en trane afgevee het
net omdat sy bly was.
Eendag sal die aarde te swaar word vir sy eie as
en afval en rol
om eenkant in ’n donker hoek
te lê en net
te huil


Kommentaar
Raak gestel. Pragtig!
Ja, mooi.
Oudjoernalis Gideon Joubert het ‘Die Groot Gedagte’ in 1997 die lig laat sien en skryf: “Die heelal is deur geweld gevorm en word deur die ewewig van botsende kragte in stand gehou.”
Dit sal interessant wees om te sien of daar genoeg energie oor is om die spulletjie staande te hou.