
Fotobron: Canva
Ars Poetica
aan die einde van die versreël
met die vingers van twee hande
die woord gebreek
die vers in lig gestol
aan die einde van die versreël
tussen die vingers van twee hande
die woord gebreek
’n bloeiwyse opwaarts en oop
om met die geur uit stomata te bind
aan die einde van die versreël
op die infrarooi spektrum
’n smal seintuur wit lig
uit grys marmer teruggestraal
in die gewel
op Doriese kapitele
Iris met Egiptiese blou omgord
haar jurk diafaan rimpelend teen die torso vasgewaai
met die vingers van twee hande
die woord gebreek
glimmende reste op die hinterteks


Kommentaar
“Woord gebreek” – die mooi beeld herinner my aan Sondae, en maak my nuuskierig oor al die geheime wat nog opgesluit lê en wag om ontdek te word, soos die Egiptiese blou. Fassinerend. Die gedig is visueel ’n fees vir my en meesterlik geskryf.
Die pragtige gedig maak mens nuuskierig oor al die geheime wat nog opgelê is in die Egiptiese blou in marmer beelde. Fassinerend.