Argustyd

  • 0

(’n luilekker Sondag in die Kaap –
altyd die tweede Sabbat
in die maand van Maart,
. . . elke liewe nuwe jaar)

die trapkrag-atleet
amateur tussen al die ander
wat vir die vale telkemale
teen homself sy fiets moet ry
soveel newtonmeter
per sekonde

kuitspiere stug gebult
koolhidraatbelaai
gepomp vir die reis
gesmul aan pampoen se pit
piesang sonder skil
onder andere
rosyne by dosyne
taai en trommeldik
met goue oue lemoenwyn
afgesluk

papegaaipens in die son
poer in sy maai
uitgerus

want môre, as die son
oor die geskierde eiland skroei
of die suidoos trots en reg van voor
sy nat asem in die pret se keel
durf druk

sal die pedaaltrapper jolig
vir die grap,
met geventileerde helm
metaal en al,
sonder vlerke,
skelm
die voorwiel koersvas
om die gedekte tafel van daai berg
tussen die ander setlaars
versigtig, heel links
moet mik.

knieg gebuig
ketting styf gespan
verskeie tweemaalpaai-strale verder
uit en aan moet hou
en deurgaans bid
fun ride
of te
not

soos elke keer
weer eenmaal probeer
om in die bont verspotte bondel truie
langs die groot oop see se reguit strand
incognito self die wenpaal
in te haal

en helder weer
die harsings wat maar weet,
kom wat wil, ingeswets
uitgesweet –

die eerste oefenrit
vir volgende jaar, diesefde tyd,
dieselfde plek en dieselfde ek,
is nou vir eers
so heerlik
verby.

en Jesus
het weer op die tandem
voor en saamgery

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top