Arendsvlerke vir Siebert deur Elsa Winckler: ’n lesersindruk

  • 0

Arendsvlerke vir Siebert
Elsa Winckler
LAPA
ISBN: 9780639607139

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Aan die hand van ’n vinnige internetsoektog kan mens gou vasstel dat Elsa Winckler die skrywer is van boeke soos Omdat jy my gesoen het en Omdat jy die een is. Omdat ek niks van hierdie boeke weet nie, aangesien ek nie in die teikenmark daarvan val nie, kan ek nie hierdie vorige werke met dié een vergelyk nie. Maar my vermoede is dat Arendsvlerke vir Siebert waarskynlik ’n ietwat meer genuanseerde boek is as sommige van die ander titels.

Nie dat die liefde ooit ongekompliseerd is nie. Kyk, evolusie het ons gestraf met die liefde –  ek jok, ons is vervloek met verlief word, wat ook eintlik weinig met liefde te doen het. Ons praat maar net so en noem dit liefde. En selfs al stap die jare aan, as jy verlief raak, dan is jy verlief. Daar is weinig salf aan te smeer. Jy verloor jou kapasiteit vir nugtere denke vir ’n sekere tyd. Maar laat staan die liefde; dit is nie die sentrale motief in hierdie boek nie. Die onderwerp van hierdie boek is iets veel meer droewig – dit is die saak van verslawing. Die verhaal sentreer rondom ’n voorstedelike Afrikaanse familie, en hulle is woonagtig in die skone Somerset-Wes. Ma Katinka heers met liefde oor haar kroos, haar lewe omgekeer deur die ontydige heengaan van haar jare lange lewensmaat, Barend, wat gesterf het weens ’n hartaanval.

Dit is ’n gelukkige, liefdevolle en vooruitstrewende gesin van vier. Daar is Talia, die dogter van Katinka; Rikus, die een seun; en dan Siebert. Siebert is die gesin se “sensitiewe kind. Hy trek hom dinge maklik aan, kry maklik jammer en ervaar emosies soveel meer intens as haar ander twee” (2). Die gesin reageer met skok op Barend se dood en dit is veral Siebert wat skyn te sukkel om pa Barend se dood te verwerk. Katinka wend haar ná Barend se dood tot die onderwys, maar Siebert word uiteindelik vir sy geliefdes ’n vreemdeling. Stories begin die ronde doen dat hy met dagga en heroïen eksperimenteer. Die hele gemeenskap praat daaroor, maar ma Katinka se eerste reaksie is ontkenning (dit is mos hoe die geleerdes sê die mens graag reageer).

Die skrywer werk vanaf die uitgangspunt dat verslawing ’n siekte is. Natuurlik sal nie almal daarmee saamstem nie, maar dit is die heersende gebruik ook in die heersende psigologiese paradigmas.  Wat ook op interessante manier deurskemer, is dat die skrywer die verskillende benaderings tot verslawing in die boek erken en ondersoek. Benewens die kwessie van verslawing, is daar natuurlik ook ander onderstrominge in die verhaal, soos die spanning tussen kinders en stiefouers. Die boek het ’n sterk Christelike ondertoon en sal waarskynlik veral tot daardie gehoor spreek. Die titel van die boek is juis oorgeneem uit die Bybelse boek Jesaja: “Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke (Jesaja 40:31). Die Christelike ondertone speel ook uit in die patriargale karakter Tertius, wat die situasie as’t ware “red” vir die gesin. Jou ekstreme feminis sal dalk nou nie baie beïndruk wees nie, maar ’n Christelike feminis dalk wel. Ten minste word die hele verhaal nie vertel vanuit Tertius se perspektief nie. Katinka is die sterk vrou in die verhaal. Sy is ook die hoofkarakter, hoewel nie ’n perfekte heldin nie, een wat gedurig Siebert se probleem wil ontken.

Die boek se einde het my werklik verras. Ek was verbaas dat die onderwerp van die LGBTQI+-gemeenskap ook by die onderwerp betrek is. Vir die wis en die onwis, en voordat die leser aannames maak, Siebert verval nie in dwelms omdat hy self lid is van die LGBTQI+-gemeenskap is nie, hoewel Katinka dit op ’n stadium begin dink. Al wat ek eintlik wil sê, is dat dit uiters verfrissend is om Christelike lektuur te lees wat nie, soos in die geval van verslawing, ook na LGBTQI+ kyk as ’n “siekte” wat “genees” moet word nie. Die tegniek wat die skrywer egter gebruik, naamlik om sekere inligting tot aan die einde van die leser te weerhou, veroorsaak dat geen vermoede aan die kant van die leser eintlik moontlik is nie. Aan die een kant doen dit ietwat afbreuk aan die deurlopende spanningslyn, want die leser is nie deurlopend vertroud met die besonderhede nie, maar aan die ander kant maak dit die einde heeltemal onvoorspelbaar.

Arendsvlerke vir Siebert word beskryf as ’n “verhaal van genesing en hoop”. Ek kan dit beaam en dit is heel prikkelende leesstof. Die karakters se dialoog was vir my soms ’n bietjie onoortuigend, maar die onderwerp van verslawing sorg dat die verhaal genoeg gewig het om die aandag te behou. Ook ietwat steurend is hoe die teks dit soms wil laat skyn asof Katinka na Barend se dood haar Bybel vermy, en amper wil suggereer dat haar vermyding van die Bybel ook deel is van die groter chaos in die familie. Nietemin, ek dink veral mense wat worstel met die dood van ’n geliefde, veral ’n geliefde vaderfiguur, sowel as mense wat die hel van verslawing ken, of dalk net in dié onderwerpe belangstel, sal die boek baie geniet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top