Arch (Desmond Mpilo Tutu)

  • 1

Clinton V. du Plessis skryf op Facebook

Arch (Desmond Mpilo Tutu)
(07/10/1931-26/12/2021)

Noodsaaklik,
gebiedend noodsaaklik,
dat daar óók in hierdie taal
(wat eens ru en brutaal
met ’n stoere stewel teen die nek
oor medemens en respek
vir lewe, getrap en gestap het)

woorde teen vergeet aan jou gewy moet word.

Geen blindelingse loflied
geen valse halleluja
geen kruiperige lamentasie
maar, hulde gebore uit die bebloede gewete van ons geskiedenis
uit Lingelihle, Soweto en Stockholm
’n bede begelei deur kerklokke in Kaapstad
’n laaste inkantasie, ’n stille Tibettaanse meditasie
vir die vredemaker.

Omdat jy mens én menslik was
die kruis gedra het:
vader van ’n verlore seun
die draer van ’n siekte waaroor meeste mans swyg
die kanker van hierdie land
waar ’n gebruikte motorband
taai en klewerig die laaste stukkies mens tot as verbrand.

Jy het jou hand gelig,
jou stem verhef: Nee.

Soos Saggeus, kort van postuur,
maar ’n reus met ’n mikrofoon
moedig voor in die ry. Jy
bou ’n brug oor die kloof
tussen Casspir, suburb en township,
maak geloof, gebed en God weer hip en relevant
bely braaf dat die Bybel tog (polities) kan bevry
jy gooi die deure van die katedrale oop
verwerp alle ras- of geslagsvooroordeel
want, slegs as ons die verwerping van gebrokenes ken, word ons weer heel.

Jou vreeslose genadelose teregwys tóé, maar ook nóú-
dat stilbly en wegkyk hoogmode is.

China se dertig silwer sikkels,
die parlement se pot lensiesop,
die blinde arrogansie van mag.

Maar jy kon deur alles bly lag, so hartlik, aards, eerlik.

Daar lê ruikers respek opgestapel teen heinings
die berg, die stad, die land kruip in onder die pante van jou kleed.

’n Hele generasie gedompel in rou, omdat jy mens én menslik was:

Jesus wept, and Tutu wept.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top