strakkies of nee
vir tyd en ewigheid
verkneukel ek my altoos
aan applous
handpalms wat
klakkeloos kletter
of deur ’n ander oor
soms ’n dowwe geklopklappery
as die palms bak staan
die gejoel en gesketter wat dit afbring
as skares mekaar aanhits
formeel, informeel
pompeuse konserte
klein enklaves
gul, intiem
skyterig
en soms doodeerlik
o wee die ongemak en ellende
as dit halfhartig gebeur
en ’n verwagte toegif word verbeur
ja, die hele boel
skyn opium te wees
vir ’n hele kaboedel
iets aan dié spektakel van applous
bly vir my banaal
selfs primitief
as dawerende applous
in ’n konsertsaal ontsluit
druk jou oorgate toe
druk jou oorgate toe
luister jy hoor ’n driftige reënbui kletter


