Apie en Tokkelos

  • 0

Een aand toe Apie en Tokkelos
So al om die vuurtjie speel
Sê Apie mos vir Tokkelos
"Sal jy met my jou geheime deel?"
Vra Tokkelos toe vir Apie:
"Kan jy die maan daar bo gaan haal?"
"Is daar dan iets op 'n plek so vaal?"
Vra Apie toe vir Tokkelos ...

Sê Tokkelos vir Apie
"Die Liefde is daar bo."
En Apie sê vir Tokkelos
"Hoe kan jy so iets glo?"

Tokkelos vir Apie
"Die liefde is groot en die liefde is swaar
En die liefde word net vir die goeies bewaar!
Die liefde wag daar in 'n kis
en in jou hart is waar die sleutel is!"

En Apie vra vir Tokkelos
"Maar hoe kry ek hom dan oop?"
En Tokkelos sê vir Apie
"Dis 'n paadjie wat jy moet loop!
Jy loop die paadjie met geduld in jou hand
en stap met wysheid al deur die land.
Jy loop met jou familie in 'n tas
en vriendskap in die sakkie van jou jas.
Tolgeld haal jy uit by Seerkry se brug
en partykeer kom klim verstaan dan op jou rug ...
Hartseer sal jou iewers vergesel
Dan moet jy maar vir Onthou gou-gou kan bel."

Vra Apie toe vir Tokkelos
"Maar hoe kom ek op die maan?"
Dis toe wat Tokkelos vir Apie vertel
"As jy die paadjie loop en geloof jou by
Moegheid kom vergesel
Sal jy sien jy was al daar
Die kissie is al oopgesluit
En hoe jy die liefde wil gebruik is alles jou besluit ..."

"Maar oppas Apie!" -
Sê Tokkelos toe by
"Liefde moet jy deel
Want anders kom Jaloesie en Haat dit van jou steel
Jou sleuteltjie sal jy verloor
en Liefde word weer in sy kissie gestoor
En weer is die kissie op die berge van die maan
En sal jy nie weer die kansie kry om daarheen te gaan!"

En Apie vra vir Tokkelos
"Tokkelos - was jy al op die maan?"
"Apie, ja!" sê Tokkelos - "en jy was toe al saam!"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top