Apartheid: Britain's bastard child deur Hélène Opperman Lewis: ’n resensie deur Martie Meiring

  • 3

Apartheid: Britain's bastard child
Hélène Opperman Lewis
Uitgewer: Reach
ISBN: 9780620702232

Die titel van die boek lewer die heel eerste dilemma vir die voornemende leser. Die omslagfoto van ’n uitgeteerde kaal kind met ’n geweer in die hand word as “a starved Boer boy” beskryf en is deur Reach Publishers ontwerp. Onder die opskrif Apartheid, Britain’s Bastard Child is hierdie omslag grusaam sensasioneel. Waarskynlik sal die boek ook om hierdie prikkelende redes gelees wil word.

Opperman Lewis skryf dat die boek geskryf is in ’n poging om te begryp watter sielkundige faktore ’n dominante rol gespeel het in die Afrikaners se 1948-besluit om apartheid in te stel. Iets wat sy dan as “a fatal choice of radical and humiliating race segregation” bestempel.

As ’n sielkundige wat in die psigogeskiedenis begin belangstel het, het Opperman Lewis 15 jaar se navorsing in ’n teks van 465 bladsye met ’n indrukwekkende bronnelys, geskryf. Haar oorsig strek van 1795 tot 1948.

Ondanks die skrywer se wye leeswerk dring haar vooropgestelde motief soms verstommend op. Sy erken in haar outeursnota: “[T]alking about and confronting English humiliation of the Afrikaner was not ‘the done thing’ [...] [B]y writing about it, I was now exposing and challenging an old ingrained and unspoken orthodoxy; one that is unacknowledged and still practiced by many.”

Daaropvolgens neem sy ’n historiese vlug oor die vir haar Britse veragting vir die Afrikaners met as haar eerste sondaar die ou reisigerskrywer John Barrow. Met die publikasie van sy Travels was dit, volgens haar, ’n “bestselling catalogue of Boer cruelty and backwardness”. Sy sou ook die sendelinge John Philip en David Livingstone as Afrikaner-haters bestempel.

Sekerlik kon sy met reg verwys na haar sprakelose gevoel van onwerklikheid met Allister Sparks se verwysing in sy boek The mind of South Africa (1991): “[H]aving been lost in Africa for a century and a half and become the most backward fragment of European civilization on earth, the Afrikaners were suddenly confronted on their Arcadian frontier by the world’s most modern society.”

Dan moet die leser ook vra hoe, histories gesproke, en sonder gevallestudies, die skrywer se volgende waarneming geldig is: “After the war, an indifferent English majority continued to publicly humiliate the destitute Afrikaners, while denying the horrors of the camps.” Sy som die paranoia wat dan onder die Afrikaners sou ontstaan dat “suspicion about the ‘English’, at times bordering on the paranoid, prevailed. This suspicion extended to the Roomse gevaar (Catholic threat), die internasionale geldmag (capitalists), swart gevaar (black threat), and eventually, rooi gevaar (communists).”

Opperman Lewis glo ook dat die simboliese Ossewa Trek in 1938 ’n belangrike simbool geword het, ’n psigiese opvangplek vir die Afrikaners se gefragmenteerde selfbewussyn. Ook, voeg sy dan by, het die Afrikaners gesoek na identiteit vir ’n gekose glorie.

Die leser kan met reg soms wonder of die skrywer se byltjie teen die Britte nie te skerp is nie, dat sy aandadig word aan die eeue oue pejoratiewe beskrywing van Brittanje as “Perfidious Albion”. So meld Opperman Lewis baie gevalle waar rassisme onder Britse beheer beoefen is, soos die treinsegregasie in Natal in 1877 en later in die Kaapprovinsie in 1893. Sy argumenteer onder meer dat generaal Hertzog se pleidooi vir segregasie gegrond was op die vrees vir oorlewing, en dat daarom, in haar woorde, “history overtook Afrikaners and they moved from being the victim to being the villain”.

Hierdie omvattende, dikwels frustrerende manuskrip kan egter nie summier afgewys word nie. Opperman Lewis vee wyd oor die geskiedenis met baie interessante verwysings, aanhalings, en weliswaar gevolgtrekkings waaroor die leser soms self goed sal wil nadink.

Op die keper dwing hierdie teks ’n nuuskierigheid oor die sg psigogeskiedenis en die ondersoek na ’n verskynsel soos apartheid. Opperman Lewis verwys wel na die teoretiese psigogeskiedkundige Peter Loewenstein se teorie: “Psychohistory is oriented to dynamic psychology in which the present reality interacts at all times with and is related to the personal and social past of the person in the unconscious.”

Is hierdie uiteensetting ’n uitdaging vir verdere, miskien meer eietydse ondersoek na die twee gebiede geskiedenis en die psigologie, veral die invloed wat ons eie apartheidsverlede op ons huidige gedrag het?

Lees ook:

Apartheid: Britain’s bastard child by Hélène Opperman Lewis: book review

Vicki Trowler
Books and writers

"I came to this book interested in inter-/transgenerational trauma, as a South African, and read it as a case study of the Afrikaner as a particular case of such trauma. I left unconvinced, which is a pity." 


Apartheid: Britain’s bastard child, an interview with Hélène Opperman Lewis

Herman Lategan, Hélène Opperman Lewis
Books and writers

"Before answering, let’s clarify the thorny issue of racism first. And let’s be clear – white racism arrived with the arrival of all Europeans in southern Africa. It’s not something that suddenly surfaced in 1948! And it certainly is not something peculiar to southern Africa only!"

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Rasse-segregasie was nie gegrond op die vrees vir oorlewing nie, maar op die vrees vir verswelging of ondergang. Retief skerm vir die Britte en is skepties oor Opperman se standpunt maar kom eintlik met geen argumente om lesers van die teendeel te oortuig nie.

    • Netso!
      Teenoor die Britte, wat seker die gruwelikste vergrype in die geskiedenis oor die laaste paar eeue, in hul koloniseringsdaad, gepleeg het, tree sommiges van ons verbasend sagkens op.

  • Avatar
    Hennie la Grange

    Dis malligheid om in hierdie blokkie so ‘n werk te resenseer. Daarom sal ek my hou by die impak wat dit op my het: herkenning. So "unconvinced" as wat dit vir Vicky Trowler (hierbo) laat, so duidelik sien ek my/ons raak. Maar dis seker te verwag. Dog, basta met die "sonder gevallestudies"; Retief het pas verwys na "’n indrukwekkende bronnelys" en “wye leeswerk". Om die een stelling te wil verdag maak weens gebrekkige boekstawing, is oneg. Ek hou ook nie van die omslag nie. Dis inderdaad ‘n "frustrerende manuskrip" wat braakland ploeg waarop daar reeds grondeise skyn te wees. Dit is polities inkorrek, kontra die gekose verstaanshorison van ons tyd, maar nie daarom ook onwaar nie. Na my mening maak die resensent te maklik die ooglopende fout: ontkenning. Ek vind herkenning. Ons gaan moet ooreenkom om te verskil. ‘n Laaste stuiwer: Ek lees nie in die werk enige verontskuldiging van Afrikaners vir Apartheid nie. Afrikaners was bloot wit en Europees, en blykbaar ook van die laagste verskyningsvorme van die betrokke ras. Met hulle vereenselwig ek my: Dis wie ek ook is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top