Beste Angus
Ek gee moed op met jou; jy sê “grammatika is slegs vir die student van die taal bedoel, nie die gebruiker van daardie taal nie.” Angus, niemand kan enige taal praat as hy nie die grammatika ken nie; grammatika skryf voor hoe jy woorde aanmekaar las om begrippe oor te dra. As jy sê “die meeste mense het geen begrip van die grammatika van hulle taal nie” beteken dit hulle kan nie daardie taal praat nie want hulle weet nie hoe om die woorde aanmekaar te las nie.
Jy verwar grammatika met grammatikaterme. ’n Ou wat stap het geen idee wat die spiere genoem word wat hy gebruik om mee te stap nie, maar dit beteken nie hy kan nie stap nie. Die meeste mense wat Afrikaans, of enige taal, praat het miskien geen idee wanneer hy ’n werkwoord of of ’n selfstandige naamwoord of ’n byvoeglike bysin gebruik nie, maar hy gebruik dit om die taal te kan praat. Hy ken die grammatika van sy taal (anders sou hy dit nie kon praat nie) sonder dat dit nodig is om die grammatikaterme te ken.
Jy sê jy het male sonder tal aan my vertel dat grammatika deskriptief is. Maak nie sin nie; GRAMMATIKATERME is deskriptief (soos fisiologieterme deskriptief is) maar grammatika self is voorskriftelik, dit is die reëls wat jy moet gebruik om die taal te kan praat.
Jy sê: “Taalkundiges kan onmoontlik iets beskryf wat nie bestaan, soos jy dit wil hê, nie; dis die werk van fiktiewe skrywers.” Waar het ek ooit so iets beweer? Ek sê juis die teenoorgestelde naamlik dat taalkundiges die BESTAANDE grammatika ten boek stel (en dit het ek nou al seker vier of vyf keer aan jou gesê). En jy’s die ou wat van verdraaiing praat.
Dat die sin “jy’t gemention dat ons nie ’n future saam het nie” tog maar Afrikaans is soos jy beweer is onsin; dis so min Afrikaans as wat die sin “you noemed that we don’t have a toekoms together” Engels is. Eersgenoemde is swak Afrikaans en die ander een is swak Engels; ’n Engelssprekende wat nie Afrikaans ken gaan nie daardie sin verstaan nie en eweneens gaan ’n Afrikaanssprekende wat nie Engels ken nie glad nie daardie sin verstaan nie.
Jy sê jy: “ ... het [my] gewys dat die Engels waarteen [ek] so stry en baklei vandag se Engels is.” Nie waar nie; dis andersom. Jy het beweer dat Standaardafrikaans oud-Afrikaans is waaruit die anglisismes geweer is waarop ek jou toe gewys het die Engels waarteen ek “so stry en baklei” vandag se Engels is. Dit is hedendaagse indringers, nie ou Engels nie. En jy’s die ou wat praat van verdraaiing.
Ek kyk ook nie sepies nie, maar die wat ek so nou en dan gedeeltelik saam met my vrou sien loop oor van die Engfrikaans. Maar, soos ek jou al gesê het, dis nie net in die sepies wat Afrikaans verkrag word nie; van die omroepers en kontinuïteitsaankondigers se Afrikaans is beroerd.
So, ek sê weer vir jou, Afrikaans gaan agteruit met rasseskrede en word op alle gebiede deur Engels verdring. Afrikaans is nie meer ’n universiteitstaal nie, is nie meer ’n hoftaal nie en kan nie meer in die openbare sektor gebruik word nie; as jy ’n klag by die polisiestasie wil lê, of ’n probleem by die belasting- of poskantoor wil oplos MOET jy Engels praat (ten spyte van die feit dat Afrikaanssprekendes ’n groot gedeelte - ’n baie groot gedeelte - van die belasting betaal). Die rede hiervoor is nie wat Lord Charles Somerset in die verlede gedoen het nie, of jou eienaardige siening van grammatika of die geboorte van ’n nuwe taal nie, maar hoofsaaklik die gedweënheid en gedienstigheid (dus slapgatgeit) van ons Afrikaanssprekendes.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Beste Angus,
Jy het jou bes getraai, maar Jan gaan nié die begrip van "grammatika" onder beheer kry nie. Om die waarheid te sê, Jan wil nie die begrip van grammatika onder beheer kry nie, want dit pas nie in by sy idee daarvan nie. Die ou spul linguiste weet in elk geval mos nie waarvan hulle praat nie ...
Groete
Dirk
Beste Jan,
Dis juis as gevolg van hierdie slapgatgeit dat ons vandag nie meer Hollands praat nie, maar Afrikaans. Dis as gevolg van die slapgatgeit dat die Afrikaans wat ons nakomelinge sal praat, 'n ryke woordeskat van Engelse woorde sal bevat.
Selfs al sou Afrikaans verdwyn, dan sal ons Engels praat, want Engels sal nie verdwyn nie. Dis te aanpasbaar en plooibaar daarvoor, en met ons spraakorgane sal die mens kommunikeer, al is dit dan geradbraak of kreools. Dis uiters seldsaam as jy 'n Afrikaanssprekende kry wat nie saam met sy Afrikaans ook Engels geleer het nie. Toe ek my maar kom kry, het ek Engels en Afrikaans verstaan en gepraat.
Kennis van grammatika is nie nodig om 'n taal te verstaan en te praat nie. Grammatika is 'n moeilike vak en met die aanbieding van 'n taal op skool, word dit vermy. Grammatika-kennis is onnodig; gaan toets maar enige kleuter wat al lekker in Afrikaans of Engels of Duits of Russies kan babbel, en jy sal agterkom dat hy nie eens weet wat grammatika is nie.
Miskien moet ek jou toets om te kyk of jy iets weet van die Afrikaanse grammatika. Miskien is dit maar beperk tot die grammatika wat jou taalonderwyser, wat self nie veel geweet het van grammatika nie, jou geleer het. Miskien het jy nog so bietjie preChomsky-grammatika mee gesukkel. Grammatika, soos feite, het intussen so verander dat jy hedendaagse grammatika nie eens sal herken as grammatika nie.
Gaan lees maar Chomsky se "Syntactic Structures" en kyk of jy iets verstaan.
Groete,
Angus
Angus
Jy skryf: "Selfs al sou Afrikaans verdwyn, dan sal ons Engels praat." Ek kan daarmee saamleef, hopelik sal hulle hulself steeds as Afrikaners beskou.
Beste Jaco,
Hoe dan anders? Die Amerikaners dink nie hulle is Engelse nie, en nog minder die Australiërs. Dis nog net sekere Engelssprekendes hier in RSA wat dink hulle is Engelse.
Groete,
Angus