Antwoord op Koos Kombuis se ope brief

  • 0

Beste Koos,

Voor ek op jou briefie antwoord, ? paar vrae:

Jou aggressie interesseer my. Is dit net hoe jy is, of is dit die enigste manier hoe jy oor die jare geleer het om gehoor te word en aandag te trek?

Jou beheptheid met taalfoute en goeie taalgebruik is prysenswaardig en gevolglik kan ek verstaan dat swak taalgebruik jou tot die uiterste toe grief. In jou hoedanigheid as taalkenner sal jy my dus kan uithelp: Is “ge-sue” ? Afrikaanse woord? Ek het dit in die HAT gaan opsoek maar kry dit nie daar nie. Ek het wel die woord “dagvaar” gekry. Toe wonder ek of jy dalk van dubbeltongigheid beskuldig kan word, maar toe besluit ek, nee – almal ken jou as ? mens van goeie inbors – en dat jy waarskynlik net die sondes (waarvan jy ander beskuldig) gepleeg het omdat jy óf dronk was, óf ondeurdag … of albei.

Nog een ding: Bok is nie die kaptein van ons bende nie. Jong, my maatjies en ek was sommer vies toe jy dit impliseer, want maatjie Johan en maatjie Sean het daardie “briljante song”, soos jy dit noem, geskryf. Maatjie Bok het ? paar woorde bygedra. Daarom het ons lankal vir maatjie Sean en maatjie Johan as mede-kapteins van ons bende aangestel.

Hoe dit ookal sy, ? paar gedagtes oor jou boodskappie aan my en my maatjies:

Jy praat van oorlog, Koos, en soos jy dit beskryf is dit duidelik jy bedoel ? konvensionele oorlog – soos met gewere en bomme. Die oorlog waarmee ons hier besig is, is ? simboliese oorlog. Dit is per slot van sake waarmee die letterkunde per se werk. Om ? voorbeeld te gee: het daardie ander outjies regtig bedoel hulle gaan kreef eet toe hulle op ? “Eet Kreef” toer gegaan het? Jy is onverantwoordelik as jy so maklik van konvensionele oorlog praat, of my en my kollegas daarvan beskuldig dat ons met ONS VIR JOU ? beroep op die Afrikaner doen om ? konvensionele oorlog in Suid-Afrika te voer. Skaam jou.

Dit sou ook onverantwoordelik en naïef van jou wees om te ontken dat ons in hierdie land, soos in enige ander land ter wêreld, by ? simboliese stryd betrokke is – simbolies in die sin dat die simbole van verskeie kulture met mekaar meeding vir oorheersing, dikwels (maar nie altyd nie) met die gevolg dat die een of die ander, of albei, uitgewis word.

Dankie vir jou lessie oor De La Rey en vir die inligting dat hy teen die oorlog gekant was. Vergewe my die gebruik van ? bietjie Engels hier: No! Really?! You don’t say! Die aanhaling uit ONS VIR JOU wat ek voorheen gestuur het, kom uit ? toneel diep in die tweede bedryf waar ons wou uitbeeld hoe De La Rey sy manne teen die ontmoediging van die “verskroeide aarde-beleid” moed probeer inpraat. Maar hier is woorde wat ons vir De La Rey heel aan die begin van die stuk gegee het. (LW, Die teks wat skuinsgedruk is, was De La Rey se eie woorde.)

DE LA REY: Ek vra hier, voor hierdie Raad: moenie daardie eise stuur nie, want die Engelse sal, so seker as wat ek hier staan, dit verwerp. Maar as julle dit doen, moet julle weet: ek sal my plig doen soos die Volksraad verlang. En u sal my nog in die veld aantref lank nadat u en die spul, wat met hulle monde oorlog voer, die land uitgevlug het.

De La Rey was by baie oorloë betrokke voor hy tot generaal gedurende hierdie oorlog bevorder is. Veglustig was hy beslis nie – en dis wat hom so ? interessante karakter maak, juis vir ? drama of musiekblyspel, want hy was ? formidabele kryger wat met ? swaar hart die slagveld betree het. Dis ? oeroue argetipe: die gedugte kryger wat dit as die hoogste ideaal het om nooit sy swaard teen ? ander mens te lig nie. My ervaring as skrywer is dat dit juis sulke argetipes is wat die kragtigste in die drama uitgebeeld kan word.

Wat die geld betref: natuurlik hoop ek dat ek, indien nie ? wins nie, ten minste my geld sal terugkry. Het jy nie geld uit jou kuns (of “versetkuns”) verdien nie, en as jy het, diskwalifiseer dit jou kuns outomaties?

O ja, en van dagvaar gepraat … as jy Cronjé was, sou jy ons beslis wou dagvaar, saam met Milner.

Vriendelike groete

Deon Opperman

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top