Anton Bruckner

  • 0

Anton Bruckner (1824-1896) was ’n beskeie mens met ’n eenvoudige, plattelandse agtergrond wat langer as ’n dekade die orrelis van die katedraal in Linz was en in 1868 tot hoogleraar in musiek in Wenen, Oostenryk, gevorder het. Weens sy sosiale ongesofistikeerdheid is daar op hom neergesien. Om sy gevoel van minderwaardigheid te besweer, het hy die een musiekkwalifikasie na die ander verwerf, selfs by diegene wat veel eerder by hom kon leer. Uiteindelik het sy kritici besef dat hy baie beter as hulle op bv die klavier en veral die orrel kon improviseer. By hom was dit sowel ’n natuurlike aanleg as ’n geslypte vermoë wat uitdrukking in sy hoogs naïwe maar aangrypende religie-deurdrenkte werke gevind het.

Ek merk op dat ’n ander Anton, sy van is Barnard, op 3 deser op die internet die term Kafrikaans gebruik het. Of dit sy of iemand anders se vindingrykheid is, weet ek nie. Daar is talle soortgelyke terme. Maar hierdie een is myns insiens ’n belangrike en hopelik blywende vonds. Die gebruiksduur van hierdie woord sal egter afhang van die mate waarin dit aanklank in ons private en veral openbare kommunikasie vind. Dit demonstreer weer eens die soepelheid van Afrikaans; gelukkig sonder om loslit, dus Engels-inskiklik, te wees. Met Kafrikaans as beginpunt kan ’n mens soos Bruckner na hartelus improviseer, steeds met klanke, maar hierdie keer eerder in die vorm van woorde as musieknote.

Een van die dinge wat van die term Kafrikaans ’n wenner maak, is die ondubbelsinnige betekenis wat die eerste lettergreep, kaf, oordra. Dit gaan klaarblyklik oor iets wat afgekeur behoort te word. Kafrikaans kan as ’n verkorting van die frase Kaapse Afrikaans, oftewel Kaaps, vertolk word. My beswaar daarteen is dat Kaaps primêr nie as Afrikaans beskou moet word nie, maar eerder as ’n mengel- of hibiedetaal, omdat die verstaanbaarheid daarvan in die praktyk meer kennis van Engels as Afrikaans kan verg. Dit is moontlik dat Kaaps, ooreenkomstig die taalwerklikheid in die nuwe Suid-Afrika, toenemend Engels en al hoe minder Afrikaans word, ten minste wat betref die woordeskat.

Inklusiwiteitshalwe moet aan Kafrikaans liewer ’n omvattender betekenis gegee word. Die meerderheid moet betrek word. Dan dui Kafrikaans op die dikwels moedswillige verwringing van Afrikaans by minstens drie van die bevolkingsgroepe. By bruines wat betref woordgebruik en uitspraak. By swartes wat betref uitspraak en grammatika. By wittes wat betref die onnodige gebruik van Engelse woorde en anglisismes, dikwels met die doel om ten koste van Standaardafrikaans te demonstreer dat daar vrede met die nuwe Suid-Afrika gemaak is.

Dit is natuurlik nie net Afrikaans wat onder die nuwe bedeling ly nie. Daar is talle mense, die oorgrote meerderheid, wat deesdae teen wil en dank as tweede- en derdetaalsprekers by voorkeur Engels gebruik; ook wanneer dit onnodig is. Ongelukkig is die populêre opvatting dat hierdie soort anglofilie as bewys van ’n positiewe gesindheid jeens die nuwe Suid-Afrika dien. Hierdie tweede- en derdetaalsprekers is in feitlik alle gevalle nie tot King’s English in staat nie en in baie gevalle ook nie tot gangbare Suid-Afrikaanse Engels nie. Wanneer sulke Engels kommunikatief grootliks disfunksioneel word, kan dit Kenglish of Kengels genoem word. Die eerste deel, ken, kan "beyond one’s ken" beteken (Bloomsbury dictionary of word origins, 1991).

In die plaaslike massamedia (pers, rolprent, radio, televisie) is Kengels en Kafrikaans aan die orde van die dag. Dit het ’n wesenlike deel van ons "bevryding" geword; die vrug van stryd. Die ironie is dat hierdie bevryding ons ook ingeperk het. Sommige woorde met groot seggingskrag mag nie meer gebruik word nie. Maar ons kan redeneer: "’As ek ’n woord nodig het, moet hy nie deur ander se vooroordele vasgeketting lê nie’" (Dan Sleigh, Wals met Matilda, Kaapstad: Tafelberg, 2011, p 239). Wat in die neologismes Kafrikaans, Kengels en Kenglish ononderhandelbaar is, is die aanvangsletter, want dit gee optimaal uitdrukking aan die werklikheid van die nuwe Suid-Afrika.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top