Antoinette sê ... deur Antoinette Pienaar: ’n lesersindruk

  • 0

https://naledi.co.za/product/antoinette-se-antoinette-pienaar/

Antoinette sê …
Antoinette Pienaar
Naledi
SKU: 9781928530619

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

“Vreugde en verdriet is twee pasmaats: die een sonder die ander sal maak vir ’n saai en vaal lewe” (bl 126).

Mense wat gereeld na Radio Sonder Grense (RSG) luister, het waarskynlik al gehoor van “die kruietannie”. Gewoonlik is jy in jou kar, in die middel van die kruipende stadsverkeer met die radio aan, besig om te probeer jaag van punt A na punt B. Die volgende oomblik word jy meegesleur na die eenvoudige(r) lewe op Theefontein. “Ek besef elke dag,” skryf Pienaar in haar nuwe boek, “hoe genadeloos vinnig die lewe geword het en hoe hoog die prys is wat ons elkeen betaal om ’n ‘lewe te maak’” (125). Weg, weg, ver weg na die Karoo.

En ook “oom Johannes”, by wie Pienaar al 20 jaar lank die geheime kennis van medisinale kruie leer. Oom Johannes kan mens beskryf as wat tipies bekendstaan as ’n “organiese intellektueel”. Dit is daardie soort mense wat hulle kennis nie op die skoolbanke verwerf het met baie grade en titels nie, maar ’n rare soort kennis bekom het deur die bepaalde pad wat hulle deur die lewe gestap het.

In Antoinette sê … val die fokus egter nie weer op kruie nie. Die boek is opgedeel in 38 hoofstukkies, wat almal betreklik kort is. Boeke met sulke kort hoofstukke lees bykans altyd lekker. Die hoofstukke is nie so lank dat jy sukkel om aandag te behou nie, en wanneer jy ’n breuk wil vat, dan is jy pal in die versoeking om net nog enetjie, en net nog enetjie te lees. En voor jy jou kom kry, dan is die hele boek verby.

.........
Die lewe op Theefontein is ’n harde en onkonvensionele lewe, maar met eiesoortige vreugdes en die vrede wat slegs plekke soos die Karoo kan bied – gestroop van die wêreldse gejaag na klatergoud. Daar is sommige van die verhale wat mens verbaas met die soort van verbeelding wat die skrywer aan die dag lê. Dit is die soort verbeelding wat wêrelde soos die Karoo by ’n mens losmaak, veral by ’n jong mens.
.........

Die lewe op Theefontein is ’n harde en onkonvensionele lewe, maar met eiesoortige vreugdes en die vrede wat slegs plekke soos die Karoo kan bied – gestroop van die wêreldse gejaag na klatergoud. Daar is sommige van die verhale wat mens verbaas met die soort van verbeelding wat die skrywer aan die dag lê. Dit is die soort verbeelding wat wêrelde soos die Karoo by ’n mens losmaak, veral by ’n jong mens. En so gepraat van jonk wees, Pienaar onthul ook nogal heelwat van haarself en haar jongmensjare in die boek. Die gesin het lank op Carnarvon gewoon, waar haar ouers by haar ’n lewenslange liefde vir plante en woorde gekweek het. ’n Goeie voorbeeld van so ‘n verhaal wat die verbeelding nogal toets, is die openingsverhaal, “Ons werf het ’n gesig.” Die daaropvolgende “Die windpomp” is nogal in ’n soortgelyke trant geskryf. Die twee verhale laat mens tog vir ’n sekonde wonder of jy nie dalk ’n ander boek moes gekies het nie, maar dit is gelukkig nie hoe die res van die boek uitspeel nie; inteendeel.

Die staaltjies wat hier opgeteken is, is uiteenlopend, maar daar is tog sommige temas wat herhaaldelik na vore tree, waarvan die belangrikste sekerlik diere is. Oor diere skryf Pienaar: “My liefde vir diere kom uit die gene van my voorvaders, veral van my oupa Schutte se kant af” (113). Telkens in die boek keer Pienaar maar weer en weer terug na die diere wat haar dae en lewe vul. Daar is haar trop windhonde. Sy beskryf haar windhonde as haar “geesgenote”. Die hond aanvaar die mens “net soos ek is”. Daar is die “romanspinnekoppe”, wat eintlik nie regtig spinnekoppe is nie. En moenie vergeet van die katte en die hoenders nie. Om die katte en die honde uit mekaar se hare te hou, is ’n hele storie uit eie reg. En in “’n Uber vir ’n ystervark” word die leser getrakteer op Pienaar se stryd teen ‘n ystervark wat in die donker ure van die nag aan haar honde se kos weggelê het.

Wanneer ’n mens deur die blaaie van Antoinette sê … wandel, dan is dit moontlik dat jy Pienaar se stem in jou geestesoor die stories sal hoor vertel soos wat jy voortlees. Dit is wat met my gebeur het; miskien het andere ook dié ervaring. Die diere, die mense, die natuur en die Karoo – dit is wat lesers te verwagte kan wees wanneer hulle hierdie boek optel.

Maar daar is ook verhale oor die “dieper dinge”. Pienaar skryf sielvol oor haar ouers en familie, oor die droogtes in die Karoo, asook oor haar eie opstandigheid teen die COVID-19-pandemie. En dan is daar die aardse wysheid van oom Johannes wat telkens deurskemer, wie se leringe verder as net die kruie strek en wat ook kruie vir die siel optower. “Ek is ’n hartstogtelike mens; ek het hartstogtelik lief en haat hartstogtelik” (159), skryf Pienaar in “Wat gaan aan in jou hart?” ’n Persoonlike hoogtepunt vir my was die verhaal “Roetine en ritueel”, maar daar is baie aan Antoinette sê … wat die boek die lees werd maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top