Antoinette Pienaar se Kruidjie roer my 'n ryk toevoeging tot ons kontreigeskiedenisskat

  • 3

Titel: Kruidjie roer my
Skrywer: Antoinette Pienaar
Uitgewer: Umuzi
ISBN: 9781415200599
Publikasiedatum: September 2008
Aantal bladsye: 160


 

 

Kontreiverhale is besig om hulle kop uit te steek in die Afrikaanse letterkunde, en verwoord die ryk erfenis van ons land en sy mense se gebruike en lewensfilosofie. Hierdie boek van Antoinette Pienaar, Afrikaanse sangeres en aktrise, is nog ? toevoeging tot hierdie genre en boekstaaf die helingskuns van die Karooveld op ? wyse wat eie is aan Antoinette se vertelstyl.

Die boek vergestalt Antoinette se ervaring van haar ontmoeting en sewe jaar se vakleerlingskap met die legendariese Griekwa-heler, oom Johannes Willemse. Die genesende eienskappe van die Karoo-kruie is oor ? periode van byna veertig jaar van oupa na kleinseun aangegee. Die geheime kennis van die veld het hom bekend gemaak as die bossiedokter wat vas glo aan die inherente helingskrag van die liggaam wat nie net fisieke heling stimuleer nie, maar ook emosionele genesing bewerkstellig: die genesing van binne af buite toe.

Antoinette het op ? reis na Wes-Afrika serebrale malaria opgedoen wat ernstige lewer- en nierskade veroorsaak het. Sy beland op die Karooplaas Theefontein in haar rooi bakkie, Dapper, waar oom Johannes haar oor ? periode van vyf maande met kruie behandel wat haar op ? geleidelike pad na genesing plaas. Sterk klem word gelê op die stimulering van genesing gerugsteun deur die geloof aan die helende eienskappe van die natuur.

Uit die staanspoor moet gesê word dat Kruidjie roer my nie ? mediese gids is nie, maar eerder die vergestalting van Antoinette se fisieke en emosionele ervarings van die gesondheidsvoordele van na aan die natuur te lewe. Oom Johannes Willemse openbaar ook merkwaardige lewenskennis wat so eie is aan die Griekwas, en dit herinner ons aan die ewe legendariese outa Lappies van Prins Albert wat internasionale bekendheid verwerf het met sy skeppendekunswerke en filosofiese lewensbeskouing.

Dit is interessant dat hierdie boek sterk dui op die postmodernistiese mediese beskouing waar daar vandag groter klem gelê word op die holistiese bio-psigo-sosio-spirituele benadering tot siekte en gesondheid in teenstelling met die suiwer biomediese benadering van moderne Westerse geneeskunde, wat meer klem lê op die behandeling van simptome eerder as op die stimulering van genesing. Die genesingsmodel is veral effektief vir die vele psigosomatiese siektes wat hoogty vier in die moderne samelewing, en nie effektief behandel kan word deur medikamente alleen nie.

Baie van die kruie wat bespreek word, bevat geen aktiewe farmakologiese bestanddele nie. Ander kan selfs nadelige gevolge inhou in hoë doserings, soos Antoinette dikwels ervaar het! Sommige van die kruiekonkoksies wat tradisioneel deur die inheemse bevolking gebruik word, mag wel genesende eienskappe openbaar, maar is nog nie aan deeglike navorsing onderwerp nie. Dit is bekend dat plantaardige produkte baie fitochemikalieë bevat wat gesondheidsvoordele inhou en minder toksies kan wees as menige allopatiese geneesmiddels.

Hierdie boek is meer ? verhaal van die emosionele herstel wat met fisieke genesing gepaard gaan, geskryf in die idioom so eie aan die Karoostilte. In die jare negentig het Antoinette haar Karoo-menswees met die volk gedeel in die gewilde Vrydagmiddag-RSG-program van Amore Bekker, Tjailatyd. Op die plaas het sy haar siel begin kos gee, en daaruit het ook haar liggaamlike herstel gevloei.

Die waarde van hierdie publikasie lê daarin dat dit vir ons ? kykie gee in die hart van die Griekwa, wie se stem vir so lank stil was! Dit is ? ryk toevoeging tot ons kontreigeskiedenisskat.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Maria Pienaar

    Ek stel belang om die boek te koop. Moet ek dit direk van u/hulle bestel? Wat is die prys van die boek?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top